Pous Celestinus III | |
---|---|
![]() | |
Geboortenaam | Giacinto Bobone |
Pontifikaat begin | 30 Maart 1191 |
Pontifikaat eindig | 8 Januarie 1198 |
Voorganger | Clemens III |
Opvolger | Innocentius III |
Gebore | ± 1106 Rome, Italië |
Sterf | 8 Januarie 1198 Rome, Italië |
Ander pouse genaamd Celestinus |
Celestinus III[1] was die 175ste pous van die Rooms-Katolieke Kerk van 1191 tot 1198.
Pous Celestinus III is gebore as Giacinto Bobone (ook Jacinto Bobo of Hyacinto Bobo) ongeveer in 1106 in Rome, Italië, seun van Pietro Bobone. Hy was die eerste pous uit die Orsini familie. In 1126 word hy sub-diaken van die Lateraanse basiliek. Hy was 'n leerling van Pierre Abélard en het hom later verdedig teen kerklike kritiek oor sy rasionalistiese denke. In 1144 word hy kardinaal-diaken van Santa Maria in Cosmedin en in 1154 en 1172 reis hy na Spanje as pouslike legaat. Op vyf-en-tagtig jarige leeftyd op 30 Maart 1191 volg hy Pous Clemens III op en regeer tot sy dood op 8 Januarie 1198. Hy word opgevolg deur Pous Innocentius III. Die naam ‘Celestinus’ beteken 'hemelse'.
Pous Celestinus III[2] was 'n kompromie-kandidaat. Hy was slegs 'n diaken en nie priester toe hy verkies is nie. Op Paassaterdag 13 April 1191 word hy as priester gewy, op Paassondag daarna as biskop gewy en as pous gekroon. Op tweede Paasdag 15 April 1191 kroon hy Hendrik VI en sy vrou Constance van Sisilië tot keiser en keiserin. Ondanks die aansprake van die keiserin, hou Celestinus by die beleid van sy voorganger om Tancred van Lecce as koning van Sisilië te erken. Self na die dood van Tancred en sy seun en erfgenaam in 1194 en die verowering van Sisilië deur Hendrik, wou die pous nie Hendrik se aansprake op Sisilië erken nie. Self toe die keiser aanbied om op kruistog te gaan, het die pous nie van houding verander nie.
Celestinus ekskommunikeer in 1193 Leopold V van Oostenryk omdat hy Richard Leeuehart gevange geneem het terwyl hy van die kruistog af teruggekom het. Oostenryk word onder 'n pouslike interdik geplaas. Hy het egter nie Hendrik bestraf nie omdat Richard 'n bondgenootskap met Tancred teen die keiser gehad het.
In 1191 erken die pous die Duitse Orde (Teutoniese ridderorde) wat in 1190 gestig is tydens die derde kruistog om hospitale vir die siekes en gewondes te beman. Hy het ook die Orde van die Tempeliers en die Orde van Malta gesteun.
Die pous weier egter om 'n egskeiding aan koning Filips II van Frankryk van sy vrou koningin Ingeborg toe te staan en het koning Alfonso IX van Leon oortuig om sy verhouding met 'n Portugese prinses te laat staan..
Pous Celestinus het St. Malachy van Armagh, St. Bernward van Hildesheim (1193), St. Johannes Gualbert (1193) en St. Ubaldus van Gubbio (1192)heilig verklaar.
Aan die einde van 1197 wou Celestinus vrywillig aftree ten gunste van kardinaal Giovanni di San Paolo, maar die kardinale het dit nie toegelaat nie.
![]() |
Wikimedia Commons bevat media in verband met Coelestinus III. |
Saamgestel en vertaal uit die Nederlandse, Engelse, Duitse en Franse wikipedia en aangevul uit ander bronne soos aangedui.
Voorafgegaan deur Clemens III |
Pous (Pontifex Maximus) 1191 – 1198 |
Opgevolg deur Innocentius III |