Samoa | ||||
Unie | Rugby Samoa (RS) | |||
Bynaam(e) | Manu Samoa | |||
Embleem | die Suiderkruis | |||
Stadion | Apiapark, Apia | |||
Kapasiteit | 12 000 | |||
Afrigter(s) | Mahonri Schwalger (sedert 2024) | |||
Kaptein(s) | Theo McFarland | |||
|
||||
Statistiek
| ||||
---|---|---|---|---|
Meeste toetse | Brian Lima (65)[1] | |||
Meeste toetspunte | Tusi Pisi (245)[2] | |||
Meeste drieë | Brian Lima (29)[3] | |||
Eerste internasionale wedstryd | ||||
Wes-Samoa 0–6 Fidji (Apia, Samoa; 18 Augustus 1924) | ||||
Grootste oorwinning | ||||
Samoa 115–7 Papoea-Nieu-Guinee (Apia, Samoa; 11 Julie 2009) | ||||
Grootste nederlaag | ||||
Nieu-Seeland 101–14 Samoa (Nieu-Plymouth, Nieu-Seeland; 3 September 2008) | ||||
Wêreldbeker | ||||
Verskynings | 9/10 (Eerste in 1991) | |||
Beste uitslag | Kwarteindrondte in 1991 en 1995 | |||
Amptelike webwerf | ||||
www.manusamoa.com |
Die Samoaanse nasionale rugbyspan (Engels: Samoa national rugby union team; Samoaans: Manu Samoa) is die nasionale rugbyspan wat Samoa in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Samoa geadministreer deur Rugby Samoa (Lakapi Samoa) wat in 1924 gestig is. Samoa word deur Wêreldrugby as ’n vlak twee-span erken. Die Samoaanse rugbyspan is tans (September 2024) 14de op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[4] Die span neem deel aan die jaarlikse Stille Oseaan-nasiesbeker, saam met Fidji, Japan en Tonga. Samoa was ’n lid van die Stille Oseaan-eilande Rugbyalliansie (Engels: Pacific Islands Rugby Alliance; PIRA), saam met Fidji en Tonga; maar hulle het in 2009 hulself onttrek.[5]
Samoa het in 1924 sy eerste internasionale wedstryd teen Fidji gespeel. Samoa, Fidji en Tonga speel gereeld teen mekaar in toernooie soos die Stille Oseaan-nasiesbeker (tot in 2005 Stille Oseaan-drienasies), waarin Samoa tot dusver 14 titels gewen het. Samoa se bynaam is Manu Samoa en hulle speel tradisioneel in blou truie met wit broeke. Om die opponent te intimideer en hulself te motiveer word voor elke toetswedstryd die Siva Tau-oorlogsdans deur die Samoaanse span uitgevoer. Dié oorlogsdans dateer uit die land se oorloë met naburige eilande.[6]
Samoa het tot dusver vir nege van die tien rugbywêreldbekertoernooie gekwalifiseer en net die Rugbywêreldbeker 1987 in Australië en Nieu-Seeland misgeloop. In 1991 en 1995 het hulle daarin geslaag om tot die kwarteindrondte deur te dring. Sedertdien vaar Samoa nie meer so goed in die Wêreldbeker nie. Twee voormalige Samoaanse rugbyspelers is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem.
Die beheerliggaam vir rugby in Samoa is Rugby Samoa (Samoaans: Lakapi Samoa). Rugby Samoa is in 1924 gestig en het in 1988, net ná die eerste rugbywêreldbekertoernooi, ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword.[7] Daarbenewens het Rugby Samoa in 2000 ’n stigtingslid van die Vereniging van Oseaniese Rugbyunies (Federation of Oceania Rugby Unions, FORU; nou Oseanië Rugby) geword.[8]
Naas die amptelike nasionale span roep Rugby Samoa ook ander keurspanne byeen. Samoa A is die tweede nasionale span van Samoa en hulle neem aan Wêreldrugby se Stille Oseaan-uitdaagtoernooi deel. Die Samoa Sevens is die Samoaanse sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker, Olimpiese Somerspele en die Statebondspele deel. Nes ander rugbylande beskik Samoa oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem.[9] Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting.
