Penlop (Dzongkha: དཔོན་སློབ་; Wylie: dpon-slob; ook gespel ponlop of pönlop) is ’n Dzongkha-term wat rofweg as "goewerneur" vertaal kan word. Die penlops van Bhoetan was voor die land se vereniging in ’n monargie die heersers van sekere gebiede, maar het nou ’n administratiewe amp. Penlops is nou ondergeskik aan die Huis van Wangchuck.
Bhoetan het tradisioneel uit nege provinsies bestaan: Trongsa, Paro, Punakha, Wangdue Phodrang, Daga, Bumthang, Thimphu, Kurtoed en Kurmaed. Laasgenoemde twee is onder een plaaslike administrasie verenig en dit bring die huidige getal goewerneurs in die land op agt te staan. Sommige heersers was penlops, terwyl ander die titel dzongpen (Dzongkha: རྗོང་དཔོན་; Wylie: rjong-dpon; ook jongpen of dzongpön) gehad het; dit kan ook as "goewerneur" vertaal word.[1]
Onder die land se ou dubbele regeringstelsel het die penlops en dzongpens teoreties oor hul eie gebiede geheers, maar hulle was dienaars van die Druk Desi. In die praktyk was daar egter min regeringsbeheer oor hulle, en die penlops van Trongsa en Paro het die res van die plaaslike goewerneurs oorheers.[2] En hoewel alle goewerneurs amptelik deur die Shabdrung Rinpoche (en later die Druk Desi) aangestel is, was sommige ampte soos die penlop van Trongsa de facto erflik. Penlops en dzongpens het dikwels ook ander ampte beklee, soos Druk Desi of Je Khenpo.[3]
In 1907 is die mag in Bhoetan gekonsolideer onder die 12de penlop van Trongsa, Ugyen Wangchuck, en het hy die eerste koning van Bhoetan (Druk Gyalpo, "Draakkoning") geword.[4] Die koning of aangewese troonopvolger van Bhoetan hou steeds vir ’n tydperk die titel penlop van Trongsa.