Die Poesta (Hongaars: puszta) is 'n uitgestrekte graslandskap in Hongarye, Suidwes-Slowakye en die Oostenrykse deelstaat Burgenland. Dit bestaan hoofsaaklik uit boomarme steppe met 'n kontinentale klimaat. Die Poesta is die mees westelike uitloper van die Eurasiese Steppe met sy kenmerkende plantegroei – 'n gebied wat van hier ooswaarts tot Mongolië strek, met enkele bergreekse soos Karpate en Oeral daartussen.
Die Hongaarse term Puszta as sinoniem vir 'n barre en verlate landskap het in die tydperk van die Turkse heerskappy gebruiklik geword toe die Hongaarse bevolking die platteland verlaat het om hulle in stedelike omgewings te hervestig. Eers later is enkele boerderye in die streek herstig, maar weens die gereelde oorstromings kon plase net tydelik bewerk word. Die kanalisering van die Theißrivier het nuwe probleme geskep soos die versouting van grond. Tans word groot hoeveelhede kunsmis in Hongarye se intensiewe boerderybedryf gebruik.
Natuurnavorsers het nog tot redelik onlangs aangeneem dat die Poesta eers in die 16de en 17de eeu deur grootskaalse ontbossing ontstaan het en vervolgens nog net as weiveld gebruik kon word.[1] Meer onlangse navorsing deur Hongaarse landskapsargeoloë het egter die bewys gelewer dat die Poesta reeds 35 000 jaar gelede as woudsteppe ontstaan en 8 000 jaar gelede geleidelik na 'n grassteppe verander het. Sy uitbreiding oor die afgelope 3 000 jaar is aan menslike invloede te danke – veral in die tydperk tussen die 14de en 18de eeu – wat van die landskap 'n sogenaamde kultuur- of sekondêre steppe gemaak het. Vervolgens is die gebied, veral gedurende die 20ste eeu, vir intensiewe boerdery gebruik. Groter samehangende gebiede van die oorspronklike steppelandskap het net op enkele plekke bewaar gebly, so langs die Theißrivier en in die Nasionale Hortobágy-park.[2]