Pous Gregorius VII | |
---|---|
Geboortenaam | Hildebrand van Sovana |
Pontifikaat begin | 22 April 1073 |
Pontifikaat eindig | 25 Mei 1085 |
Voorganger | Alexander II |
Opvolger | Victor III |
Gebore | ±1023 Sovana, Italië |
Sterf | 25 Mei 1085 Salerno, Italië |
Ander pouse genaamd Gregorius |
Gregorius VII was die 157ste pous van die Rooms-Katolieke Kerk.
Pous Gregorius VII is gebore as Hildebrand van Sovana (Ook Ildebrando Aldobrandeschi de Soana) ongeveer in 1023 in Sovana, Italië.[1] Op 22 April 1073 volg hy Pous Alexander II op en regeer tot sy dood op 25 Mei 1085. Hy word opgevolg deur Pous Victor III. Die naam ‘Gregorius’ beteken 'wagter'.
Pous Gregorius VII was hervormingsgesind soos sy voorgangers en het die kerk en die pousdom eerste gestel. In 1075 vaardig hy die dekreet 'Dictatus papae' uit, wat die pous die hoogste gesag in die kerk en die maatskappy maak. Dit het hom in konflik gebring met gevestigde belange van die adel. Wie stel biskoppe aan; die keiser of die pous? Die struweling wat as die Investituurstryd bekend staan, sou nog lank duur. Keiser Hendrik IV het voortgegaan om biskoppe aan te stel. Gregorius het hom tereggewys. Hendrik het 'n sinode van Duitse biskoppe bymekaar geroep in Worms op 24 Januarie 1076, wat gedwee die pous afgeset het. Die pous het toe Hendrik in 1076 geëkskommunikeer. Op 25 Januarie 1077 kom die keiser na Canossa om vergiffenis te vra. Matilda, gravin van Toskane en vrou van Godfried van Lotaringe, die broer van Pous Stefanus IX (X), het bemiddel. Hendrik se berou was geveins en drie jaar later ekskommunikeer die pous hom weer en sit hom bowendien af as keiser. Duitse biskoppe het teruggekap en sit Gregorius af op die sinode in Brixen op 16 Junie 1081 en kies Teenpous Clemens III. Hendrik trek met 'n leër na Rome met die hulp van Godfried van Bouillon, maar Gregorius word gered deur die Normandiër Robert Guiscard. Die pous moet egter vlug na Salerno waar hy op 25 Mei 1085 sterf.
Pous Gregorius VII is in 1606 deur Pous Paulus V heilige verklaar. Sy feesdag is op 25 Mei.
Saamgestel en vertaal uit die Nederlandse, Engelse, Duitse en Franse wikipedia en aangevul uit ander bronne soos aangedui.
Voorafgegaan deur Alexander II |
Pous (Pontifex Maximus) 1073 – 1085 |
Opgevolg deur Victor III |