Ou Engels ( Englisċ, uitgespreek [ˈeŋɡliʃ] ), of Angelsaksies, is die vroegste aangetekende vorm van die Engelse taal, wat in die vroeë Middeleeue in Engeland en suidelike en oostelike Skotland gepraat is. Dit is in die middel van die 5de eeu deur Angelsaksiese setlaars na Groot-Brittanje gebring, en die eerste Ou-Engelse literêre werke dateer uit die middel van die 7de eeu. Na die Normandiese verowering van 1066 is Engels vir 'n tyd lank as taal van die hoër klasse vervang deur Anglo-Normandies, 'n familielid van Frans. Dit word beskou as die einde van die Ou-Engelse era, aangesien die Engelse taal gedurende hierdie tydperk sterk beïnvloed is deur Anglo-Normandies. Dit het ontwikkel in 'n fase, wat nou bekend staan as Middelengels in Engeland en Vroeë Skots in Skotland.
Ou Engels is 'n Ingveoonse taal, 'n subgroep van Wes-Germaanse tale. Dit val onder dieselfde taalgroep as Oud-Saksies en Oud-Fries. Dit is ook baie soortgelyk aan Oudnoors (en moderne Yslands). Anders as moderne Engels, is Oud-Engels 'n taal wat ryk is aan morfologiese diversiteit en word dit basies gespel soos dit uitgespreek word. Fonologies beskik Ou-Engels oor 'n aantal foneme wat in latere stadiums verlore gegaan het, soos die /y: /en die /ç /. Daar was ook streekskleuring, soos dit nog steeds die geval is in moderne Engels.
Ou Engels het vyf naamvalle gehad; die feit dat moderne Engels net drie oor het, dui op morfologiese agteruitgang wat voortspruit uit die uitgebreide vermenging met Normandiese Frans na die Slag van Hastings in 1066. Die jaar 1066 word soms as die grenspunt tussen Oud- en Middelengels beskou. 'n Verdere gevolg van die Normandiese inval was die verreikende romanisering van Engels. Tot op daardie tydstip was Engeland meestal georiënteer op Noordwes-Europa. Na die inval raak die land betrokke by die kontinentale Europese kultuur. As gevolg hiervan is Engels in latere eeue sterk beïnvloed deur Frans. Bietjie minder as die helfte van Moderne Engels se woordeskat bestaan uit Romaanse woorde. By Ou Engels ontbreek dié invloed: dit is 'n volledige Germaanse taal, met Oudnoorse invloede deur kontak met die Wikings.
Van die belangrikste oorlewende werke van die Ou Engelse letterkunde is Beowulf, 'n epiese gedig; The Anglo-Saxon Chronicle, 'n kroniek van vroeë Engelse geskiedenis wat onder koning Alfred die Grote begin is, en Caedmon's Hymn, 'n Christelik godsdienstige gedig. Benewens The Anglo-Saxon Chronicle is daar ook ander prosawerke soos preke en hagiografieë, Bybelvertalings en vertaalde Latynse werke van die vroeë kerkvaders, regsdokumente soos testamente en praktiese werke oor grammatika, geneeskunde en geografie. Byna alle Angel Saksiese skrywers is anoniem, met enkele uitsonderings, soos Bede en Caedmon.
'n Beduidende aantal manuskripte van Angel Saksiese literatuur word bewaar in die Exeter-boek, die Vercelli-boek en die Junius-manuskrip.