As deel van die Stille Oseaan-eilande Rugbyalliansie het die beheerliggaam van 2004 wedstryde gereël van die Stille Oseaan-eilanders, ’n gemeensame keurspan van die drie Stille Oseaan-eilandstate Fidji, Samoa en Tonga. Aangesien die Stille Oseaan-eilanders nie die gewenste inkomste vir die beheerliggame gegenereer het nie, het die Samoaanse beheerliggaam dié samewerking in 2009 beëindig.[10] Sedert 2022 word die Stille Oseaan-eilande (feitlik die Cookeilande, Fidji, Samoa en Tonga) in die internasionale Superrugbytoernooi verteenwoordig deur die gesamentlike professionele span Moana Pasifika, wat aan dié toernooi deelneem saam met spanne uit Australië, Nieu-Seeland en een uit Fidji.[11]
Samoa is een van die min lande waar rugby die hoofsport is. Slegs die Cookeilande, Fidji, Nieu-Seeland, Tonga en Wallis kan soortgelyke bewerings maak.[6] Met ’n bevolking van amper 200 000 is die keuring van talentvolle spelers in vergelyking met ander lande baie klein, maar Samoa behoort konstant aan die 15 beste spanne wêreldwyd en hulle is redelik mededingend. Dié land ly egter onder ’n groot uitvloei aan talent, aangesien baie spelers in die professionele ligas in Australië, Nieu-Seeland, Europa of Japan speel en deur die onderskeie land ingeburger word. Volgens Wêreldrugby se reëls is ’n tydperk van vyf jaar ononderbroke blyplek genoeg om vir die nasionale span van ’n ander land uit te draf (tot aan die einde van 2020 was dit net drie jaar).[12] Sedert die 1970’s het baie Samoane veral na Nieu-Seeland vertrek. Van die bekendste Nieu-Seelandse spelers met ’n Samoaanse herkoms is Jerry Collins, Michael Jones, Chris Masoe, Mils Muliaina, Isaia Toeava en Tana Umaga, terwyl Manu Tuilagi vir Engeland uitdraf.
Die Stille Oseaan-eilandstate se beheerliggame is nie sterk genoeg om hierdie uitvloei aan talent stop te sit nie. Soms word die sistematiese stropery in ’n ironiese manier met die 19de eeuse Blackbirding vergelyk.[13] Samoane, wat hul eie land verteenwoordig, kan nie altyd vir hul nasionale span verskyn nie, aangesien veral Engelse klubs huiwerig is om spelers vir toetswedstryde beskikbaar te stel. Die professionele span Moana Pasifika, wat sedert 2022 aan die internasionale toernooi Superrugby deelneem, sal as ’n oplossing dien. In dié span, wat in die Nieu-Seelandse stad Auckland gesetel is, speel Samoane saam met Tongane en Nieu-Seelanders met ’n Polinesiese herkoms; dié span streef ’n verkieslik “Stille Oseaan”-karakter na.[14]
Amerikaans-Samoa, ’n eilandgebied van die Verenigde State van Amerika wat nes Samoa aan dieselfde argipel behoort, beskik oor sy eie nasionale rugbyspan. Dit bereik egter by verre nie dieselfde status nie en hulle speel net af en toe. In Amerikaans-Samoa is Amerikaanse voetbal die gewildste sportsoort; baie Samoane speel in die Nasionale Voetballiga.[15]
In Wes-Samoa was die in ander gebiede van Oseanië reeds goed gevestigde rugbysport tydens die Duitse koloniale tydperk minder bekend, plaaslike koerante het aan die begin van die 20ste eeu net min oor rugbywedstryde in die hoofstad Apia berig.[8] Dié situasie het in 1914 verander, toe Nieu-Seeland die eilandgroep aan die begin van die Eerste Wêreldoorlog beset en begin administreer het (van 1919 af amptelik as ’n Volkebondmandaat). Die Rooms-Katolieke orde van die Maristebroers, wat van 1871 af hier werksaam was, het van 1920 af aan hul skole weens die sterk Nieu-Seelandse invloed ’n aantal sportsoorte met ’n Britse oorsprong ingevoer.[16][17] Rugby het vinnig die by verre gewildste sportsoort geword en is deur groot dele van die bevolking goed ontvang. Volgens Robert F. Dewey, ’n historikus aan die DePauw-universiteit, was rugby destyds ’n belangrike manier om die plaaslike trots en strydlustige manlikheid uit te druk. Nadat baie tradisionele rituele gedurende die koloniale tydperk verdwyn het, was rugby ’n goeie plaasvervanger vir die uitvoering van ou konflikte. Buitendien was die atletiese vaardighede van die inheemse spelers glo heel geskik vir die rugbyspel. ’n Soortgelyke ontwikkeling het in twee ander Stille Oseaan-eilandstate plaasgevind: Fidji en Tonga.[13]
In 1924 is die Apia Rugbyvoetbalunie (Engels: Apia Rugby Football Union, die latere Wes-Samoaanse Rugbyvoetbalunie en die huidige Rugby Samoa) gestig, wat aanvanklik met die Nieu-Seelandse Rugbyvoetbalunie geassosieerd was. Die eerste toetswedstryd het op 18 Augustus 1924 in die Samoaanse hoofstad Apia teen Fidji plaasgevind en is met 0–6 verloor.[6] Volgens ’n legende is die wedstryd op ’n rugbyveld met ’n groot boom op die middellyn gespeel, maar destydse koerantberigte vermeld niks daarvan nie.[8] Die wedstryd het om 7 v.m. afgeskop om die Samoaanse toeskouers kans te gee om ná die wedstryd te gaan werk. ’n Maand later is die tweede toetswedstryd teen Fidji met 9–3 gewen.[6][18] Aan die einde van Julie 1926 is Tonga vir die eerste keer verwelkom.[19] In 1928 en 1932 het die Stille Oseaan-bure weer Samoa besoek, maar dit sou tot in 1947 duur, totdat die Samoane weer besoek ontvang het; daardie jaar het hulle Tonga vir die eerste keer geklop.[20]
Gereelde wedstryde is eers in 1955 hervat en as gevolg van die beheerliggaam se moeilike finansiële situasie kon die eerste wegwedstryde eers in 1956 gespeel word, toe die Samoane na Tonga vertrek het. In 1960 het die Nieu-Seelandse Maori (die Maori se keurspan)vir die eerste keer Wes-Samoa besoek.[21] In 1962 het die Nieu-Seelandse beheer geëindig en Wes-Samoa sy onafhanklikheid verkry. In 1963 is in die Fidjiaanse hoofstad Suva die eerste Suid-Stille Oseaan-spele aangebied, waartydens Wes-Samoa in al sy vier wedstryde maklik verslaan is en net die bronsmedalje ingepalm het.[22] Aangesien die beheerliggaam se moeilike finansiële situasie bly aanhou het, moes hul internasionale speelprogram vir die volgende agt jaar opnuut opgeskort word.
