Pōtatau Te Wherowhero | ||
Maori-koning | ||
Tekening deur George French Angas. | ||
Bewind | Junie 1858 - 25 Junie 1860 | |
Opvolger | Tāwhiao | |
Gade | Whakaawi Raharaha Waiata Ngawaero | |
Gebore | Omstreeks 1770-1800 | |
Gesterf | 25 Junie 1860 | |
Vader | Te Rauangaanga | |
Moeder | Parengaope |
Pōtatau Te Wherowhero (oorlede 25 Junie 1860) was 'n Maori-vegter, leier van die Waikato-stam, die eerste Maori-koning en die stigter van die Te Wherowhero-dinastie. Hy was eers net as Te Wherowhero bekend en het die naam Pōtatau ná sy troonbestyging in 1858 aangeneem. Namate dispute oor grond toegeneem het, het Te Wherowhero al hoe meer met die regering vasgesit.[1]
Te Wherowhero was die oudste seun van Te Rauangaanga, 'n prominente leier voor en gedurende die Musketoorloë van 1807-1845.[1] Toe Te Wherowhero naby die einde van die 18de eeu gebore is, het sy pa pas die oorlogshoofman van die Waikato-stamme geword. Te Wherowhero se ma, Te Parengaope, was 'n dogter van die Ngāti Koura, 'n clan van die Waikato.[2]
Omstreeks 1820 het Te Wherowhero 3 000 Waikato- en ander vegters gelei in 'n aanval op die Ngāti Toa, terwyl 1 500 van hulle bondgenote van Whaingaroa met 'n seeroete aangeval het. Saam het hulle die Ngāti Toa oorwin.[1][3]
In 'n volgende oorlog teen die Ngāti Toa het hy groot verliese gelei.[2] Vroeg in 1822 is hy byna gedood in 'n aanval deur die Ngāti Toa op die Waikato.
Te Wherowhero het in dié jaar na die Waikato teruggekeer om bevel oor te neem van 'n onsuksesvolle verdediging van sy stam teen die Ngāpuhi, wat van 1818 tot 1823 op 'n groot stormloop van Noordeiland was. Die Waikato het hulle vir 'n paar jaar verder suid van hulle gewone grondgebied gevestig uit vrees vir verdere aanvalle deur die Ngāpuhi.
Vrede met die Ngāpuhi is in 1823 gesluit en die Waikato het na hulle grondgebied teruggekeer.[1]
In die vroeë 1850's is 'n beweging gevestig om 'n Maori-koning in te stel. Die doel was om die Maori-volk te verenig en as 'n teenvoeter vir koningin Victoria. Dit was egter ook om die verkoop van grond aan die Europeërs te beëindig.
Te Wherowhero is voorgestel as koning. Pōtatau, wat toe reeds ouerig was, was teensinnig, maar het in April 1857 ingestem.[4] Hy is in Junie 1858 as koning gekroon.[4] Hy was die stigter van die Te Wherowhero-koningshuis. Pōtatau self wou saam met die Britse regering werk, maar baie van sy volgelinge het groter onafhanklikheid geëis. Die twee kante het geleidelik uiteengedryf en dit het vyf jaar later tot oorlogvoering gelei.
Pōtatau is op 25 Junie 1860 oorlede en is as koning opgevolg deur sy seun Matutaera Tāwhiao.[1]