Orfisme of Orphisme (Grieks: Ὀρφικά) is ’n stel godsdienstige leerstellings en praktyke[2] wat ontstaan het in die Antieke Griekse en Hellenistiese wêreld,[3] sowel as onder die Thraciërs.[4] Dit word verbind met vermeende geskrifte deur die mitiese digter Orfeus, wat na Hades (die onderwêreld) gegaan en teruggekeer het. Orfiste het ook Persefone aanbid wat elke jaar vir ’n seisoen na Hades gegaan en dan teruggekeer het, asook Dionisos of Bacchus (wat ook na Hades gegaan en teruggekeer het).
Orfeus was na bewering ook verantwoordelik vir die Dionisiese misterieë, ’n stel rituele om ’n mens van inhibisies te bevry sodat die individu na ’n natuurlike toestand kon terugkeer,[5] en die Orfiese Gesange. Gedigte met duidelik Orfiese denkrigtings is teruggespoor na die 6de eeu v.C.[6] en graffiti uit die 5de eeu v.C. verwys blykbaar na Orfiste.[7]
Die hoofelemente van Orfisme verskil soos volg van die gewilde Antieke Griekse godsdiens:
Die Orfiese geskrifte is genealogiese werke wat moontlik deur Nabye Oosterse modelle beïnvloed is. Die hoofstorie is: Dionisos (in sy inkarnasie as Zagreus) is die seun van Zeus en Persefone. Zeus maak die seun sy erfgenaam omdat hy moet weggaan weens sy vrou, Hera, se jaloesie omdat die kind se ma ’n ander vrou is. Die Titane is woedend oor dié erflating en met Hera se aanmoediging besluit hulle om die kind te vermoor. Hulle lok hom met ’n spieël en speelgoed, vermoor en eet hom. Atena red sy hart en vertel vir Zeus van die misdaad; hy stuur weer ’n weerligstraal na die Titane. Die roet wat hieruit ontstaan en waaruit die sondige mens gebore word, bevat die liggame van die Titane en Dionisos. Die mens se siel (die Dionisos-faktor) is dus goddelik, maar sy liggaam (die Titaanse faktor) hou die siel gevange.
Daar is dus verklaar die siel keer 10 keer terug na ’n gasheer en is vasgevang deur die wiel van hergeboorte.
Verskeie fragmente van tablette uit die 4de eeu v.C. en later is in grafte in onder meer Griekeland en Italië ontdek wat saam ’n idee gee van wat die Orfiste geglo het oor die lewe ná die dood. Dit sluit in: Wanneer iemand in die onderwêreld aangekom het, moes hy sekere hindernisse oorkom; hy moes seker maak hy drink van die waterpoel van Mnemosune ("Geheue") en nie dié van Lete ("Vergeetagtigheid") nie; hy moes sekere uitdrukkings gebruik om hom voor te stel en om die heersers van die onderwêreld aan te spreek.[9]