Roscoff

Roscoff

Rosko
'n Uitsig oor Roscoff
'n Uitsig oor Roscoff
Wapen van Roscoff
Wapen
Roscoff is in Frankryk
Roscoff
Roscoff
Koördinate: 48°43′38″N 3°59′04″W / 48.72722°N 3.98444°W / 48.72722; -3.98444
LandVlag van Frankryk Frankryk
Gewes Bretagne
Département Finistère
ArrondissementMorlaix
KantonSaint-Pol-de-Léon
Regering
 • BurgemeesterOdile Thubert Montagne
Oppervlak
 • Totaal6,19 km2 (2,39 vk. myl)
Hoogte
0−58 m (0−190 ft)
Bevolking
 • Totaal3 404
 • Digtheid550/km2 (1 400/vk. myl)
Poskode
29680
Webwerfroscoff.bzh

Roscoff [ʁɔskɔf], Bretons: Rosko, is 'n seehawe in die Noordwes-Franse département Finistère en die historiese Bretonse streek Pays de Léon, met 'n bevolking van 3 404 in 2017. In Frans word na die bewoners as Roscovites verwys.

Die gematigde klimaat en die skoon water langs Roscoff se kus het van die nedersetting al in die 19de eeu 'n gewilde strandoord gemaak. Die geneeskundige potensiaal van Roscoff as herstellingsoord is deur die Marquise van Kergariou raakgesien wat hier 'n tuberkulose-sanatorium vir kinders geopen het. 'n Thalassoterapie-sentrum het sy deure in 1899 geopen.

Geografie

[wysig | wysig bron]
Porz Kernog is die grootste nedersetting op Batz-eiland
Die hawe van Roscoff by laagwater

Roscoff is aan die noordkus van Bretagne, 25 km noord van die Baai van Morlaix en sowat 60 km oos van Brest, geleë. Net soos op ander plekke langs die Bretonse kus is die getyeverskil hier betreklik (tot meer as tien meter). Die kusgebied van Roscoff word gekenmerk deur 'n buitengewoon groot aantal biotope waarvan die meeste tydens die ebtyd toeganklik is. Dit is die habitat van 700 plant- en 3000 dierspesies, waaronder twee seealge-ekostelsels.

Die Station biologique de Roscoff (SBR) is in 1872 deur Henri de Lacaze-Duthiers (1821–1901) as seebiologiese en oseanografiese navorsings- en onderwysinstelling in die lewe geroep.

Île de Batz (Batz-eiland, Enez Vaz in Bretons) is 'n klein eiland langs die kus van Roscoff wat 'n bevolking van ruim 500 huisves.

Seehawe

[wysig | wysig bron]

Roscoff se seehawe word tradisioneel verbind met seerowers en smokkelaars wat in historiese tye van hier vertrek het. Later het Bretonse boere, wat vanaf 1828 'n heenkome as uieverkopers (sogenaamde Onion Johnnies) in Engeland en Wallis gevind het, hul vaart or die Engelse Kanaal hier begin. Henri Ollivier, 'n jong boer uit Roscoff, was die eerste uieverkoper wat saam met sy vriende die potensiaal van die Engelse mark raakgesien en daardie afsetgebied bo sy tradisionele markte in Parys verkies het. Hy was reg en het groot sukses behaal.[1]

Meer onlangs, in 1968, het plaaslike drukgroepe onder leiding van Alexis Gourvennec (1936–2007) - 'n varkteler en ekonomiese leier wat 'n beduidende rol in die ekonomiese herlewing van Bretagne na die Tweede Wêreldoorlog gespeel het - die Franse regering se instemming en staatsfondse verkry om Roscoff tot 'n diepseehawe te ontwikkel en sodoende uitvoere van Bretonse landbouprodukte na die Verenigde Koninkryk te vergemaklik asook 'n veerbootroete tussen die Engelse hawe Plymouth en Roscoff te vestig.

Bestaande veerbootrederye het egter geskroom om hierdie betreklik lange roete te bedien, en so het Alexis Gourvennec as uiters bedrywige man dié projek saam met enkele medestryders eiehandig begin uitvoer en die redery Brittany Ferries gestig. Tans bedien dié redery saam met Irish Ferries veerbootroetes tussen Roscoff en bestemmings in Engeland, Ierland (Cork) en Spanje. Roscoff dien sodoende sowel as uitvoerhawe vir Bretonse landbouprodukte asook as Britse en Ierse motortoeriste se toegangshawe tot Bretagne en die res van Frankryk.

Verwysings

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Toerisme

Uie en Onion Johnnies