Rohingia (Birmaans: ရိုဟင်ဂျာ, rui hang gya, [ɹòhɪ̀ɴd͡ʑà]; Bengaals: রোহিঙ্গা, Rohingga, [ɹohiŋɡa])[19] is 'n naam wat staatlose Bengaalse en merendeels Islamitiese bevolkingsgroepe in Mianmar gekies het om uitdrukking te gee aan hul etniese en godsdienstige identiteit – as minderheid in 'n oorwegend Boeddhistiese land. Die Rohingia is hoofsaaklik aanhangers van SoennitieseIslam, met 'n klein minderheid Hindoes.
Militêre operasies in gebiede, wat deur Islamitiese bevolkings bewoon word, is reeds sedert Birma (die latere Mianmar) se onafhanklikwording gereeld deur die land se strydmagte onderneem. In Augustus 2017 het die situasie geëskaleer nadat die rebellegroep Arakan Rohingya Salvation Army (ARSA) die verantwoordelikheid aanvaar het vir meerdere terreuraanvalle wat gelyktydig gepleeg en waarin sewentig mense dood is – onder wie twaalf lede van Mianmar se strydmag.[23] Mianmar se gewapende magte het daarna 'n grootskaalse teenoffensief begin en Rohingia-gebiede aangeval.[24] Volgens Amnesty International het ARSA-terroriste op 25 en 26 Augustus 2018 ook tientalle Hindoes- mans, vroue en kinders – in aanvalle op die dorpe Ah Nauk Kha Maung, Ye Bauk Kyar en Myo Thu Gyi vermoor.[25]
Die terreuraanvalle word as 'n poging van militante Moslems beskou om 'n vreedsame oplossing van die konflik in die deelstaat Rakhine te dwarsboom. Hulle is gepleeg net een dag nadat die regering van Mianmar voorstelle vir 'n vreedsame oplossing vir die konflik, soos gemaak deur 'n kommissie onder voorsitterskap van die vroeëre sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Kofi Annan, verwelkom en aanvaar het.[26] Die Rohingia-konflik blyk egter nie die enigste binnelandse konflik in Mianmar te wees nie. Die land selfs word sedert sy onafhanklikheid in 1948 deur die wêreld se langsdurende burgeroorlog geteister, wat nie net Moslems raak nie, maar ook Animiste, Boeddhiste, Hindoes en selfs Christelike minderhede. Byvoorbeeld is die Boeddhistiese Karenvolk sedert 1948 in 'n grootskaalse konflik met die sentrale regering betrokke. Van die ander konflikte tussen inheemse bevolkingsgroepe en die sentrale regering sluit in Kachin, Kayah, Kayin en Shan.[27][28][29]
Die term Rohingia naam is volgens die historikus Jacques P. Leider eers vanaf die 1960's in enkele gevalle gebruik om na Islamitiese groepe te verwys. Tot die middel van die 1990's het dit nie na 'n etniese groep verwys nie, maar was 'n sambreelterm vir 'n verskeidenheid Islamitiese opstandelinge. Eers vanaf 1995 het dit internasionaal gebruiklik geraak nadat dit in Engelsmedium-berigte oor Mianmar gebruik is om eksplisiet na 'n etniese groep te verwys. Navorsers stem grotendeels saam dat Moslems in Mianmar reeds vanaf die 1950's na hulself as Rohingia verwys het – blykbaar in 'n poging om 'n gemeenskaplike identiteit te vorm en te beklemtoon.[30]
Een van Wes-Duitsland se omvattendste ensiklopedies-geografiese werke, die Bertelsmann Länderlexikon wat in 1979 gepubliseer is, wys daarop dat die meerderheid van Islamitiese en Hindoeïstiese bewoners van die destydse Sosialistiese Republiek Birma «nasate van Indiese en Pakistanse immigrante» («Nachkommen indischer und pakistanischer Einwanderer») is wat hulle eers gedurende die Britse koloniale tydperk in die land gevestig het – as deel van 'n proses wat deur die inheemse bevolking as «ekonomiese oorvreemding» ervaar is.[31]
Vanweë hulle Indo-Ariese afkoms en Islamitiese godsdiens word Bengale deur die Mianmarese regering nie as inheems beskou nie en het volgens bewerings oorspronklik eers gedurende die Britse koloniale tydperk, veral ná die Eerste Anglo-Birmaanse Oorlog (1824–1826), vanuit Bengale na Mianmar geïmmigreer, aangemoedig deur die Britse koloniale bewind.[32] In dieselfde tydperk is onder die Britse koloniale beleid Asiate op 'n grootskaalse vlak na die Natalkolonie in die hedendaagse Suid-Afrika gebring om as kontrakarbeiders op suikerrietplantasies te werk.[33][34]
Eerste Moslems het reeds in die 7de eeu in Suid-Asië gevestig, 'n tydperk, waarin Germaanse volke soos die Sakse met geweld deur die Frankiese koning Karel die Grote gekersten is.[35] Die oudste moskee in Indië dateer uit 629 n.C. en is in die hedendaagse Indiese deelstaat Kerala opgerig. Een van die bekendste moskees in Indië, die Babri-moskee, is op 6 Desember 1992 deur gewelddadige Hindoes vernietig en meer as 2 000 mense, veral Moslems, is vermoor.[36][37]
