Die samesmelting van sterrestelsels kan gebeur wanneer twee of meer sterrestelsels bots. Hulle is die gewelddadigste soort wisselwerking tussen sterrestelsels. Die swaartekragwisselwerkings tussen sterrestelsels en die wrywing tussen die gas en stof het 'n groot uitwerking op die spesifieke sterrestelsels, maar die presiese uitwerking van sulke samesmeltings hang af van 'n groot verskeidenheid parameters, soos botsingshoek, snelheid en die relatiewe grootte/samestelling. Dié aspekte word tans ondersoek.
Die samesmelting van sterrestelsels is belangrik, want die tempo van samesmelting is 'n basiese aanduiding van die evolusie van die stelsels. Dit gee sterrekundiges ook 'n idee van hoe sterrestelsels oor lang tydperke hulle huidige vorms aangeneem het.[3]
Botsings tussen sterrestelsels is taamlik algemeen in die heelal. Vanweë die uiters dun verspreiding van materiaal in sterrestelsels is dit nie botsings in die ware sin van die woord nie, maar eerder ’n swaartekrag-interaksie.
Wanneer twee stelsels bots en saamsmelt, het die twee stelsels nie genoeg momentum om daarna aan te beweeg nie. As die een stelsel baie groter as die ander een is, sal die groot stelsel redelik ongeskonde bly terwyl die klein stelsel uitmekaargeruk en deel van die groot stelsel sal word. Simulasies van botsings tussen sterrestelsels op rekenaars is nou algemeen, met al die realistiese fisiese faktore soos swaartekrag, gasverspreiding en stervorming wat in ag geneem word. ’n Versameling van sulke simulasies kan gevind word op die webtuiste van die Paryse Sterrewag.[5]
In gebiede waar sterrestelsels saamsmelt, is daar gewoonlik 'n groot mate van stervorming.[6][7] Dit kan die vorming van sterre van tot duisende sonmassas per jaar beteken, na gelang van die hoeveelheid gas in die stelsels.[8]
Gewoonlik vorm minder as 100 nuwe sterre per jaar in 'n stervormingstreek,[9] en selfs dit is baie in vergelyking met die Melkweg, waar net sowat twee nuwe sterre per jaar vorm.[10]
Een van die grootste samesmeltings wat nog waargeneem is, was van vier elliptiese sterrestelsels in die swerm CL0958+4702. Dit kan een van die grootste sterrestelsels in die heelal vorm.[11]
{{cite book}}
: AS1-onderhoud: ander (link)