Saldanhabaai | |
---|---|
Satellietbeeld van die Saldanhabaai | |
Koördinate: | 33°1′S 17°57′O / 33.017°S 17.950°O |
Ligging: | Wes-Kaap, Suid-Afrika |
Soort: | Baai van die Atlantiese Oseaan |
Lengte: | 12 km |
Breedte: | 10 km |
Uitvloei: | Atlantiese Oseaan |
Saldanhabaai (Engels: Saldanha Bay) is 'n see-inham en hawe aan die suidweskus van die provinsie Wes-Kaap, (Suid-Afrika), 90 seemyl (140 kilometer) noord van Kaapstad. Saldanhabaai vorm die grootste natuurlike hawe in die land en aan die weskus van Afrika.
Saldanhabaai is vernoem na Antonio da Saldanha, die kaptein van 'n skip in Alfonso d' Albuquerque se vloot, wat Suid-Afrika in die jaar 1503 besoek. Aanvanklik dra Tafelbaai in Kaapstad hierdie naam (maar wel in sy Portugese vorm, Agoada de Saldanha), wat eers in 1601 gewysig is na sy huidige benaming. Die naam "Saldanhabaai" is toe oorgedra na die inham aan die weskus.
Op 18 April 1688 land die Nederlandse skip Voorschooten met 21 Franse Hugenote-vlugtelinge aan boord in Saldanhabaai. Die vlugtelinge is in opdrag van die destydse Kaapse kommandeur Simon van der Stel na die Kaap gehaal, waar hulle plase in die Drakensteinvallei ontvang het.
Weens die droë hinterland het Saldanhabaai oor 'n lang tydperk geen rol in Suid-Afrika se seevaart en ekonomie gespeel nie. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was die baai egter weens sy strategiese ligging 'n belangrike ankerpunt vir skeepskonvooie.
Die huidige hawegeriewe, wat danksy 'n uitgestrekte stapelgebied groot hoeveelhede erts kan berg en verskeep, is deur die Suid-Afrikaanse Yster en Staal Industriële Korporasie Beperk (Yskor) ontwikkel vir die uitvoer van ystererts uit Sishen in die Noord-Kaap. Saldanha Staal (nou deel van die Mittal-groep), 'n staalfabriek, is as deel van die projek opgerig. In 1977 neem die Suid-Afrikaanse Vervoerdienste die Sishen-Saldanha Spoorlyn oor by Yskor. Die hawehoof van sowat 1,8 kilometer verbind sedert 1976 die vasteland met Marcuseiland.
Saldanha huisves die krygsfakulteit van die Universiteit van Stellenbosch, die Militêre Akademie van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en die SAS Saldanha, 'n opleidingsentrum van die Suid-Afrikaanse Vloot.
Siviele skepe, wat die hawe gereeld aandoen, sluit 'n groot verskeidenheid vissersbote, sportbote en jagte in. Saldanhabaai is 'n gewilde bestemming vir watersportentoesiaste.
Die plaaslike visverwerkingbedryf steun onder meer op kreef, mossels, en oesters; daarnaas word ook seegras verwerk.
Die dorp beskik oor drie laerskole (Saldanha, St. Andrew's en Diazille) en die Hoërskool Diazville. Die Weskusskool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes is ook hier geleë asook 'n duikskool wat studente oor die hele wêreld lok.
Besienswaardighede sluit die Hugenote-gedenkteken, die voetslaanpaaie van Oranjevlei en die Hoedjieskop-bewaringsgebied in.
Saldanhabaai is ryk aan geskiedenis - die eerste vooraanstaande families wat hier gevestig was: Jannie Kotze en die Sadies. Die Kotze's het in die vroeë 1800's die plaas Kliprus besit, waar heelwat van hulle familielede nog begrawe lê. Daarna het hulle Oorlogsvlei toe gestrek, Kalkrug en Pienaarspoort (vandag Blouwaterbaai). Die Sadies het op Prospect Hill gewoon. Afstammelinge van hierdie families is Jan Albertyn van Darling, Merle Albertyn Kappelmann en Freda Davidson van Saldanha.
Omdat Saldanha 'n plattelandse dorp van gemiddelde grootte is, is daar nie werklik sprake van voorstede nie. Nietemin is daar duidelik afgemerkte woonbuurte wat die inwoners self ken en wat hulle gebruik om na verskillende dele van die dorp te verwys.
Oorwegend blanke woonbuurte:
Oorwegend bruin woonbuurte:
Oorwegend swart woonbuurte:
Saldanhabaai is ook die naam van die plaaslike owerheid wat uit ses dorpe bestaan: Saldanha, Vredenburg, St. Helenabaai, Paternoster, Hopefield en Langebaan. Voor die huidige munisipale bestel in 2000 in werking getree het, het Saldanha, Vredenburg, Paternoster en St. Helenabaai saam die Weskusskiereiland-oorgangsraad gevorm, terwyl Hopefield en Langebaan afsonderlike munisipaliteite was. Volgens die sensus van 2011 was die bevolking toe 99 193. Die munisipale gebied beslaan 1 767 vierkante kilometer en die hoofkwartier is op Vredenburg.
Provinsie Wes-Kaap | |
---|---|
Hoofstad: | |
Streke: |
Kaapse Skiereiland | Kaapse Wynlande | Sentraal Karoo | Overberg | Tuinroete | Weskus |
Grootste stede en dorpe: |
Kaapstad | George | Mosselbaai | Knysna | Oudtshoorn | Paarl | Robertson | Stellenbosch | Swellendam | Vredenburg | Worcester |
Munisipaliteite: |
Beaufort-Wes | Bergrivier | Bitou | Breedevallei | Kaap Agulhas | Cederberg | Drakenstein | George | Hessequa | Kaapstad | Kannaland | Knysna | Laingsburg | Langeberg | Matzikama | Mosselbaai | Oudtshoorn | Overberg | Overstrand | Prins Albert | Saldanhabaai | Sentraal Karoo | Stellenbosch | Swartland | Swellendam | Theewaterskloof | Tuinroete | Weskus | Witzenberg |