Die voorkoms van 'n Islamitiese minderheid in die historiese Koninkryk Arakan met sy sentrum in Mrauk U (1430–1785) word as 'n historiese feit beskou.[38] Die Rohingia beskou hulself as 'n bevolkingsgroep, wie se voorsate sowat 1000 jaar gelede in Mianmar Moslems geword het.[39] Die Mianmarese regering verwerp egter die term Rohingia en beskou hulle as onwettige emigrante uit Bangladesj.[40]
As gevolg van die Burgerskapswet van 1982 word die Rohingia nie as een van die 135 inheemse bevolkingsgroepe erken nie en het dus geen aanspraak op burgerskap nie.[41] Die wetlike voorwaardes, wat Rohingia in Mianmar in die gesig staar, is deur sommige kommentatore met apartheid vergelyk,[42][43][44] onder ander deur baie internasionale akademici, ontleders en politieke figure, waaronder Desmond Tutu, die bekende Suid-Afrikaanse anti-apartheidsaktivis en Nobelprys vir Vrede-wenner in 1984.[45]
Aung San Suu Kyi, Mianmar se de facto burgerlike leier en Nobelprys vir Vrede-wenner in 1991, is deur sommige vir haar stilte oor die geweldpleging gekritiseer.[46] Op 19 September 2017 het sy die menseregteskendings en onwettige geweld in die Rakhine-deelstaat veroordeel, maar haar steun aan die militêre operasies getoon.[47][48][49][50] Haar gebrek aan optrede namens die Rohingia het 'n pleidooi vir aksie deur die Pakistanse Nobelvredespryswenner in 2014, Malala Yousafzai, tot gevolg gehad.[51] Aung San Suu Kyi het die term Rohingia herhalend verwerp en van hulle ondersteuners as "terroriste" bestempel. Sommige waarnemers in die weste is ontsteld oor die feit dat Aung San Suu Kyi as politikus nie besluite volgens die geïdealiseerde beeld kan neem wat in die media van haar geteken is nie, maar met die politieke realiteit in haar land gekonfronteer word – die oorgrote meerderheid van Mianmar se Boeddhistiese bevolking is Islam vyandig gesind.[46]
Tydens 'n besoek aan Europa in Junie 2019 het Aung San Suu Kyi saam met die Hongaarse eerste minister Viktor Orbán na groeiende Moslembevolkings en hul migrasie na andersgelowige ontwikkelde lande as uitdagings vir Suidoos-Asië en Europa verwys.[52] Boeddhistiese monnike in Mianmar verwys na die gewelddadige optrede van enkele Moslems en die historiese feit dat groot dele van Asië soos Afghanistan voor die opkoms van Islamitiese magte oorspronklik deur Boeddhiste bewoon is. Om historiese redes is daar vrese dat Moslem-minderhede die integriteit van state bedreig. In Indië het sommige Moslemleiers hulle met die onafhanklikwording van die land ten gunste van die stigting van 'n afsonderlike Islamitiese nasie, Pakistan, uitgespreek..[53]
In 2001 het Islamistiese Taliban in Afghanistan hul minagting vir Boeddhisme getoon deur die Boeddhas van Bamiyan, 'n Unesco-wêrelderfenis, op te blaas.[54] Hierdie terreurdaad, wat media in Mianmar weke lank oorheers het, het die openbare mening oor Moslems in die algemeen negatief beïnvloed en die opvatting versterk dat die inheemse Boeddhistiese samelewing en leefstyl teen Moslems aktief beskerm moet word, selfs met geweld[55]
Internasionale stryd oor die Mianmarese regering se standpunt
Die Mianmarese regering se standpunte en optrede word deur die Chinese regering in Beijing ondersteun, wat op sy beurt ten opsigte van Islamitiese Oeigoere in Xinjiang 'n omstrede beleid van assimilasie volg.[56][57][58][59] Die Amerikaanse regering onder president Donald Trump het egter vir 'n einde aan minderhede se onderdrukking gepleit en lede van onder andere Jesiede, Oeigoere en Rohingia na die Withuis in Washington, D.C. genooi.[60][61] Die Amerikaanse ambassade in die voormalige Mianmarese hoofstad Yangon gee voorkeur aan die term "Rohingia",[62] terwyl die Japannese regering dit summier verwerp en daarop aandring dat 'n neutrale benaming soos "Moslems in die Rakhine-deelstaat" gebruik moet word. Japan volg 'n meer konstruktiewe beleid teenoor Mianmar en beklemtoon die feit dat ekonomiese ontwikkeling die enigste manier sal wees om die konflik op te los.[63] Japan het in die Verenigde Nasies se algemene vergadering buite stemming gebly by alle resolusies teen Mianmar.
