Die offertorium (uit Middeleeuse Latyns offertorium en Laat-Latyns offerre )[1] is daardie deel van 'n eucharistiese mis wanneer die brood en wyn wat tydens die diens gebruik word op die altaar geplaas word.
'n Kolleksie (insameling) van offer- of liefdegawes (aalmoese) uit die gemeente, wat byvoorbeeld tydens nie-eucharistiese dienste gebeur, val dikwels saam met dié seremonie.
Die eucharistiese teologie mag verskil tussen die Christelike denominasies waarvan die offertorium deel van die liturgie uitmaak.
In die Roomse rite word die term "Voorbereiding van die Gawes" [2] benewens die term "offertorium" gebruik,[3] – of eerder die term "Voorbereiding van die Gawes" vir die aksies van die priester, terwyl die term "Offertorium" gebruik word vir daardie deel van die mis waartydens dié aksie uitgevoer word, veral as daar na die gepaardgaande gelyksang verwys word.[4]
In Baptistekerke verwys die offertorium na die deel van die erediens waartydens kollekteborde of -mandjies deur beamptes versprei word, waarna dié tiendes en offergawes na die kanselruimte gebring word.
In die Roomse rite is die offertorium gewoonlik die eerste deel van die Liturgie van die Nagmaal. Die altaar word eers voorberei deur die altaardoek, afveelap, misboek en kelk daarop te plaas. Die brood en wyn – en miskien ander gawes of geskenke vir die armes of vir die kerk – word onder begeilign van offertoriumgelyksang na die altaar gebring. Die priester plaas eers die brood en daarna die wyn op die altaar terwyl hy die voorgeskrewe gebede voordra, waarna hy dit saam met die kruis en die altaar kan bewierook. Die priester en die mense kan ook bewierook word. Nadat hy sy hande aan die kant van die altaar gewas het, sê die priester die offertoriumgebed oor die offergawes.[5] Dit was oorspronklik die enigste gebed wat tydens die Roomse rite aangebied is.[6]
Daar is variasies in ander rites. In die Dominikaanse rite word daar byvoorbeeld 'n enkele gebed tydens die offertorium oor die brood en wyn voorgedra, wat reeds tydens 'n vroeëre deel van die mis op die altaar voorberei is.[7]
In die Bisantynse rite is daar 'n kort offertoriumgebed op dieselfde punt as in die Roomse rite. 'n Meer uitgebreide seremonie, wat die Liturgie van die Voorbereiding genoem word, vind voor die openbare deel van die viering van die Goddelike Liturgie plaas.[6]
In die Roomse rite word die prosessie wat die offergawes bring deur die offertoriumgelyksang begelei, en dié gelyksang kan ook die offertorium begelei selfs al is daar geen prosessie nie.[8] Vóór 1970 het die priester die gebed oor die offergawes in stilte gesê omdat die gemeente op 'n vroeëre stadium tydens die offertorium 'n psalm gesing het, of 'n refrein herhaal het nadat 'n solis die verse van die psalm gesing het.[6] In die Trentse mis het slegs die koor dié refrein alleen volgens 'n ingewikkelde toonsetting gesing. tot 'n uitgebreide omgewing gesing. Die priester het dié refrein aan die begin van die offertorium gelees, nie net in 'n stille mis (missa lecta) wat met geen sang gepaardgegaan het nie, maar ook tydens die plegtig mis (missa solemnis) .
Die Book of Common Prayer van die Kerk van Engeland uit 1662 bevat offertorium-lesings wat op hierdie punt gelees moet word. Die huidige praktyk in Anglikaanse kerke gee voorkeur aan die sing van 'n gemeentegesang (die sogenaamde offertoriumgesang) of 'n anthem (afgelei van antifoon) wat deur die koor gesing word, en dikwels albei. In sommige kerke word musiek tydens die offertorium deur 'n orrelis verskaf.
Tydens die offertorium of onmiddellik daarvoor word 'n geldinsameling vir die armes of vir die kerk gehou. Dié offer- of liefdegawes kan ook tipes geskenke insluit. In die rites van die Roomse mis word dit saam met die brood en die wyn na die altaar gebring, maar dit mag nie op die altaar geplaas word nie.[8]
In baie Baptiste- en Metodistekerke word 'n kolleksieplaat of -mandjie gereeld tydens die offertorium gebruik om die offer of liefdesgawes in te samel. Dit word dan na die kansel- of liturgiese ruimte gebring.