Michael Fred Phelps II (Baltimore, 30 Junie 1985) is 'n Amerikaanse swemmer. Hy het in sy loopbaan altesaam 23 goue Olimpiese medaljes ingepalm, meer as enige ander atleet in die geskiedenis van die moderne Spele.
Phelps het tydens die Olimpiese Somerspele van 2004 agt medaljes verower. Ses hiervan was goue medaljes.
Tydens die Olimpiese Somerspele van 2008 het hy nog agt goue medaljes gewen. Dit besorg aan hom die rekord vir die meeste goue medaljes tydens 'n enkele Olimpiese Spele gewen - 'n totaal van agt, een meer as Mark Spitz, die vorige rekordhouer.[1]
Phelps het tydens die Olimpiese Somerspele van 2012 ses medaljes verower. Vier hiervan was goue medaljes.
Phelps het tydens die Olimpiese Somerspele van 2016 vyf goue medaljes gewen. Tydens die openingseremonie het hy as draer van die Amerikaanse vlag opgetree.[2]