Pergamon en sy kulturele landskap met verskeie lae* | |
---|---|
Unesco-wêrelderfenisterrein | |
Die Tempel van Trajanus by Pergamon | |
Ligging van Pergamon in Turkye | |
Koördinate: 39°07′57″N 27°11′03″O / 39.13250°N 27.18417°O | |
Lande | ![]() |
Tipe | Kultureel |
Kriteria | i, ii, iii, iv, vi |
Verwysings | 1457 |
Streek† | Asië |
Inskripsiegeskiedenis | |
Inskripsie | 2014 (38ste Sessie) |
* Naam soos dit in die Wêrelderfenislys verskyn. † Streek soos deur Unesco geklassifiseer. |
Pergamon (Grieks: Πέργαμος of Πέργαμον, Latyn: Pergamum) was ’n antieke Griekse stad in die huidige Turkye. Dit is sowat 26 km van die Egeïese See geleë op ’n kaap noord van die rivier Caicus (die huidige Bakırçay). Dit het die hoofstad van die Koninkryk Pergamum geword tydens die Hellenistiese tydperk onder die Attalidiese dinastie, 281-133 v.C. Die belangrikste oorblyfsels van die antieke stad is vandag noord en wes van die moderne stad Bergama. Pergamon is in 2014 deur Unesco tot wêrelderfenisgebied verklaar.
Die Attalidiese koninkryk het ontstaan op die oorblyfsels van die eertydse Koninkryk Thracië. Die Attaliede, die afstammelinge van Attalus I wat in 281 v.C. aan die bewind gekom het ná die verval van die Koninkryk Thracië, was van die mees lojale Griekse ondersteuners van die Romeinse Republiek. Onder Attalus (241-197 v.C.) het hulle saam met Rome gespan teen Philippos II van Masedonië tydens die Eerste en die Tweede Masedoniese Oorlog en weer onder Eumenes II (197-158 v.C.) teen Perseus van Masedonië tydens die Derde Masedoniese Oorlog.
Vir hul steun teen die Seleukiede is die Attaliede beloon met die voormalige Seleukiede-gebiede in Klein-Asië.
Die Attaliede was intelligent en vrygewig. Griekse stede in hul gebiede het ’n mate van onafhanklikheid behou en hulle het geskenke gestuur na Griekse kulturele gebiede soos Delphi, Delos en Athene. Hulle het die akropolis van Pergamum herbou volgens die Akropolis in Athene. Toe Attalus III (138-133 v.C.) in 133 v.C. sonder ’n erfgenaam dood is, het hy die hele Pergamon aan Rome bemaak om ’n burgeroorlog te voorkom.
Die Ottomaanse sultan Murat III het twee groot albastervase van die ruïnes van Pergamum na Istanboel geneem waar dit in die Aya Sophia gebruik is.[1]
Die Groot Altaar van Pergamon is in die Pergamum-museum in Berlyn. Die voetstuk is nog in die Akropolis.
Ander ruïnes sluit in:
Pergamon se biblioteek was een van die bestes in die antieke Griekse beskawing. Toe die Ptolemeërs ophou om papirus uit te voer, hoofsaaklik weens mededinging en tekorte, het die inwoners van Pergamon ’n nuwe materiaal ontwerp met die naam "perkament", genoem na hul stad. Pergamon se biblioteek het glo 200 000 volumes bevat wat Markus Antonius later vir Cleopatra gegee het as ’n trougeskenk.
Die onderste deel van die Akropolis het die volgende geboue bevat:
Drie kilometer suid van die Akropolis, onder in die vallei, was die Asklepeion, die oord van die god van genesing, Asklepios. Hier kon mense met gesondheidsprobleme in die water van die heilige fontein bad, en Asklepios sou in die pasiënte se drome aan hulle verskyn om vir hulle te sê hoe om hulle siektes te genees. Argeoloë het al talle geskenke hier opgegrawe wat mense ná die tyd gelos het, soos klein terracotta-liggaamsdele, waarskynlik voorstellings van die dele wat genees is. Belangrike oorblyfsels van die Asklepeion sluit in:
Pergamon se ander belangrike gebou is die Serapis-tempel (Serapeum) wat later verander is in die Rooi Basilika-kompleks (of Kizil Avlu in Turks), sowat ’n kilometer suid van die Akropolis. Dit bestaan uit ’n hoofgebou en twee ronde torings. In die eerste eeu n.C. was die Christelike kerk by Pergamon in die hoofgebou van die Rooi Basilika een van die sewe gemeentes aan wie Openbaring gerig is (Openbaring 2:12).