Outopoiëse (αὐτo- auto-, d.i. self, ποίησις poiesis, d.i. skepping, produksie) verwys na 'n stelsel wat beskik oor die vermoë van selfherskepping en -onderhouding. Die term is in 1972 ingevoer deur die Chileense bioloë Humberto Maturana en Francisco Varela om die selfonderhoudende chemie van lewende selle te definieer. Sedertdien is die konsep ook toegepas op die velde van stelselteorie en sosiologie. Die oorspronklike definisie word aangetref in Autopoiesis and Cognition: the Realization of the Living (1e uitgawe, 1973, 2de 1980):
Outopoiëse is aanvanklik aangebied as 'n stelselbeskrywing wat na bewering die aard van lewende stelsels sou definieer en verklaar. 'n Kanoniese voorbeeld van 'n outopoiëtiese stelsel is die biologiese sel. Die eukariotiese sel, as voorbeeld, is opgemaak uit verskeie biochemiese komponente soos nukleïensure en proteïene, en is georganiseer in gebonde strukture soos die selkern, verskeie organelle, 'n selmembraan en 'n sitoskelet. Hierdie strukture, onderhewig aan 'n eksterne toevoer van molekules en energie, produseer die komponente wat, op hul beurt, voortgaan om die georganiseerde gebonde struktuur te onderhou wat weereens aanleiding gee tot hierdie komponente (iewat soos 'n golf wat deur 'n medium voortplant).
'n Outopoiëtiese stelsel staan teenoor 'n allopoiëtiese stelsel, soos 'n motorfabriek, wat roumateriale (komponente) verbruik om 'n kar saam te stel ('n georganiseerde struktuur) wat iets anders as die self (d.i. die fabriek) is. As die stelsel nietemin uitgebrei sou word vanaf die fabriek om die komponente in die fabriek se 'omgewing' in te sluit, soos toevoerkettings, toebehore en toerusting, werkers, handelaars, kliënte, kontrakte, mededingers, karre, vervangingsparte ensomeer, kan dit as 'n totale lewensvatbare stelsel wel as outopoiëties beskou word.
Daar is allerlei kritiek gebesig met betrekking tot die gebruik van die term in die oorspronklike konteks daarvan, as 'n poging om lewensvorme te definieer en verklaar, en omtrent die verskillende afgeleide gebruike daarvan, soos die toepassing daarvan op selforganiserende stelsels in die algemeen of sosiale stelsels in besonder.[3] Kritici het geargumenteer dat die term nie 'n geldige definisie vir lewende stelsels daarstel nie, en dat, weens die ekstreme selfverwysende taal wat dit sonder enige eksterne verwysing gebruik, dit in werklikheid 'n poging is om substansie te gee aan Maturana se radikale konstruktiwisme of solipsistiese epistemologie,[4] of wat Danilo Zolo[5][6] op sy beurt 'n "barre teologie" sou noem. 'n Voorbeeld is die bewering deur Maturana en Varela dat "wat ons nie sien nie, nie bestaan nie"[7] of dat realiteit 'n versinsel van waarnemers is. Die outopoiëtiese model is volgens Rod Swenson[8] "wonderbaarlik van die fisiese wêreld ontkoppel deur die verwekkers daarvan [...] (en is gevolglik) gegrond op 'n solipsistiese standpunt wat geen toegewing maak aan goeie oordeel en wetenskaplike kennis nie".