Die Misjna (Hebreeus: מִשְׁנָה, "herhaling", "afskrif", "studie"; afgelei van die werkwoord sjana, שנה, "om te herhaal", "om deur herhaling te leer") is die eerste groterige versameling in skrifvorm van die Joodse mondelingse tradisies wat bekend staan as die "Mondelingse Tora" en as grondslag vir die latere Ghemara dien. Misjna en Ghemara vorm saam die Talmoed. Dit is die eerste groot werk van die rabbynse letterkunde,[1] en word soms ook "kodeks van die wet" genoem. Die Misjna is in die 1ste en 2de eeu n.C. deur die Tannaïete (Misjna-geleerdes, Hebreeus: תנאים, Tannaïm; letterlik: "onderwysers") neergeskryf; die eindredaksie is deur Jehoeda haNasi aan die begin van die 3de eeu n.C. in Galilea gedoen.[2]
Volgens die Joodse tradisie het God aan Moses sowel 'n skriftelike Tora (die vyf boeke van die Pentateug) asook 'n mondelingse Tora geopenbaar. Die Misjna is neergeskryf in 'n tyd van vervolging toe daar gevrees is dat die mondelingse tradisies in vergetelheid kon raak en was dus 'n poging om die mondelingse Tora in skrif vas te hou.
Die taal van die Misjna is Hebreeus, met enkele sinne en woorde in Aramees[3] asook hier en daar 'n Griekse of Latynse leenwoord.[4]
Die Misjna bestaan uit ses ordes (sedarim, enkelvoud: seder, סדר), elk met sewe tot twaalf traktate (masegtot, enkelvoud: maseget, מסכת; letterlik: "weefsel"), altesaam 63, wat verder verdeel is in hoofstukke (perakim, enkelvoud: perek, פרק) en paragrawe (misjnajot, enkelvoud: misjna). Die term Misjna verwys dus na beide die hele werk asook na 'n enkele leerstelling.