Algemeen | |
---|---|
Naam | Propeen |
IUSTC-naam | Propeen |
Ander name | Propileen Metieletileen |
![]() |
![]() |
Chemiese formule | C3H6 |
Molêre massa | 42,081 g/mol |
CAS-nommer | 115-07-1 |
Voorkoms | kleurlose gas |
Fasegedrag | |
Smeltpunt | -185.2 °C |
Kookpunt | -47.6 °C |
Digtheid | 1.81 kg/m3 (teen 15 °C en 101.3 kPa) |
Oplosbaarheid | 0.61 g/m3 |
Suur-basis eienskappe | |
pKa | |
Veiligheid | |
Flitspunt | −108 °C |
Tensy anders vermeld is alle data vir standaardtemperatuur en -druk toestande. | |
Portaal ![]() |
Propeen is 'n onversadigde drie-koolstofketting-alkeen met die molekulêre formule C3H6. Dit staan ook bekend as propileen of metieletileen, het een dubbelbinding en is die tweede eenvoudigste lid van die alkeenklas koolwaterstowwe. Dit is 'n kleurlose gas met 'n flou petroleumagtige reuk.[1] Propileen wat van hernubare materiale gemaak word, word Bio-propileen genoem.[2]
Op 30 September 2013 het NASA aangekondig dat die ruimtevaartuig Cassini, 'n deel van die Cassini-Huygens-missie, klein hoeveelhede natuurlik propeen wat natuurlik daar voorkom, in die atmosfeer van Titaan met behulp van spektroskopie ontdek het.[3]
Propeen is die tweede belangrikste beginproduk in die petrochemiese industrie na etileen, met ongeveer 85 miljoen ton wat in 2013 gebruik is. Twee derdes van die propeen wat in die industrie gebruik word, word na polipropileen omgeskakel, en die res word meestal gebruik om propileenoksied, akrylnitril, komeen, butiraldehied, en akrielsuur te vervaardig. Polipropileen word gebruik in films, vesels, houers, verpakking, doppe, ens.[4]
Propeen word ook gebruik om isopropanol (propan-2-ol), akrilnitril, propileenoksied en epikloorhidrien te vervaardig.[5] In die industrie en werkswinkels word propeen gebruik as 'n alternatiewe brandstof vir asetileen vir die sweis en sny, soldeer en verhit van metaal.
Daar is drie hoof maniere waarop propeen geproduseer word: stoomkraak, olefienomskakeling en vloeistofkatalitiese kraak.
Die heersende tegnologie vir die vervaardiging van propeen is stoomkraaking en is dieselfde tegnologie wat toegepas word om etaan na etileen te verander. Hierdie twee omskakelings is die twee grootste prosesse in die chemiese industrie, volgens hul skaal[6] en die proses is een van die mees energie-intensiewe industriële prosesse. In hierdie proses ondergaan propaan dehidrogenering en die opbrengs van propeen is ongeveer 85 m% met 'n neweproduk, waterstof:
Die grondstof is nafta of propaan en die propeen kan geskei word van die grondstowwe deur fraksionele distillasie.
In die Phillips Olefin-omskakelingstegnologie word propileen onderling omgesit met etileen en 2-butene. Renium en molibdeen word as katalisators gebruik:[7]
Die tegnologie is gebaseer op 'n olefienmetatese-reaksie wat deur die Phillips Petroleum Company ontdek is[8][9] en propeen-opbrengste van ongeveer 90 m% word daarmee behaal.
'n Verwante proses is die metanol-na-olefiene / metanol-na-propeen prosese waarin sintetiese gas (sintesegas) na metanol omgeskakel word en dan word die metanol in etileen en / of propeen omgeskakel. Die proses produseer water as neweproduk. Sintesegas word vervaardig uit die reformasie van natuurlike gas of deur die stoom-geïnduseerde reformasie van petroleumprodukte soos nafta, of deur vergassing van steenkool. Sasol is aktief op die gebied by die produksie-aanleg vir sintetiese brandstof in Secunda.[10]
Vloeistofkatalitiese kraak word gebruik onder uiterste toestande (hoër katalisator-tot-olie-verhoudings, hoër stoominspuitingsnelhede, hoër temperature, ens.) om die hoeveelheid propeen en ander ligte produkte te maksimeer. Dit produseer ongeveer 20-25 m% propeen saam met groter volumes petrol en ander neweprodukte.[11]
Propeen ondergaan verbrandingsreaksies op 'n soortgelyke manier as ander alkene. In die teenwoordigheid van voldoende of oormaat suurstof, brand propaan om water en koolstofdioksied te vorm.
As daar onvoldoende suurstof is vir volledige verbranding, vind onvolledige verbranding plaas sodat koolstofmonoksied en / of roet (koolstof) ook gevorm kan word.