Dié artikel het bykomende verwysings nodig vir verifikasie. |
Die Nag Hammadi-geskrifte, wat ook as Nag Hammadi-biblioteek bekend staan, is 'n versameling vroeg-Christelike tekste met 'n sterk gnostiese inslag wat in Desember 1945 naby die Egiptiese dorp Nag Hammadi deur plaaslike boere ontdek is. Die meeste van hierdie geskrifte, waaronder die Evangelie van Tomas, was voorheen onbekend of slegs in fragmente bewaar.
In Desember 1945 het sommige Egiptiese boere aan die voet van die Jabal-al-Tarif-rotshelling sowat elf kilometer noordoos van Nag Hammadi op soek na mis vir hulle velde. Hier het hulle op 'n geheimsinnige vonds afgekom – onder 'n rots het hulle 'n kruik met 'n hoogte van sowat een meter ontdek. Hulle het die kruik in stukke geslaan in die hoop om daarin goud te vind. Die kruik het egter dertien kodekse bevat wat in leer gebind was, waarvan twaalf uiteindelik bewaar gebly het.
Een teks, die kodeks XIII, het oorspronklik deel uitgemaak van kodeks VI, maar het verlore gegaan. Ongelukkig is kodeks XII grotendeels gebruik om die ander tekste saam te snoer.
Die boere het hulle vonds as waardeloos geag en aan 'n Koptiese priester gegee, en sy swaer het die vonds in Kaïro aan die aarts George Sobhi getoon. Die tekste is vir sowat 300 Egiptiese pond aan die staat verkoop en op 4 Oktober 1946 aan die Koptiese Museum oorhandig.
Die vonds bestaan uit dertien papirus-kodekse wat in leer gebind is en 'n versameling van 47 verskillende tekste bevat. Van sommige tekste is meer as een eksemplaar gevind sodat daar in totaal 53 tekste ontdek is. Die manuskripte dateer uit die 3de en 4de eeu, alhoewel die tekste self vermoedelik reeds in die 1ste of 2de eeu ontstaan het. Die tekste is in Kopties geskryf, maar daar word aangeneem dat hulle vanuit Grieks vertaal is.
Dit is tans nie bekend nie wie die tekste versamel het nie. Hulle verteenwoordig moontlik die biblioteek van 'n onbekende gnostiese gemeenskap. Aangesien die tekste naby 'n Pagomiaanse klooster gevind is en hulle in materiaal gebind is wat gedeeltelik uit briewe en kwitansies van Pagomiaanse monnike bestaan, word daar nou ook vermoed dat die geskrifte vroeër deel van die klooster se biblioteek uitgemaak het.
Dit is nie duidelik of die tekste as 'n soort inligtingsbron vir die stryd teen gnostiese ketters saamgestel is of as gevolg van die 39ste Paasfeesbrief van Athanisius as ketterse geskrifte uit die kloosterbiblioteek verban is.
Die geskrifte, wat gedeeltelik ernstig beskadig is, is ná hulle rekonstruksie as enkeltekste gepubliseer. Die eerste uitgawes is deur Martin Krause en Pahor Lahib en deur Johannes Leipoldt en Hans-Martin Schenke. Eers sedert 1977 is die Nag Hammadi-geskrifte danksy 'n Engelse vertaling aan 'n breë publiek bekend gestel. Nag Hammadi is nou naas Qumran die belangrikste vonds vir navorsing in verband met die vroeë Christendom en die gnostisisme.
Die geskrifte het hulle oorsprong in verskillende rigtings van die Gnosis en verteenwoordig naas Valentiniaanse ook tekste wat by die Sethiaanse Gnosis gereken word. Daarnaas sluit die versameling ook tekste wat onder 'n suiwer Christelike invloed geskryf is. Die Christelike rigting het homself as die juiste interpretasie van die Christendom beskou en sodoende die teologiese spekulasie binne die kerk sterk bevorder. Ander tekste is hermeties van aard of bevat wyshede, terwyl ander hoegenaamd nie in verband met die Gnosis staan nie soos byvoorbeeld 'n fragment van Plato se werk oor die staat.