Nicolas-Louis de Lacaille

Nicolas de Lacaille
Portret van Nicolas-Louis de Lacaille deur Melle Le Jeuneux in 1762

Gebore (1713-03-15)15 Maart 1713
Rumigny, Frankryk
Oorlede 21 Maart 1762 (op 49)
Parys, Frankryk
Nasionaliteit Frans
Vakgebied Sterrekunde en Geodesie

Nicolas-Louis de Lacaille (Rumigny, 15 Maart 1713Parys, 21 Maart 1762), voorheen soms de la Caille gespel, was 'n Franse geestelike wat as die grondlegger van die wetenskaplike bestudering van die sterrekunde en weerkunde in Suider-Afrika beskou kan word.

Biografie

[wysig | wysig bron]

De Lacaille is in Rumigny in Ardennes, oostelike Frankryk gebore. Hy het skool in Mantes-sur-Seine (nou Mantes-la-Jolie) bygewoon. Daarna het hy retoriek en filosofie aan die Collège de Lisieux gestudeer en later teologie aan die Collège de Navarre. Hy is behoeftig gelaat na die dood van sy vader in 1731, wat 'n pos in die huishouding van die hertogin van Vendôme beklee het. Sy vader se voormalige beskermheer Louis Henri, die hertog van Bourbon, het hom egter finansieel in sy studies ondersteun.[1]

Frankryk

[wysig | wysig bron]

Alhoewel hierdie Franse geleerde 'n geordende ab in die Rooms-Katolieke Kerk was, het hy sy lewe aan die natuurwetenskappe gewy. Hy het as wetenskaplike vir die Paryse sterrewag gewerk en onder andere die kusstreek van Nantes tot Bayonne opgemeet. Tussen 1739 en 1741 bereken hy opnuut Frankryk se breedte- en lengteligging en word vervolgens verkies tot lid van die Franse Koninklike Akademie vir die Wetenskap. Hy is as professor in wiskunde aangestel aan die Mazarin Kollege en daar is spesiaal vir hom 'n klein sterrewag ingeruim.

Suid-Afrika

[wysig | wysig bron]

Op sy eie voorstel stuur die Akademie hom na die Kaap om die sterre van die suidelike hemelruim te bestudeer. Hy arriveer op 19 April 1751 met die skip Le Glorieux en woon hier tot 8 Maart 1753.

Eerstens rig hy 'n eenvoudige sterrewag op die hoek van Strandstraat en Adderleystraat in Kaapstad op. In die twee jaar aan die Kaap doen hy die eerste wetenskaplike sterrekundige en weerkundige waarnemings hier en stel 'n kaart van die suidelike sterrehemel saam. Sy katalogus, Coelum australe stelliferum, bevat 10 035 sterre en 14 sterrebeelde. Een van die konstellasies noem hy Mons Mensa en vernoem daarmee Tafelberg. Daarmee word Tafelberg die enigste aardrykskundige eienskap wat met ‘n sterrebeeld vereer word. Hy bepaal die presiese lengtegraad waarop Kaapstad lê en help daarmee skeepsnavigators om hul horlosies reg te stel om so skeepsrampe te verminder.

Met die gebruikmaking van driehoeksmeetkunde en basispunte buite Aurora, noord van Piketberg en sy eie sterrewag in die stad bepaal hy die vorm van die aarde in die suidelike halfrond. Tot vele geleerdes se verbasing kom De Lacaille tot die ontdekking dat die aardbol in die suidelike halfrond effens afgeplat is. Eers in 1834 het die Suid-Afrikaanse sterrekundige Thomas Maclear bewys dat De Lacaille se berekeninge foutief was te wyte daaraan dat die skietlood van sy instrumente deur Tafelberg en die berge rondom Piketberg beïnvloed is.

De Lacaille se dagboek Journal historique du voyage fait au Cap de Bonne Espérance is 'n belangrike bron van algemene inligting oor die Kaap in die middel van die 18de eeu. Goewerneur Ryk Tulbagh en die Kaapse owerheid was hom goedgesind en het baie gedoen om sy verblyf aangenaam en suksesvol te maak. Buiten dat De Lacaille Tafelberg, Leeukop en Houtbaai opgemeet het, het hy ook die aandag gevestig op 'n bedenklike praktyk deur die VOC by die bemarking van wyn in Europa. Dikwels is wyn verkoop asof dit die puik produk van die landgoed Constantia was, maar in werklikheid was dit op die omliggende plase geproduseeer.

Gedenktekens

[wysig | wysig bron]
  • Op die hoek van Adderleystraat en Strandstraat is 'n gedenkplaat in 1903 aangebring met die woorde:

“On this site L’ Abbé de la Caille carried out his astronomical observations in the years 1751 and 1752 A.D.”

  • Buite Aurora aan die Weskus is 'n gedenkteken met die volgende bewoording:

“Hier is die terrein van Sir Thomas Maclear se Noordelike terminaal van 'n lengtegraadboogopmeting om die ware vorm van die aarde te bepaal. Die terrein is in 1838 besoek om soortgelyke opmetings wat in 1752 deur Abbe de la Caille in die omgewing gedoen was te bevestig. Hierdie was die eerste geodetiese opmetings wat in Suid-Afrika gedoen is.”

  • Die De la Caille-krater op die maan sowel as die De la Caille-teleskoop op Réunion dra sy naam.

Trivia

[wysig | wysig bron]

Op sy beurt gee De Lacaille die naam Halley se Komeet.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Glass, I.S. (2013). Nicolas-Louis de La Caille. Astronomer and Geodesist. Oxford: Oxford University Press. ISBN 978-0-19-966840-3.

Bibliografie

[wysig | wysig bron]