'n Planctus is 'n klaaglied of gedig wat rou of hartseer uitdruk. Dit was 'n gewilde literêre vorm in die Middeleeue en is in Latyn of in die volkstaal geskryf (bv. die planh van die troebadoers). Die planctus het algemeen as klaaglied by die afsterwe van bekende persone voorgekom, maar 'n aantal ander soorte is deur Peter Dronke geïdentifiseer. Die vroegste bekende voorbeeld, die Planctus de obitu Karoli, is omstreeks 814 met die afsterwe van Karel die Grote gekomponeer.[1]
Ander soorte planctus uit die 9de eeu sluit klaagliedere in die volkstaal vir vrouestem, Germaanse liedere van ballingskap, en Bybelse of klassieke temas (soos die Latynse Planctus cygni wat moontlik van Germaanse modelle afgelei is), in. Die vroegste voorbeelde van planctus-musiek kom voor in 10de eeuse manuskripte van die Abdy van Sint Martial van Limoges. Dronke het 'n aantal klaagliedere uit die 12de eeu geïdentifiseer wat handel oor Maria (genoem planctus Mariae) en die liefde (complaintes d'amour).[2] 'n Katalaanse klaaglied oor Maria (Augats, seyós qui credets Déu lo Payre) wat uit die middel van die 13de eeu dateer, en die "Klaagliedere van Maria" (in Hongaars bekend as Ómagyar Mária-siralom, maar in oudhongaars gekomponeer in die 1300's), is ook ontdek. 'n Planctus deur 'n anonieme monnik in die geselskap van Béla IV van Hongarye (bekend as die Planctus destructionis regni Hungariae per Tartaros) wat uit 1242 dateer en handel oor die Mongoolse inval van Europa is ook ontdek.