Die Amerikaanse Council on Foreign Relations bevestig dat menseregte 'n belangrike plek in die betrekkinge met Mianmar inneem wat besig is om te verbeter, maar beklemtoon ook die feit dat Mianmar se stabiliteit voorkeur sal geniet, gegewe die land se strategiese belangrikheid in Suidoos-Asië, sy groot natuurlike hulpbronne en die ontwikkelende demokratiese bewind.[64] 'n Resolusie van die Verenigde Nasies se algemene vergadering, waarin onder meer op 'n einde van Mianmar se militêre operasies en die toekenning van Mianmarese burgerskap aan Rohingia aangedring word, is naas die Volksrepubliek China, Kambodja, Laos, die Filippyne, Viëtnam, Wit-Rusland, Sirië en Zimbabwe ook deur Rusland verwerp.[65] Suid-Afrika het, as deel van 'n buitelandse beleid wat die ideale en waarde van Nelson Mandela nastreef, sy steun aan die VN-resolusie verleen.[66]
Die Mianmarese regering hoef geen politieke en ekonomiese drukmiddels te vrees nie. Die Europese Unie, wat dreig om doeane-voordele vir Mianmarese uitvoere op te skort, speel as bestemming vir slegs tien persent van Mianmarese uitvoere net soos die Verenigde State maar 'n ondergeskikte rol in Mianmar se internasionale handelsbetrekkinge wat deur Asiatiese lande, veral China, oorheers word. Die Italiaanse regering het onlangs sy belangstelling in nouer ekonomiese bande met China binne die raamwerk van die Nuwe Syroete-projek te kenne gegee en staan krities teenoor bestaande EU-sanksies teen Rusland. Selfs die toerismesektor word nie nadelig geraak deur die Rohingia-krisis nie. Terwyl minder Europese en Amerikaanse toeriste 'n besoek aan die land bring, stroom groter getalle Asiatiese besoekers na Mianmar.[67]
Volgens onafhanklike waarnemers soos die Verenigde Nasies en volgens internasionale reg kan staatloosheid of 'n onwettige status binne 'n land nooit as regverdiging vir menseregteskendings dien nie, omdat alle mense oor dieselfde onvervreembare regte beskik, onafhanklik van hul ras, geslag, kleur, taal of godsdiens.[68][69]
↑"Binnelandse beleid van Mianmar" (in Duits). Duitse Departement van Buitelandse Sake. 28 Maart 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Julie 2019. Besoek op 22 Julie 2019.
↑(de) Das moderne Länderlexikon in zehn Bänden. Herausgegeben vom Lexikon-Institut Bertelsmann. Gütersloh: Bertelsmann Lexikon-Verlag 1979, bl. 61, 58
↑(en) Moshe Yegar: Between Integration and Secession. The Muslim Communities of Southern Philippines, Southern Thailand, and Western Burma/Myanmar. Lanham • Boulder • New York • Oxford 2002, bl. 27
↑"Timeline" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Junie 2011. Besoek op 24 November 2011.
↑(de) Matthias Becher: Gewaltmission. Karl der Große und die Sachsen. In: Christoph Stiegemann o.a. (uitgewer): CREDO: Christianisierung Europas im Mittelalter. Bd. 1. Petersberg 2013, bl. 322; Wilfried Hartmann: Karl der Große. Stuttgart 2010, bl. 99.
↑(en) Guha, Ramachandra (2007). India After Gandhi. MacMillan. pp. 582–598.
↑(en) Jacques P. Leider: Competing Identitities and the Hybridized History of the Rohingyas. In: Renaud Egreteau, François Robinne: Metamorphosis. Studies in Social and Political Change in Myanmar. NUS Press, Singapur 2016, ISBN 978-9971698669, bl. 151–178, bl. 164
↑"The Rights of Non-citizens"(PDF) (in Engels). Verenigde Nasies se Hoë Kommissariat vir Menseregte. 2006. Geargiveer(PDF) vanaf die oorspronklike op 19 Mei 2020. Besoek op 22 Julie 2019.