Rodinië, van die Russiese woord родина (ródina, "vaderland"),[1][2] is in die geologie die hipotetiese superkontinent wat uit die grootste deel van die Aarde se landmassa of alle land bestaan het. Volgens rekonstruksies van plaattektoniek het Rodinië tussen 1,1 miljard en 750 miljoen jaar gelede bestaan, in die Proterosoïese Eon. Dit is een van twee modelle vir die vorm en geskiedenis van die kontinentale kors in die laaste deel van die Prekambrium; die ander een is Paleopangea.[3]
Rodinië het volgens die voorstanders van die teorie sowat 1 miljard jaar gelede gevorm uit die botsing en samesmelting van stukke land wat ontstaan het ná die verbrokkeling van ’n vroeëre superkontinent, Columbia.[4][5] Dit word dikwels beskou as een van die twee groot superkontinente in die Aarde se geskiedenis; die ander een is Pangaea.[6]
Daar word geglo Rodinië het in die Vroeë Neoproterosoïkum weer verbrokkel en dat die superkontinent Pannotië 600–550 miljoen jaar gelede uit dié brokstukke ontstaan het. Min is egter bekend oor die vorm en geodinamika van Rodinië en daar is wetenskaplikes wat die bestaan daarvan bevraagteken.[7]
In rekonstruksies van Rodinië val dit op dat die kratons wat later Afrika sou vorm (soos Kalahari, Tanzania, Wes-Afrika, Kongo-San Francisco) nog los van mekaar is en ver van mekaar geleë is. Daar word gewoonlik aangeneem hulle het eers met die vorming van Pannotië vasgeheg geraak, saam met Amazonia, Río de la Plata en Río Apa, die kratons van die huidige Suid-Amerika.