Aan die Suid-Stille Oseaan-spele 1971 se rugbytoernooi in Papeete (Frans-Polinesië) het die mededingers uit Fidji en Tonga nie deelgeneem nie. Tydens die groepfase het Wes-Samoa die Cookeilande en Nieu-Kaledonië geklop, en in die halfeindstryd Tahiti. In die eindstryd het die Samoane weer teen die Cookeilande te staan gekom en met ’n 23–9-oorwinning die toernooi beklink.[23] In 1972 het hulle Tonga vir vier toetswedstryde ontvang, maar almal verloor. ’n Jaar later was hulle teen die besoekende Nieu-Seelandse Maori ook sonder enige kans. In Junie 1975 is Tonga opnuut vir vier toetswedstryde verwelkom; Wes-Samoa het twee oorwinnings aangeteken, die eerste teen dié span in amper drie dekades.
Tupuola Efi, wat gelyktydig as beheerliggaamspresident en eerste minister gedien het, het die doelwit gehad om die destydse beskeie Samoaanse rugbysport se vlak te verbeter. Dit was net met meer wedstryde teen gelykwaardige of beter opponente moontlik. Om hierdie rede het hy in 1976 ’n fondsinsameling georganiseer om die span se eerste toer na Nieu-Seeland te befonds. Dié veldtog het die bepaalde doelwit oortref en die beheerliggaam kon ’n verteenwoordigende keurspan saamstel. Gedurende die vierweekse toer het hulle teen ses plaaslike spanne van die Nieu-Seelandse kampioenskap te staan gekom en hulle is vyf keer verslaan. In die toetswedstryde teen die Nieu-Seelandse Maori is hulle ook twee keer geklop. Twee begeleiers van die span het die fondsinsameling by die Samoaanse Diaspora voortgesit, waardeur hulle die grondslag vir toekomstige toere en die verbetering van die beheerliggaam se strukture gelê het.[24] Die Suid-Stille Oseaan-spele 1979 het gewys dat die in Nieu-Seeland verwerfde kennisse veral in taktiese opsig nog nie voldoende was nie. Ná hul tweede plek gedurende die groepfase met die Salomonseilande, Tonga en Tahiti het hulle in die halfeindstryd teen die gasheer Fidji met 13–16 verloor en hulle het in die klein finale om die derde plek ’n verrassende nederlaag teen Nieu-Kaledonië met 8–9 gely.[25]
In 1982 het die nuwe, jaarlikse Stille Oseaan-drienasiestoernooi gereelde wedstryde aan die drie voorste Stille Oseaan-rugbylande besorg en die vorige ongereelde wedersydse toere vervang. Wes-Samoa het die eerste toernooi met twee wegoorwinnings beklink, waaronder hul eerste oorwinning teen Fidji sedert 1924. Die Suid-Stille Oseaan-spele 1983 is tuis in Apia aangebied. Wes-Samoa het in die rugbytoernooi se groepfase Amerikaans-Samoa, die Cookeilande, Papoea-Nieu-Guinee, Tokelau en Tonga geklop. Ná hul oorwinning in die halfeindstryd teen Nieu-Kaledonië is die gasheer in die eindstryd egter deur Fidji met 18–10 geklop.[26] In Mei 1985 het die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR, nou Wêreldrugby), wat redelik eksklusief was en net agt lede behels het, op die invoering van die rugbywêreldbekertoernooi besluit. Vir die eerste toernooi in 1987 sou nege plekke deur uitnodiging toegeken word (die IRVR-lid Suid-Afrika is weens die apartheidboikot nie genooi nie).[27] Terwyl die twee Oseaniese mededingers Fidji en Tonga uitgenooi is, het Wes-Samoa nie in aanmerking gekom nie; die hoofrede was waarskynlik hul gebrek aan ervaring teen nasionale spanne van ’n hoër vlak.
