Pous Gregorius I die Grote | |
---|---|
![]() | |
Geboortenaam | Gregorius Anicius |
Pontifikaat begin | 3 September 590 |
Pontifikaat eindig | 12 Maart 604 |
Voorganger | Pelagius II |
Opvolger | Sabinianus |
Gebore | ±540 Rome, Italië |
Sterf | 12 Maart 604 Rome, Italië |
Ander pouse genaamd Gregorius |
Sint Pous Gregorius I | |
---|---|
Gebore | ±540, Rome, Italië |
Sterfte | 12 Maart 604, Rome, Italië |
Vereer in | Rooms-Katolieke Kerk Oosters-Ortodokse Kerk Anglikaanse Gemeenskap Lutheranisme |
Heiligverklaring | 1295, Rome deur Pous Bonifatius VIII |
Feesdag | 3 September (Rooms-Katolieke Kerk) 12 Maart (Oosters-Ortodokse Kerk, Anglikaanse Gemeenskap, Lutheranisme) |
Beskermheilige | Musikante, studente, onderwysers[1] |
Gregorius I was die 64ste pous van die Rooms-Katolieke Kerk. In die Oosters-Ortodokse Kerk word hy Gregorius Dialogus genoem.
Pous Gregorius I is in Rome gebore ongeveer in die jaar 540. Sy oupagrootjie se pa was Pous Felix III. Sy pa se naam was Gordianus en sy ma was Sint Silvia. Op 3 September 590 volg hy Pous Pelagius II op en regeer tot sy dood op 12 Maart 604. Hy word opgevolg deur Pous Sabinianus. Die naam ‘Gregorius’ beteken 'wagter'.
Pous Gregorius I was baie beïndruk deur die reglement van die Benediktyne-kloosterorde. Hy het 'n biografie van Sint Benedictus van Nursia die stigter van die kloosterorde geskrywe waardeur die orde nog meer populêr geword het. Hy was ook 'n aanhanger van Augustinus van Hippo.
Gregorius staan bekend as 'n goeie administrateur en organiseerder. In 573 word hy prefek van Rome, maar besluit om monnik te word. Hy herorganiseer die finansies van die pousdom. By die invalle van die Lombarde het hy persoonlik na die verdediging van Rome omgesien en vir vrede onderhandel. Hy het Augustinus van Kantelberg as sendeling na Brittanje gestuur. Gregorius het die mag van die pous en die biskoppe uitgebrei. Hy lê die teoretiese basis vir die leiding van die kerk. Die Gregoriaanse Kerksang is na hom genoem hoewel dit reeds lank voor die tyd bestaan het.
Pous Gregorius I is bekend vir sy boek "Dialoog". Dit het die hagiografie (lewensbeskrywing van heiliges) lank beïnvloed. Die "Moralia in Job" oor die Bybelboek Job, is in die Middeleeue baie gelees. Van sy "Kommentaar op Hooglied" het ongelukkig net 'n klein deel behoue gebly. In die "Regula pastoralis" gee hy aanwysings vir priesters oor die uitvoering van hulle pligte. Gregorius I is een van die vier Kerkvaders van die Rooms-Katolieke Kerk.
Volgens 'n bekende legende voorspel hy die dood van die Heilige Serafina.
Pous Gregorius I is deur Pous Bonifatius VIII heilig verklaar in 1295. Sy feesdag is op 3 September in die Rooms-Katolieke Kerk en die Anglikaanse Kerk. In die Oosters-Ortodokse Kerk en die Evangelies-Lutherse Kerk in Amerika is dit op 12 Maart.
Pous Gregorius I is die beskermheilige van kerkskole, myne, koorsang, onderwysers, skoliere, studente, sangers, musikante, messelaars en knoopmakers. Hy word aangeroep teen jig en builepes.
![]() |
Wikimedia Commons bevat media in verband met Gregorius I Magnus. |
Saamgestel en vertaal uit die Nederlandse, Engelse, Duitse en Franse Wikipedia.
Voorafgegaan deur Pelagius II |
Pous (Pontifex Maximus) 590 – 604 |
Opgevolg deur Sabinianus |