Pous Adrianus VI | |
---|---|
![]() | |
![]() | |
Geboortenaam | Adriaan Florenszoon Boeyens |
Pontifikaat begin | 9 Januarie 1522 |
Pontifikaat eindig | 14 September 1523 |
Voorganger | Leo X |
Opvolger | Clemens VII |
Gebore | 2 Maart 1459 Utrecht, Nederland |
Sterf | 14 September 1523 Rome, Italië |
Ander pouse genaamd Adrianus |
Adrianus VI was die 218de pous van die Rooms-Katolieke Kerk van 1522 tot 1523. Hy was die eerste en tot nou (2009) enigste pous uit Nederland. Na sy dood is slegs Italianers tot pous verkies tot in 1978 toe Karol Wojtyla uit Pole tot Pous Johannes Paulus II verkies is. Adrianus is ook die tweede laaste pous wat sy doopnaam gehou het toe hy pous geword het (die laaste een was Pous Marcellus II).
Pous Adrianus VI[1] is gebore as Adriaan Florenszoon Boeyens op 2 Maart 1459 in Utrecht, Nederland. Hy was die seun van Floris of Florens Boeyens en sy vrou Gertruida. Hy kry skoolonderrig in Zwolle en vanaf 1478 studeer hy filosofie, teologie en kerkreg aan die Universiteit van Leuven. In 1489 word hy hoogleraar aan die Universiteit. Op 30 Junie 1490 word hy priester en pastoor van die Groot Begijnhof. Vanaf 1507 is hy leermeester van Karel V die kleinseun van Ferdinand II van Aragon. In 1515 vertrek hy na Spanje om Karel se belange te behartig. Op 18 Augustus 1516 word hy biskop van Tortosa, op 14 November 1516 hoof van die Inkwisisie van Aragon en op 1 Julie 1517 word hy bevorder tot kardinaal deur Pous Leo X. Op 9 Januarie 1522 volg hy Pous Leo X op as kompromie-kandidaat. Hy word op 31 Augustus 1522 gekroon deur kardinaal Marco Cornaro en regeer tot sy dood op 14 September 1523. Hy word opgevolg deur Pous Clemens VII. Die naam ‘Adrianus’ beteken 'inwoner van Adrië'.
Pous Adrianus VI[2] sien as sy vernaamste take die bestryding van die Reformasie, die hervorming van die Kerk en die vereniging van die Christelike magte teen die aanvalle van die Turke in Hongarye en die Griekse eiland Rhodos. Hy het uiters sober gelewe, wat hom gehaat gemaak het in Rome. Deur sy weifelende houding in komplekse probleme het hy die bynaam "videbimus" (Ons sal sien...) gekry. Aanvanklik het hy neutraal gestaan in die stryd tussen die politieke magte van sy tyd, hoewel hy goed bevriend was met keiser Karel V. Op 15 April 1523 dring hy aan koning Frans I van Frankryk 'n wapenstilstand met keiser Karel op, met die dreiging van ekskommunikasie en interdik. Dit het 'n totale breuk met Frankryk veroorsaak en op 3 Augustus 1523 sluit die pous hom totaal aan by keiser Karel. Op 5 Augustus 1523 word hy ernstig siek en sterf op 14 September.
Pous Adrianus VI het slegs een kardinaal aangestel.
![]() |
Wikimedia Commons bevat media in verband met Hadrianus VI. |
Saamgestel en vertaal uit die Nederlandse, Engelse, Duitse en Franse wikipedia en aangevul uit ander bronne soos aangedui.
Voorafgegaan deur Leo X |
Pous (Pontifex Maximus) 1522 – 1523 |
Opgevolg deur Clemens VII |
Voorafgegaan deur Lluis Mercader |
Biskop van Tortosa 1516 – 1522 |
Opgevolg deur Willem van Enckenvoirt |
Basis-URL: nl:Paus Adrianus VI