Ná die ietwat omstrede nie-uitnodiging het die Samoaanse beheerliggaam verskeie stappe onderneem om meer internasionale erkenning te verkry. In 1986 het die Walliese nasionale span deur die Suidelike Stille Oseaan getoer en die eerste span van buite Oseanië geword om teen Wes-Samoa te speel. Hoewel die gasheer se speelse vaardighede grootliks onbekend was, het die Walliese Rugbyunie aan dié wedstryd op 14 Junie amptelike toetsstatus toegeken. Die Samoane het teen halftyd heelwat verrassend met 14–7 voorgeloop, maar hulle het nogtans met 14–32 verloor.[28] In 1988 het die beheerliggaam by die voorheen redelik eksklusiewe IRVR aangesluit, waarvolgens amper alle wedstryde met die tradisionele rugbylande as toetswedstryde erken is. In dieselfde jaar het Peter Schuster die nuwe pos as hoofafrigter betree. Daarbenewens het die beheerliggaam spesifiek rugbyspelers met ’n Samoaanse herkoms in die buiteland vir die nasionale span begin werf. Van hulle was oorwegend nakomelinge van trekarbeiders wat van die 1950’s tot die 1970’s na Nieu-Seeland verhuis het. In 1995 het hierdie spelers amper die helfte van die span gevorm.[29]
Gedurende herfs 1988 het die Wes-Samoane vir die eerste keer ’n oorsese toer onderneem, meer spesifiek na Wallis en Ierland. Dit het omtrent vyf weke gevat en twee toetswedstryde teen die Walliese en die Ierse rugbyspanne ingesluit, wat albei in nederlae geëindig het. Van die ander agt wedstryde teen klubs en keurspanne het hulle vier gewen.[30] In 1989 is die Stille Oseaan-drienasies by uitsteek nie aangebied nie, pleks daarvan het hulle nog ’n toer na Europa oor ’n aantal weke onderneem. Terwyl die toetswedstryde teen Wes-Duitsland en België in maklike oorwinnings geëindig het, het hulle teen Roemenië ’n naelskraapse nederlaag gely. Bykomende wedstryde teen keurspanne is in die Sowjetunie, Engeland en Frankryk gespeel. Oor die algemeen was die wenrekord positief.[31] In April 1990 het Wes-Samoa tydens ’n toernooi in Tokio met deels maklike oorwinnings teen Suid-Korea, Tonga en Japan sonder moeite vir die daaropvolgende rugbywêreldbekertoernooi gekwalifiseer.[32]
Sowel in 1990 as in 1991 het Wes-Samoa die Stille Oseaan-drienasies beklink. Tydens die Suid-Stille Oseaan-spele 1991 in Port Moresby, die Papoea-Nieu-Guinese hoofstad, het die Samoane vir die laaste keer aan die rugbytoernooi deelgeneem. Ná hul oorwinning teen die Salomonseilande in die halfeindstryd het hulle in die eindstryd Amerikaans-Samoa met 34–7 geklop.[33] ’n Maand ná hul titeloorwinning het hul langverwagte eerste deelname aan die Rugbywêreldbeker 1991, wat in die destydse Vyfnasies aangebied is, gevolg. Voor dié toernooi is die Samoane as buiteperde beskou. Op 6 Oktober het hulle in Cardiff teen die medegasheer Wallis te staan gekom en ’n verrassende oorwinning met 16–13 aangeteken, waarby hulle blykbaar hul opponente veral in die aanval oorheers het.[34] Dié wedstryd het een van die bekendste rugby-aanhalings opgelewer: “Dankie tog dat Wallis nie teen die hele Samoa gespeel het nie” (Thank heavens Wales weren’t playing the whole of Samoa).[35] In hul tweede groepwedstryd is Wes-Samoa deur die latere kampioen Australië naelskraap met 9–3 geklop, maar hulle het ná ’n maklike 35–12-oorwinning teen Argentinië die kwarteindrondte gehaal. Wes-Samoa is egter deur Skotland met 28–6 geklop, maar met hul deelname aan die uitklopfase het hulle regstreeks vir die daaropvolgende rugbywêreldbekertoernooi gekwalifiseer.[36]
Hul goeie prestasies het voortgegaan, toe Wes-Samoa sowel in 1992 as in 1993 die Stille Oseaan-drienasies beklink en vier opeenvolgende toernooie gewen het. Hul toer na Nieu-Seeland in Julie 1993 was ook suksesvol. Die Samoane het al hul sewe wedstryde teen plaaslike keurspanne gewen, terwyl die twee wedstryde teen die All Blacks, wat nie as toetswedstryde erken is nie, naelskraap verloor is.[37] Die Walliesers het in Junie 1994 vir hul rugbywêreldbekernederlaag wraak geneem, toe hulle in Junie 1994 tydens hul toer na Oseanië Apia besoek en die Samoane met 34–9 geklop het. In voorbereiding op die Rugbywêreldbeker 1995 het die Samoane amper ’n jaar deur die gasheerland Suid-Afrika getoer en onder andere in hul eerste toetswedstryd teen die Springbokke gespeel. Tydens die daaropvolgende toernooi het Wes-Samoa weer goed presteer. Met oorwinnings teen Italië (met 42–18) en Argentinië (met 32–26) asook ’n nederlaag teen Engeland (met 22–44) het hulle weer die kwarteindrondte gehaal, waar hulle met 14–42 teen die gasheer en latere kampioen verloor het.[38]
