Nenetsië Ненёцие автономной ӈокрук | ||||
Die ligging van Nenetsië in Rusland. | ||||
Politieke status | ||||
Land | Russiese Federasie | |||
Federale distrik | Noordwestelike | |||
Ekonomiese streek | Noordelike | |||
Stigting | 15 Julie 1929 | |||
Regering | ||||
Hoofstad | Narjan-Mar | |||
Leier | Igor Fjodorof[1] | |||
Amp | Goewerneur | |||
Wetgewer | Raad van Afgevaardigdes | |||
Bevolking | ||||
Sensus | 2010 | |||
Totaal | 42 090 | |||
Volgorde | 83ste | |||
Digtheid | 0,24/km2 | |||
Stedelik | 67,8% | |||
Plattelands | 32,2% | |||
Statistiek | ||||
Oppervlakte | 176 700 km2 | |||
Volgorde | 20ste | |||
Tydsone | UTC+04:00 | |||
Registrasienommer | 83 | |||
Amptelike tale | Russies | |||
Webtuiste | http://www.adm-nao.ru/ | |||
Wapen en vlag | ||||
| ||||
|
Nenetsië (Russies: Ненецкий автономный округ, Nenetski Aftonomni okroeg; Nenetsies: Ненёцие автономной ӈокрук, Nenjotse aftonomnoi ɲokroek), ook bekend as die Nenets- Outonome Okroeg, is ’n outonome okroeg (’n deelgebied) van Rusland. Die hoofstad is Narjan-Mar.
Dit het ’n oppervlak van 176 700 km2 en volgens die Russiese sensus van 2010[2] ’n inwonertal van 42 090.
’n Plan om Nenetsië en Archangelsk-oblast te verenig is op 13 Mei 2020 deur die goewerneurs van albei deelgebiede voorgelê[3], en ’n referendum is vir September dié jaar beplan.[4] Die plan het egter groot teenstand gekry.[5]
Op 2 Julie 2020 was Nenetsië die enigstes deelgebied in die federasie met meer kiesers wat vir die plan as teen die plan gestem het. Die vereniging, wat reeds uitgestel was, is as gevolg daarvan heeltemal afgestel.[6]
Die arktiese ekologie van die streek het ’n paar unieke eienskappe wat flora en fauna betref vanweë die uiterse temperature. Ysbere en taksons eie aan die Barentsseestreek word hier aangetref.[7]
Die outonome okroeg beslaan ’n gebied van sowat 177 000 km2,[8] meer as vier keer soveel as dié van Switserland en sowat die helfte van dié van die Amerikaanse deelstaat Missouri.
Daar is ’n paar skiereilande in die gebied – van wes na oos is hulle die Kanin, Swjatoi Nos, Roesski Zaworot en Joegorski. ’n Paar eilande kom aan die kus voor, waarvan die belangrikstes (van wes na oos) Kolgoejef, Sengeiski, Dolgi, Goeljajefskije Kosjki, Lowetski, Pesjakof, Dolgi, Bolsjoi Zelenets, Waigatsj, Oleni en Mestni is. Van hulle is Kolgoejef en Waigatsj verreweg die grootste.
Die eerste keer dat die Nenetsiërs genoem word, is in die 11de-eeuse Primêre Kroniek,[9] ’n kroniek van Kiëf-Roes tussen omstreeks 850 en 1110; dit is oorspronklik omstreeks 1113 deur Nestor die Kroniekskrywer saamgestel. In dié tyd was Kiëf-Roes onder die invloed van Nowgorod.[9] Teen die einde van die 15de eeu het Nowgorod se invloed begin afneem en is die gebied deur Moskowië beheer.[9] In 1499 is Poestozjorsk (Пустозёрск, letterlik "Verlate Mere") gestig en dit het ’n belangrike militêre, kulturele, administratiewe en handelsentrum geword.
Teen die 18de eeu was die gebied deel van die Mezenski Oejezd.[9] In 1891 is Petsjorski Oejezd gestig en in 1896 Neskaja Wolost.[9] Voor die stigting van die outonome okroeg het ’n deel van die gebied tot Mezenski Oejezd en ’n ander deel tot Izjmo-Petsjorski-oejezd behoort.[9]
Die streek wat nou as die Nenets- Outonome Okroeg bekend is, is amptelik op 15 Julie 1929 deur die Sowjetunie gestig.[9] In die 1930's is verskeie gebiede en eilande by die streek gevoeg. In 1935 is Narjan-Mar verhef tot dorpstatus.[9] Die okroeg het sy huidige vorm in 1959 gekry.