Moersili I | |
---|---|
Koning van die Hetiete | |
Bewind | c. 1620-1590 v.C. (middelchronologie) |
Voorganger | Hattoesili I |
Opvolger | Hantili I |
Gade | Kali[1][2] |
Moersili I (ook bekend as Moersilis; Moersjili of Moersjilis) was 'n koning van die Hetitiese Ou Koninkryk. Hy het van omstreeks 1620-1590 v.C. (middelhronologie) regeer.[3] Hy was waarskynlik 'n kleinseun van sy voorganger, Hattoesili I. Sy gade was koningin Kali.[4][5]
Moersili was minderjarig toe hy die troon bestyg. Toe hy meerderjarig word, het hy Hattoesili I se oorloë in Noord-Sirië hervat.[6]
Moersili het die koninkryk Jamhad en sy hoofstad, Aleppo, verower – iets wat Hattoesili nie kon regkry nie. Daarna het hy 'n mars sonder presedent van 2 000 km suid tot in die hart van Mesopotamië gelei, waar hy Babilon in 1595 v.C. verwoes het. Dit is onseker hoekom hy Babilon verwoes het, maar William Broad het voorgestel dit was om graan in die hande te kry omdat die wolke van die Thera-vulkaanuitbarsting die Hetiete se oeste verklein het.[7]
Die strooptog op Babilon kon nie gewees het om sy heerskappy oor die streek uit te brei nie, want dit was eenvoudig te ver van Anatolië en die Hetiete se magsentrum. Daar word egter geglo die strooptog het 'n einde gebring aan die Amoritiese dinastie van Hammoerabi en die Kassiete toegelaat om mag oor te neem in 'n poging om hulle guns te wen.[8]
Dit kon ook gewees het dat Moersili die langafstandaanval geloods het om die militêre veldtogte van sy voorganger, Hattoesili I, te oortref.[9]
Toe Moersili na sy koninkryk terugkeer, is hy in 'n sluipmoordaanval vermoor in 'n sameswering wat gelei is deur sy swaer, Hantili I (wat die troon bestyg het), en Hantili se skoonseun, Zidanta.[10] Sy dood het 'n tydperk van sosiale onrus en die afname van sentrale gesag ingelei, gevolg deur die verlies van die verowerings wat hy in Sirië gedoen het.