Nadat die IRVR in Augustus 1995 al die beperkinge rakende die spelersbetaling opgehef en daarmee die professionele tydperk van die rugbyspel ingelui het, was dit vir Samoa en die ander Stille Oseaan-eilandstate terselfdertyd vloek én seën. Aan die een kant kon die nasionale span professionele spelers insluit wat oorwegend by klubs in Nieu-Seeland, Australië, Europa en Japan gespeel het. Aan die ander kant het die beheerliggaam altyd met die risiko gesit dat hierdie spelers meer as drie jaar oorsee gebly het en volgens die IRVR se woonplekreël deur die onderskeie beheerliggame gekeur kon word, waarvolgens hulle nie meer vir die nasionale span beskikbaar was nie. Buitendien het die finansieel sterk mededingers die plaaslike liga erg verswak.[39] Om in die toekoms met die internasionale mededingers tred te hou was die implementering van nuwe bestuurstrukture noodsaaklik. Die beheerliggaam het saam met die beleggingsfonds Fay Richwhite die gesamentlike onderneming Manu Samoa Rugby Beperk gestig, wat sedertdien vir die bemarking van die nasionale span verantwoordelik is. Buitendien het Fay Richwhite se vennote $5 miljoen uit hul persoonlike bates belê, aanvanklik vir die tydperk van 1995 tot 2004.[40] Dié belegging het die beheerliggaam van ’n moontlike bankrotskap bewaar. Aangesien Manu Samoa Rugby Beperk in Nieu-Seeland gesetel is, het in die publiek egter die indruk ontstaan dat die nasionale span aan ’n buitelandse maatskappy “verkoop” is.[41]
In November 1995 het Wes-Samoa tydens hul toer in die Verenigde Koninkryk teen Skotland te staan gekom en in Edinburg ’n goeie 15–15-gelykop aangeteken.[42] In Junie 1996 het Wes-Samoa in Napier in hul langverwagte eerste toetswedstryd teen die All Blacks gespeel en hulle het met 10–51 verloor. Die hoogtepunt van ’n verdere toer na Europa gedurende herfs 1996 was hul eerste oorwinning teen Ierland, toe hulle in Dublin met 40–25 geseëvier het.[43] In ooreenstemming met die eilandstaat se naamverandering in 1997 is die nasionale span van Wes-Samoa ook in Samoa hernoem. Die Oseaniese rugbywêreldbekerkwalifisering is in September 1998 in Australië aangebied. Samoa is deur die gasheer en Fidji geklop, maar hulle het ná ’n oorwinning teen Tonga een van die drie regstreekse plekke bespreek en hulle moes nie in die uitspeelwedstryde teen ’n Europese span speel nie.[44] Gedurende somer 1999 het Samoa vir die eerste keer deelgeneem aan die Stille Oseaanrand Rugbykampioenskap, ’n toernooi vir die spanne in en rondom die Stille Oseaan, en die tweede plek onder ses deelnemers beklee. Tydens die Rugbywêreldbeker 1999, wat weer in die destydse Vyfnasies aangebied is, het Samoa aanvanklik Japan met 43–9 geklop, maar hulle is deur Argentinië met 32–16 verslaan. Om tot die uitspeelrondte te vorder, moes hulle teen Wallis wen. Net soos agt jaar voorheen het Samoa sy opponent oorheers en met 38–31 ’n verrassende oorwinning aangeteken.[45] Die uitspeelrondte se uitslag was net só as in 1991, aangesien Samoa deur Skotland met 35–20 geklop is.[46]
Samoa het die Stille Oseaanrand Rugbykampioenskap 2000 gewen en een jaar later het hulle in die laaste toernooi se eindstryd teen Fidji met 17–28 verloor.[47] Die Stille Oseaan-drienasies in 2002 het terselfdertyd as rugbywêreldbekerkwalifisering gedien. Samoa en Fidji het hul toernooiplekke met drie oorwinnings en ’n gelykop elk bespreek, terwyl Samoa in dié toernooi weens sy swakker punteverskil as naaswenner geëindig het.[48] In voorbereiding op die daaropvolgende rugbywêreldbekertoernooi het die Samoane in Julie 2003 deur Suider-Afrika getoer en vir die eerste keer teen Namibië te staan gekom. Dit was een van die laaste oorsese toere volgens die ou tradisie, wat veral deur die midjaarrugbytoetsreeks en die eindjaarrugbytoetsreeks met ’n vaste skedule vervang is.