Purushartha (Sanskrit: पुरुषार्थ) beteken letterlik ’n "voorwerp van menslike nastrewing".[1] Dit is ’n sleutelbegrip in Hindoeïsme wat verwys na die vier belangrikste doelwitte in ’n mens se lewe. Die vier purusharthas is: dharma (etiek/pligte), artha (sukses/werk), kama (begeertes/passies) en moksha (bevryding/vryheid van die siklus van dood en hergeboorte/verlossing).[2][3]
Al vier purusharthas is belangrik, maar in ’n geval van konflik is dharma belangriker as artha en kama.[2][4][5] Moksha word beskou as die hoogste ideaal van ’n mens se lewe.[6] Daar is egter verskille onder Hindoes oor die volgorde.
Die woord "purushartha" is ’n samestelling tussen die Sanskrit-woorde purusha (पुरुष) en artha (अर्थ). Eersgenoemde beteken "oermens as die siel en oorspronklike bron van die heelal".[7] Laasgenoemde beteken in ’n sekere sin "doel", "voorwerp van begeerte" en "betekenis".[8] Saam beteken die woorde letterlik "doelwit van ’n mens" of "voorwerp van nastrewing".[1][9]
Die Amerikaanse professor in godsdiens, geskiedenis en geesteswetenskappe Alf Hiltebeitel vertaal purushartha as "doelwitte van die mens".[10]