Millennium Park is 'n nuwe vername burgersentrum in Chicago en een van die stad se belangrike bakens langs die oewer van die Michiganmeer. Die projek maak deel uit van burgemeester Richard M. Daley se ambisieuse idee om Daniel Burnham se oorspronklike Chicago-plan uit die jaar 1909 te verwesenlik.
Die beplanning het in Oktober 1997 en die boubedrywighede in Oktober 1998 begin. Die projek is in Julie 2004 voltooi. Millennium Park is op 16 Julie 2004 plegtig ingewy as deel van 'n driedaagse feestelikheid, wat onder meer 'n inwydingskonsert van die Grant Park-orkester en -koor ingesluit het. 300 000 mense het die inwydingseremonie bygewoon.
Millennium Park het sedertdien tot een van die mees spoggerige woonbuurte in die stad ontwikkel, en die plaaslike poskode 60602 is deur Forbes as die gewildste in die land aangewys, onder meer danksy nuwe luukse-geboue soos The Heritage at Millennium Park in 130 N. Garland-straat. Nuwe projekte soos Waterview Tower, The Legacy en Momo sal die gewildheid verder verhoog. Die gemiddelde prys vir 'n eiendom het volgens Forbes in 2005 VSA-$ 710 000 bereik.
Millennium Park maak deel uit van die groter Grant Park, een van die grootste openbare parke in die stad en 'n voortreflike voorbeeld van Chicago se pos-moderne argitektuur. Hier lê die McCormick Tribune-ysskaatsbaan, Wrigley Square se Peristyle, die Joan W. en Irving B. Harris-teater vir Musiek en Dans, AT&T Plaza, Lurie-tuin, die Chase-promenade en Trees in Millennium Park.
Die park behels drie bekende kunswerke: Cloud Gate, Crown Fountain en die Jay Pritzker-pawiljoen. Millennium Park word dikwels as die grootste daktuin ter wêreld beskou, aangesien dit bo-oor 'n uitgestrekte spoorwegterrein en parkeergarage gebou is.
Die Jay Pritzker-pawiljoen is een van die mees kenmerkende geboue in Millennium Park, wat volgens 'n ontwerp van die befaamde argitek Frank Gehry met 4 000 vaste en 'n bykomende 7 000 sitplekke in die grasperk opgerig is. Die pawiljoen met sy massiewe titaanpanele, wat soos 'n bekoorlike bloeisel of die seile van 'n groot skip lyk, weerspieël Gehry se tipiese styl.
Die Pritzker-pawiljoen huisves die Grant Park-musiekfees, die enigste reeks van buitelug-konserte met klassieke musiek, wat danksy die stedelike befondsing gratis toegang vir besoekers bied.
Oos van die pawiljoen span die enigste brug ter wêreld, wat deur Frank Gehry ontwerp is. Die voetgangerbrug met 'n lengte van 925 voet is net soos die pawiljoen van titaan gemaak en beskik oor 'n laag uit hardehout. Die brug kronkel soos 'n fladderende lint oor die nabygeleë Columbus Drive.
AT&T Plaza pronk met Cloud Gate, 'n skulptuur wat oor drie verdiepings strek en 110 ton weeg. Plaaslike inwoners het die bynaam The Bean - "Die Boontjie" - aan die kunswerk gegee. Die skulptuur is die werk van die wêreldbekende kunstenaar Anish Kapoor - sy eerste in die Verenigde State. Die kunswerk is danksy private skenkings teen 'n totale bedrag van VSA-$ 23 miljoen geskep.
Cloud Gate is 'n hoogs gepoleerde reflekterende staalskulptuur en versinnebeeld 'n kwiksilwerdruppel, wat nog net bokant die grond sweef voordat dit uiteindelik sou land. Die spieëlagtige oppervlak van die kunswerk reflekteer besoekers, die stadshorison en die hemel; dit het intussen die gewildste skulptuur in Chicago geword.
Crown Fountain, wat ter ere van Chicago se Cown-gesin vernoem is, is deur die Katalaanse konseptuele kunstenaar Jaume Plensa ontwerp. Dit is die eerste installasie van sy soort wêreldwyd. Deurskynende glasblokke is gebruik om twee torings van 50 voet elk teen die middel van swart graniet-plaza, wat met 'n ag duim diepe laag van water bedek word, op te rig. Agter die glasstene gesofistikeerde LCD-videoskerms aangebring, wat - sodra hulle verlig word - video's met die gesigte van naastenby duisend Chicagose burgers vertoon. Die video's versinnebeeld die etniese diversiteit van die stad, terwyl die gesigte van 'n klein waterval oorstroom word.
Die installasie is 'n grapperige moderne weergawe van historiese fonteine en hulle spuitgeute. Net soos water uit die oop monde van dié wesens gespuit het, bevat die video's spesifieke momente, wanneer die persoon haar of sy mond open, en skielik begin spesiale tuite water na die middel van die poel te spuit. Besoekers word uitgenooi om oor die waterbedekte plaza te loop om sodoende die indruk te kry dat hulle op water loop.
Lurie Garden is deur Gustafson Guthrie Nichol en die Nederlandse botanis Piet Oudolf as 'n nuwe botaniese tuin in die middestad van Chicago ontwerp. Die tuin lê tussen 'n nuwe orkes-pawiljoen, wat deur Gehry Partners ontwerp is, en die Renzo Piano Building Workshop se uitbreiding van die Chicago Art Institute. Die hele tuin is bo-oor die boonste dek van die Millennium-parkeergarage gebou. Sodra dit uitgegroei het, sal 'n reusagtige "gespierde" haag die binnetuin aan die noordelike en westelike kant omsluit.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Millennium Park. |