[49] Tydens die Rugbywêreldbeker 2003 in Australië is die Samoane in ’n sterk groep geloot. Hulle het hul eerste twee groepwedstryde maklik gewen, met 60–13 teen Uruguay en met 46–9 teen Georgië. In die derde groepwedstryd teen die latere kampioen Engeland het Samoa sowat ’n uur voorgeloop, maar hulle is eindelik met 35–22 geklop.[50] In die laaste wedstryd het hulle met 10–60 teen Suid-Afrika verloor en Samoa is sodoende met hul derde plek uit die toernooi geskakel.[51]
In 2002 was Rugby Samoa een van die stigtingslede van die Stille Oseaan-eilande Rugbyalliansie wat die doelwit gehad het om die samewerking tussen die Stille Oseaan-rugbylande te verbeter. In 2004 het die lede die gesamentlike keurspan Stille Oseaan-eilanders byeengeroep, wat volgens die Britse en Ierse Leeus se voorbeeld al om die twee jaar pleks van die onderskeidelike nasionale span ’n aantal toetswedstryde teen die vername rugbylande gespeel het. Op mediumtermyn sou dié span homself vir ’n moontlike uitbreiding van die Super 12 of die Drienasiesreeks beskikbaar stel.[8] In altesaam elf wedstryde het hulle agt nederlae gely en drie oorwinnings aangeteken. In 2009 het die Samoaanse beheerliggaam die alliansie verlaat, aangesien hulle glo naas die sportiewe ook nie in die finansiële doelwitte geslaag het nie. Sedertdien het die Stille Oseaan-eilanders ondanks verskeie herlewingspogings nie meer byeengekom nie.[10] Nes die ander Stille Oseaan-rugbylande het Samoa toenemend gebuk gegaan onder die feit dat die beste spelers kontrakte by oorsese klubs onderteken het en vervolgens van hul onderskeie klubs afhanklik was. Byvoorbeeld was tydens die Rugbywêreldbeker 2003 al die in Engeland werksame spelers afwesig, terwyl ander spelers weens die blyplekreël vir ander nasionale spanne uitgedraf het. Dit en ander nadele het daartoe gelei dat die beheerliggame van Samoa, Fidji en Tonga in 2000 die kontinentale beheerliggaam Vereniging van Oseaniese Rugbyunies (Federation of Oceania Rugby Unions, FORU; nou Oseanië Rugby) van stapel gestuur het. Die FORU het vir ’n medebeslissingsreg by die IRR se uitvoerende raad aangeklop en dit is in 2004 toegestaan. Die meer as ’n dosyn lede moet egter twee setels deel en word dus steeds erg benadeel teenoor die “groot” rugbylande.[52]
In 2005 het Samoa die laaste Stille Oseaan-drienasiestoernooi gewen. Dié toernooi het terselfdertyd as rugbywêreldbekerkwalifisering gedien, waarvolgens hulle hul plek by die daaropvolgende rugbywêreldbekertoernooi bespreek het. In 2006 is die vorige Stille Oseaan-drienasies met die nuwe Stille Oseaan-nasiesbeker vervang. Die eerste toernooi (aanvanklik Stille Oseaan-vyfnasies genoem) het Samoa in die tweede plek afgesluit. Tydens die Rugbywêreldbeker 2007 in Frankryk het die Samoane weereens die kwarteindrondte misgeloop. Hulle het teen Suid-Afrika met 7–59, teen Tonga met 15–19 en teen Engeland met 22–44 verloor; hul 25–21-oorwinning teen die Verenigde State was nie meer van belang nie.[53] Die voortdurende gebrek aan die beste spelers was in September 2008 besonder opvallend, toe Samoa in Nieu-Plymouth in ’n vriendskaplike wedstryd teen Nieu-Seeland te staan gekom en met 14–101 verloor het; tot op hede is dit hul ergste nederlaag.[54] Hul klasverskil teenoor die vernaamste rugbylande was net só groot soos hul verskil teenoor die meeste Stille Oseaan-buurlande. Tydens die daaropvolgende rugbywêreldbekerkwalifisering was die Oseaniese bekerwenner die enigste struikelblok: Papoea-Nieu-Guinee is in Julie 2009 met 115–7 en 73–12 oorrompel; dié eersgenoemde oorwinning is tot op hede die hoogste in die Samoaanse rugbygeskiedenis.[55]
