Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
Petrichor is die aardse reuk wat geproduseer word wanneer reën op droë grond val. Die woord is saamgestel uit die Griekse πέτρα petra, wat "klip" beteken, en ἰχώρ īchōr, die vloeistof wat vloei in die are van die gode in die Griekse mitologie.
Die term is in 1964 deur twee CSIRO navorsers geskep, die Australiër Isabel Joy Bear en die Brit Richard G. Thomas, vir 'n artikel in die joernaal Nature.[1][2] In die artikel beskryf die skrywers hoe die reuk afgelei word van 'n olie deur sekere plante tydens droë tydperke, waarna dit opgeneem word deur die kleigrond en rotse. Tydens 'n reënbui word die olie in die lug vrygestel saam met 'n ander verbinding, naamlik geosmien (dit beteken letterlik "aard-geur"). Die chemiese formule van geosmien is: 1,10-trans-dimetiel-trans-(9)-dekalol. Geosmien is 'n metaboliese neweproduk van sekere aktinobakterieë, wat vrygestel word deur die nat grond tydens die vervaardiging van die kenmerkende reuk; osoon kan ook teenwoordig wees as daar weerlig was.[3] In 'n opvolgartikel het Bear en Thomas (1965) getoon dat die olie saadontkieming vertraag en vroeë groei van die plant rem.[4]
In 2015 het wetenskaplikes van die Massachusetts Instituut van Tegnologie (MIT) met hoëspoedkameras getoon hoe die reuk deur die lug beweeg.[5] Die toetse behels ongeveer 600 eksperimente op 28 verskillende oppervlaktes, insluitend ontwerpmateriale en grondmonsters.[6] Wanneer 'n reëndruppel op 'n poreuse oppervlak beland, vorm klein borrels lug uit die porieë, wat op die oppervlak dryf en aerosols vrylaat. Sulke aerosols voer die reuk, sowel as bakterieë en virusse in die grond. Reëndruppels wat teen 'n laer spoed beweeg is geneig om meer aerosols te produseer; dit dien as 'n verduideliking waarom die petrichor meer algemeen is na ligte reën.
Die mens se neus is uiters sensitief vir geosmin en is in staat om dit op te spoor teen konsentrasies van so laag as 5 dele per triljoen.[7] Sommige wetenskaplikes glo dat die mens die reënreuk waardeer omdat sy voorouers staatgemaak het op reënerige weer vir oorlewing.[8]
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Nederlandse Wikipedia vertaal. |