Die term plaasmoorde (Engels: South African farm attacks) verwys na moorde op plase, veral die moorde wat sedert die einde van die apartheidstelsel in 1994 op Suid-Afrikaanse plase gepleeg word.
Volgens beskikbare statistiek het daar tussen 1991 en 2001 6 122 plaasaanvalle plaasgevind wat tot 1 254 sterfgevalle gelei het.[1][2] Die getal sterfgevalle het in die volgende agt jaar meer as verdubbel tot 3 037.[3]
Plaasmoorde en die wreedaardige manier waarop dit uitgevoer word veroorsaak in beide Suid-Afrika en die buiteland[4][5] ontsteltenis. Van die slagoffers word gemartel en verkrag voordat hulle vermoor word. Ander plaasmoorde word soos ’n teregstelling uitgevoer.
Met die demokratisering van Suid-Afrika het van die wit gemeenskappe moontlik vir die eerste keer met die drastiese omvang van werkloosheid en armoede onder die meerderheid van Suid-Afrika se bevolking, en misdaad en geweld, wat moontlik daaruit voortspruit, in aanraking gekom.
Navorsing deur die Instituut vir Sekerheidstudies het bevind dat ’n boer se kans om vermoor te word, byna vier keer groter is as dié vir ’n gewone landsburger en twee keer so groot as dié van ’n polisielid.[6]
Swart en blanke boere is moontlik sagte teikens vir rowers. Daar word ook beweer dat die omstandighede van plaasmoorde waarby wit mense die slagoffers is, ook as gevolg van onderliggende rassespanning veroorsaak is. Daar blyk geen werklike rede vir die moor van slagoffers van plaasaanvalle te wees nie.[1] Volgens Moetsepe Matlala, voorsitter van die National African Farmers’ Union, verlaat wit én swart boere hul plase weens veiligheidsrisiko’s.[7]
Sommige Suid-Afrikaanse boere is egter onder die indruk dat plaasaanvalle en -moorde deur sekere elemente as ’n geskikte intimidasiemetode beskou word om boere van hulle plase te verdryf.
Daar word gevoel dat amptelike bewerings dat gewone roof die dryfkrag agter plaasaanvalle is nie verklaar waarom plaasaanvallers ná hulle rooftog in die plaashuis wag om die boer en sy gesin op ’n wreedaardige manier te vermoor nie. Plaasmoorde het sodoende ’n hoogs emosionele saak geword wat in sommige kringe as doelbewuste volksmoord beskou word.[8]
Volgens Boeta du Toit, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, dui navorsing egter daarop dat plaasaanvalle eerder misdaadgerig is. Die blote afgesonderdheid van plase en swak infrastruktuur soos slegte paaie maak van boeregemeenskappe sagte teikens wat nie maklik deur die polisie beveilig kan word nie. Rassisme en onverantwoordelike politieke uitlatings dra egter ook daartoe by dat ’n klimaat van brutaliteit in plattelandse gemeenskappe geskep word. Die invloed van drank en dwelms speel moontlik ook ’n rol, net soos swak ekonomiese omstandighede en werkloosheid.[verwysing benodig]
Die aanvalle word soms openlik deur politieke persoonlikhede, soos staatsleiers, tydens publieke geleenthede aangemoedig deur die sing van “struggle”-liedjies wat die dood van boere aanhits. Voorbeelde hiervan is Nelson Mandela,[9] Jacob Zuma[10] en Julius Malema.[11]
Vroeg in Mei 2016 het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se waarnemende nasionale polisiekommissaris, lt.genl. Khomotso Phahlane, tydens ’n mediakonferensie bevestig dat plaasmoorde deur die SAPD as prioriteitsmisdaad gehanteer sal word.[12] Die polisie hou nie doelgerig statistiek oor plaasmoorde nie, en die getalle deur hulle verskaf verskil wawyd van die wat byvoorbeeld deur Afriforum opgestel word.[13]