In 2010 het Samoa die Stille Oseaan-nasiesbeker vir die eerste keer gewen. Tydens die 2011 midjaarrugbytoetsreeks het hulle nog ’n verrassing teen ’n vlak-een-span aangeteken, toe Australië in Sydney met 32–23 geklop is; dit was hul eerste oorwinning teen dié span.[56] Tydens die Rugbywêreldbeker 2011 in Nieu-Seeland het die Samoane in die eerste groepwedstryd Namibië met 49–12 geklop. Daarop het ’n naelskraapse 10–17-nederlaag teen Wallis en ’n 27–7-oorwinning teen Fidji gevolg. Om tot die kwarteindrondte te vorder moes hulle in die laaste wedstryd die destydse kampioen Suid-Afrika klop. Die Samoane kon goed tred hou en het naelskraap met 5–13 verloor. Met hul derde plek in die groep het hulle regstreeks vir die daaropvolgende rugbywêreldbeker gekwalifiseer.[57] Aansluitend het Samoa vir die tweede keer die Stille Oseaan-nasiesbeker gewen en tydens die 2013 midjaarrugbytoetsreeks hul eerste oorwinning teen Skotland aangeteken. Tydelik het Samoa weens sy goeie prestasies op Wêreldrugby se wêreldranglys die sewende plek beklee, ’n uitstekende plek vir ’n Stille Oseaan-span. Tydens die Stille Oseaan-nasiesbeker 2015 het hulle die eindstryd in die Kanadese stad Burnaby teen Fidji met 29–39 verloor.[58]
Die Rugbywêreldbeker 2015 in Engeland het teleurstellend verloop. Hulle het net daarin geslaag om in die eerste wedstryd die Verenigde State te oorheers en hulle met 25–16 geklop. Daarop het nederlae teen Suid-Afrika (met 6–46), Japan (met 5–26) en Skotland (met 33–36) gevolg. Die span het net in die vierde plek geëindig en sodoende hul regstreekse kwalifisering vir die daaropvolgende toernooi misgeloop.[59] Samoa het vervolgens op Wêreldrugby se wêreldranglys afgegly. Dit was veral te wyte aan ’n reeks nederlae van nege wedstryde wat in Junie 2017 begin het – meer as ooit tevore. Dit het ook die rugbywêreldbekerkwalifisering ingesluit. Vervolgens moes die Samoane in Julie 2018 ’n interkontinentale uitspeelwedstryd teen Duitsland speel. Met twee oorwinnings (met 66–15 tuis en met 42–28 weg in Heidelberg) het hulle hul negatiewe reeks beëindig en vir die toernooi gekwalifiseer.[60] Die Rugbywêreldbeker 2019 het net soos vier jaar voorheen verloop. Op die oorwinning teen Rusland (met 34–9) het swak nederlae teen Skotland (met 0–34), die gasheer Japan (met 19–38) en Ierland (met 5–47) gevolg. Samoa het weer in die vierde plek geëindig en sodoende opnuut hul regstreekse kwalifisering vir die daaropvolgende toernooi misgeloop.[61]
As gevolg van die reisbeperkings tydens die wêreldwye Covid-19-pandemie het Samoa in 2020 nie in ’n enkele wedstryd gespeel nie en ook in 2021 was die wedstrydkalender erg beperk. Hulle kon twee kwalifiseringswedstryde teen Tonga speel en albei wen, waarmee hulle vir die hooftoernooi gekwalifiseer het.[62] Al drie Samoaanse wedstryde tydens die 2021 eindjaarrugbytoetsreeks moes ná positiewe Covid-19-toetse afgelas word.
Aan die begin van 2022 het Wêreldrugby ’n nuwe reël geïmplementeer wat vir die Stille Oseaan-eilandstate as baie voordelig beskou word. Hiervolgens kan nasionale spelers van ’n “groot” rugbyland na ’n ander land oorskakel, ongeag die aantal toetswedstryde wat tot dusver gespeel is. Hiervoor moes 36 maande verloop het sedert die laaste toetswedstryd en die speler moet in die betrokke land gebore wees; ’n oorskakeling is ook moontlik met ’n ouer of grootouer wat daar gebore is. Vervolgens kon talle spelers met ’n Samoaanse, Fidjiaanse of Tongaanse herkoms tydens die Rugbywêreldbeker 2023 vir hul oorspronklike land speel.[63] Tydens die Stille Oseaan-nasiesbekertoernooi 2022 het die Samoane onoorwonne gebly en hul vierde titel ingepalm. Tydens die groepfase in Frankryk kon Samoa die nuweling Chili (met 43–10) klop, waarop drie naelskraapse nederlae teen Argentinië (met 10–19), Japan (met 22–28) en Engeland (met 17–18) gevolg het.[64]
Samoa speel tradisioneel in ’n blou trui met rooi kleuraksente, wit broeke en blou sokkies. Hul alternatiewe trui is wit met blou en rooi kleuraksente, blou broeke en wit sokkies.
Die huidige truiverskaffer is sedert 2023 die Italiaanse vervaardiger Macron.[65] Die beheerliggaam se kenteken verskyn op die regterbors, die truiverskaffer se kenteken links en die borgkenteken in die middel.
Die beheerliggaam Rugby Samoa se kenteken toon die wapen van Samoa met die belettering Samoa Rugby Union daaronder. Die embleem toon die Suiderkruis, die nasionale simbool van Samoa.
