Die Pruisiese provinsie Oos-Pruise was vanaf die stigting van die Duitse Ryk in 1871 tot in die jaar 1945 die mees oostelike landsdeel van Duitsland. Hier was sowel die mees noordelike asook die mees oostelike punt van die Duitse Ryk geleë. Die gebied is in 1945 voorlopig onder respektiewelik Poolse (die suidelike deel van Oos-Pruise) en Sowjet-administrasie (die noordelike deel) geplaas, maar de facto respektiewelik by die Poolse en die Russiese staatsgebied ingelyf. Sedert 1992 maak die gebied ook in volkeregtelike opsig deel uit van respektiewelik Pole en die Russiese Federasie. Die Russiese gedeelte vorm tans die Oblast Kaliningrad.
Die Duitse Demokratiese Republiek (Oos-Duitsland) het die nuwe grenslyn reeds in 1950 formeel erken, die Bondsrepubliek Duitsland (1949-1990 Wes-Duitsland) het dit in 1972 eers indirek en later, met die Duits-Poolse Grensooreenkoms wat op 14 November 1990 onderteken is, uiteindelik ook formeel erken.
Die Ou Pruiseland was die stamland van die Pruise, 'n Baltiese volk wat verwant aan die Litauers en Lette was. Ná die verowering deur die Duitse Orde het die Ordensstaat ontstaan wat tydens die Reformasie in die wêreldlike hertogdom Pruise omgeskep is. Vanweë die dinastiese vereniging met Brandenburg is na die gebied ook as Brandenburgse Pruise verwys. Die Brandenburgse keurvors Friedrich III het hom in 1701 in die Oos-Pruisiese hoofstad Koningsberg (Duits Königsberg, tans Kaliningrad) onder die naam Friedrich I self as koning van Pruise bekroon.
Ná die Eerste Poolse Deling in 1772 is kleiner dele van die Poolse Koninklike Pruise, wat by die Koninkryk Pruise ingesluit is, by die gebied ingelyf wat vervolgens tot Oos-Pruise hernoem is.
Die gebied in die noordooste van Europa is eeue lank as die "Wilde Ooste" van Duitsland beskou - 'n grotendeels ongerepte land wat net vir waagmoedige setlaars en avonturiers as geskik geag is. Omstreeks 1900 het kriminalistiese jaarboeke die gebied as 'n provinsie met hoë misdaadsyfers en drankmisbruik beskryf.[1]