Pan Twardowski

Pan Twardowski en die duiwel. Skets deur Michał Elwiro Andriolli.

Pan Twardowski is in die Poolse folklore en letterkunde ’n towenaar wat ’n ooreenkoms met die duiwel aangaan.[1] Hy verkoop sy siel in ruil vir spesiale magte – soos om die gees van die Poolse koning Sigismund August se oorlede vrou op te roep – maar kom eindelik ’n tragiese lot oor. Die verhaal van Pan Twardowski bestaan in verskeie uiteenlopende weergawes en dien as basis vir talle fiksiewerke, insluitend een deur Adam Mickiewicz.[2]

Legende

[wysig | wysig bron]
Pan Twardowski word deur die duiwel ontvoer. Skildery deur Ignacy Gierdziejewski.

Volgens ’n ou legende is Twardowski ’n edelman (szlachta) wat in die 16de eeu in Krakow woon. Hy gaan ’n ooreenkoms met die duiwel aan in ruil vir groot wysheid en towerkragte. Twardowski wil egter die duiwel uitoorlê en laat ’n spesiale klousule by die ooreenkoms inwerk dat die duiwel slegs Twardowski se siel hel toe kan neem tydens ’n besoek aan Rome – ’n plek waarheen die towenaar nooit van plan is om te gaan nie.[1]

Met die duiwel se hulp verwerf Twardowski spoedig rykdom en roem en word hy uiteindelik ’n howeling van koning Sigismund August toe dié vertroosting in towerkuns en astrologie soek nadat sy vrou, Barbara Radziwiłł, gesterf het.[3] Twardowski kan glo die koningin se gees deur middel van ’n towerspieël oproep om die treurende koning te troos.[3] Die towenaar skryf ook twee boeke wat die duiwel aan hom dikteer – ’n boek oor towerkuns en ’n ensiklopedie.

Ná jare van lotsvermyding word Twardowski uiteindelik deur die duiwel om die bos gelei en nie in die stad Rome betrap nie, maar in ’n herberg met die naam Rzym ("Rome" in Pools).[1] Terwyl hy heimlik weggevoer word, bid Twardowski tot Maria, en sy sorg dat die duiwel sy slagoffer op pad hel toe laat los.[1] Twardowski beland so op die maan, waar hy vandag nog woon. Sy enigste kameraad is sy helper wat hy vantevore in ’n spinnekop verander het; van tyd tot tyd laat Twardowski hom op ’n spinnerakdraad af aarde toe sak om nuus van die wêreld af aan te dra.[1]

Historiese Twardowski

[wysig | wysig bron]

Sommige Duitse historici het voorgestel Twardowski was dalk ’n Duitse edelman wat in Neurenberg gewoon en in Wittenberg studeer het voordat hy na Krakow verhuis het.[1] Sy naam was vermoedelik Laurentius Dhur[3] en is verlatyns na Durus, wat op sy beurt vertolk is as Twardowski in Pools; durus en twardi beteken “taai” in onderskeidelik Latyn en Pools. Daar word ook bespiegel dat hierdie legende geïnspireer is deur die lewe van óf John Dee óf sy kollega Eduard Kelly, albei Engelse okkultiste wat ’n tyd lank in Krakow gewoon het.

Die titel pan wat as ’n universele eretitel en hoflike aanspreekvorm in moderne Pools gebruik word, soos "meneer" of "sir", is vir lede van die adelstand gebruik in die tyd toe die verhaal ontstaan het. Twardowski se doopnaam word soms as Jan aangegee, maar die meeste verhale noem geensins ’n voornaam nie. Dit kan wees weens ’n verwarring tussen "Pan Twardowski" en ’n Poolse Katolieke priester en skrywer met die naam Jan Twardowski.

Pan Twardowski in letterkunde, musiek en rolprente

[wysig | wysig bron]

Die legende van Pan Twardowski het ’n groot aantal Poolse, Oekraïnse, Russiese en Duitse digters, romanskrywers, komponiste, regisseurs en ander kunstenaars geïnspireer.

Twardowski se towerspieël.
Pan Twardowski se standbeeld in Bydgoszcz.

Een van die bekendste letterkundige werke waarin Pan Twardowski voorkom, is die grappige ballade Pani Twardowska deur Adam Mickiewicz (1822). In hierdie weergawe van die verhaal stem Twardowski in om hel toe geneem te word op voorwaarde dat die duiwel vir 'n jaar saam met sy vrou, Pani ("dame") Twardofska, woon. Die duiwel kies egter om weg te hardloop, wat tot gevolg het dat Twardowski se lewe gespaar word.

Pan Twardowski is ook ’n gewilde karakter in die folklore van die Krakowstreek. Hy kom byvoorbeeld in sommige van die bekende Krakowse Kersverhale (szopki) voor. Hy word gewoonlik uitgebeeld as ’n Poolse edelman wat óf op 'n haan ry óf op die maan staan.

Plekke verwant aan Pan Twardowski

[wysig | wysig bron]

Daar word gesê Pan Twardowski het in of naby Krakow, destydse hoofstad van Pole, gewoon. Verskeie plekke in Krakow maak daarop aanspraak dat dit die presiese ligging van Twardowski se huis is. Die towenaar het moontlik iewers naby die middestad gewoon, aan die Groot Mark of in Grodzkastraat, of oorkant die Vistularivier in die dorpie Krzemionki (wat nou deel van Krakow is).

Herberge en kroeë met die naam Rzym (“Rome”) kom oor die hele Pole voor. Baie beweer hulle is die een waar Twardowski die duiwel ontmoet het. Die oudste van dié herberge dateer uit die laat 17de eeu, ongeveer 100 jaar ná die tyd van Twardowski.

In 'n kerkkamer in Węgrów hang ’n gepoleerde metaalplaat wat na bewering die toewerspieël is wat eens aan Pan Twardowski behoort het.[4] Volgens ’n legende was dit moontlik om die toekoms in die spieël te sien totdat dit in 1812 deur Napoleon Bonaparte van Frankryk gebreek is toe hy in die spieël gesien het hoe hy voor Rusland terugval en sy ryk tot ’n val kom.[4]

Pan Twardowski het na bewering ook tyd in die stad Bydgoszcz deurgebring, waar ’n beeld van hom aangebring is in die venster van ’n huurkamer wat op die Ou Dorp afkyk. Om 13:13 en 21:13 gaan die venster oop en maak "Twardowski" sy verskyning, gepaardgaande met vreemde musiek en ’n duiwelse gelag. Hy maak ’n buiging, wuif met sy hand en verdwyn dan weer. Hierdie vertoninkie lok skares toeskouers.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 1,2 1,3 1,4 1,5 (pl) Hanna Widacka. "Legendy i fakty o Mistrzu Twardowskim". www.wilanow-palac.art.pl. Besoek op 20 Maart 2009.
  2. (pl) Mickiewicz, Adam. "Pani Twardowska". mickiewicz.kulturalna.com. Besoek op 20 Maart 2009.
  3. 3,0 3,1 3,2 Bugaj, Roman. "Mistrz Twardowski". www.wilanow-palac.art.pl (in Pools). “Mówią wieki”, nr 9, 1972. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Oktober 2007. Besoek op 20 Maart 2009.
  4. 4,0 4,1 Mielniczka, Jan (29 Oktober 2007). "Legendy o Węgrowie". www.wegrow.com.pl (in Pools). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 April 2014. Besoek op 19 Maart 2009.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]