Neutronium (soms verkort tot neutrium[1]) is ’n voorgestelde naam vir materiaal wat slegs uit neutrone bestaan. Die woord is in 1926 (voor die ontdekking van die neutron) deur die wetenskaplike Andreas von Antropoff uitgedink vir ’n veronderstelde element met ’n atoomgetal 0 wat hy boaan die periodieke tabel geplaas het.[2][3] Die betekenis van die woord het mettertyd verander en sedert die laaste helfte van die 20ste eeu word dit in niewetenskaplike geskrifte gebruik om te verwys na uiters digte stowwe soos in die kern van ’n neutronster.
Wetenskaplike publikasies gebruik dit selde omdat daar verskillende definisies van "neutronium" bestaan en daar taamlike onsekerheid is oor die samestelling van die kerns van neutronsterre.