Ramadan of Ramadaan, ook Ramazan, Ramzan of Ramathan (Arabies: رمضان, Ramaḍān, [ramaˈdˤaːn]) is die negende maand van die Islamitiese kalender.[1] Dit word deur Moslems beskou as 'n heilige maand van vas om die eerste openbaring van die Koran te herdenk.[2][3] Die nag toe dit gebeur het, staan bekend as Lailat al-'Kadr, maar die presiese datum is onbekend en word nie eens in die Koran genoem nie.[4][5]
Hierdie jaarlikse viering word beskou as een van die Vyf Pilare van die Islam.[6] Die maand is 29 of 30 dae lank. Volgens talle biografiese aantekeninge in die hadit word die duur van die maand deur die visuele waarnemings van die hilal (sekelmaan) bepaal.[7][8] Van sonop na sononder mag Moslems nie eet, drink, rook of seks hê nie. Elke dag se vas word met die Iftar aan die aand beëindig. Die einde van die vas van Ramadan word met die vakansiedag Eid-oel-Fiter gevier.
Aangesien maande in die Islamitiese kalender altyd na die maan bereken word, wissel die datum van hierdie maand volgens die Gregoriaanse kalender.
Gregoriaanse kalender | Islamitiese kalender | Begin van Ramadan (berekening)[9] | Laaste vasdag (berekening)[9] |
---|---|---|---|
2015 | 1436 | 18 Junie | 16 Julie |
2016 | 1437 | 6 Junie | 5 Julie |
2017 | 1438 | 27 Mei | 24 Junie |
2018 | 1439 | 16 Mei | 14 Junie |
2019 | 1440 | 6 Mei | 3 Junie |
2020 | 1441 | 24 April | 23 Mei |
2021 | 1442 | 13 April | 13 Mei |
2022 | 1443 | 2 April | 2 Mei |
2023 | 1444 | 23 Maart | 21 April |
2024 | 1445 | 11 Maart | 10 April |
2025 | 1446 | 1 Maart | 30 Maart |
Ramadan se datums tussen 2015 en 2025. Die tabel toon die berekende datums. Die werklike begin en einde van Ramadan mag sowat een of twee dae wissel.[10] |