Sedert die 1980’s het die volgende truiverskaffers en -borge verskyn:
Tydperk | Verskaffer | Borg |
---|---|---|
1986–1988 | Umbro | – |
1988–1992 | Canterbury | |
1992–1994 | Telecom New Zealand | |
1994–1996 | Vailima | |
1996–1998 | Reebok | |
1998 | Newcall | |
1999 | Adidas | |
1999–2003 | – | |
2004–2005 | Puma | |
2005–2009 | Samoa International Finance Authority | |
2010–2011 | KooGa | |
2012–2013 | BLK | Digicel |
2014–2015 | Canterbury | Cromwell Property Group (voorkant), Redefine Properties (agterkant) |
2015 | BLK | |
2016 | Bluesky Communications | |
2016–2017 | LE Sportswear | |
2017 | Magnum Hire (voorkant) Henderson Cars (agterkant) Invest Samoa | |
2018–2021 | BLK | Grey Investment Group |
2021 | Dynasty Sport | |
2021–2022 | Castore | Grey Investment Group |
2022 | Aramis Rugby (voorkant) Samoa IBFC (agterkant) | |
sedert 2023 | Macron |
Voor elke wedstryd voer die span ’n Siva Tau, wat verwant is aan die All Blacks se Haka, uit. Dié oorlogsdans het die doel om die opponent te intimideer en hulself aan te moedig. Die nasionale span in Australiese voetbal voer ook hierdie oorlogsdans uit. Die Manu Siva Tau is ’n Samoaanse oorlogsdans wat deur Samoa se nasionale spanne voor elke wedstryd opgevoer word. Die Samoaanse nasionale rugbyspan voer die tradisionele Ma’ulu’ulu Moa op hul toere op. Voor die Rugbywêreldbeker 1991 is die Manu-oorlogslied saamgestel, dit is as meer effektief beskou om spelers in ’n sielkundige opsig “op te laai”.[66][67]
Samoaans | Afrikaans |
Le Manu Samoa e ua malu ona fai o le faiva (2×) |
Manu Samoa, mag u slaag met u missie (2×) |
Samoa se tuisstadion is die Apiapark in die hoofstad Apia met ’n kapasiteit van 8 000. Dié stadion is in 1924 ingewy en het sedertdien elke tuiswedstryd aangebied.[68]
Samoa het 128 van sy 291 toetswedstryde gewen, ’n wenrekord van 43,99%. Samoa se statistieke in toetswedstryde teen alle lande, in alfabetiese volgorde, is soos volg (korrek in September 2024):[69]
Opponent | Gespeel | Gewen | Verloor | Gelykop | % Gewen |
---|---|---|---|---|---|
Amerikaans-Samoa | 2 | 2 | 0 | 0 | 100,00 |
Argentinië | 5 | 3 | 2 | 0 | 60,00 |
Australië | 6 | 1 | 5 | 0 | 16,67 |
België | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Chili | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Cookeilande | 3 | 3 | 0 | 0 | 100,00 |
Duitsland | 3 | 3 | 0 | 0 | 100,00 |
Engeland | 9 | 0 | 9 | 0 | 0,00 |
Fidji | 60 | 21 | 36 | 3 | 35,00 |
Frankryk | 4 | 0 | 4 | 0 | 0,00 |
Georgië | 6 | 2 | 3 | 1 | 33,33 |
Ierland | 8 | 1 | 7 | 0 | 12,50 |
Italië | 9 | 4 | 5 | 0 | 44,44 |
Japan | 19 | 12 | 7 | 0 | 63,16 |
Kanada | 6 | 6 | 0 | 0 | 100,00 |
Korea | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Namibië | 2 | 2 | 0 | 0 | 100,00 |
Nieu-Kaledonië | 3 | 2 | 0 | 1 | 66,67 |
Nieu-Seeland | 6 | 0 | 6 | 0 | 0,00 |
Nieu-Seelandse Maori | 12 | 0 | 12 | 0 | 0,00 |
Papoea-Nieu-Guinee | 3 | 3 | 0 | 0 | 100,00 |
Roemenië | 3 | 1 | 2 | 0 | 33,33 |
Rusland | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Salomonseilande | 2 | 2 | 0 | 0 | 100,00 |
Skotland | 12 | 1 | 10 | 1 | 8,33 |
Spanje | 2 | 2 | 0 | 0 | 100,00 |
Suid-Afrika | 9 | 0 | 9 | 0 | 0,00 |
Tahiti | 2 | 2 | 0 | 0 | 100,00 |
Tokelau | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Tonga | 71 | 40 | 27 | 4 | 56,34 |
Uruguay | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Verenigde State | 8 | 6 | 2 | 0 | 75,00 |
Wallis | 10 | 4 | 6 | 0 | 40,00 |
Algeheel | 291 | 128 | 154 | 9 | 43,99 |
Samoa het tot dusver aan amper elke rugbywêreldbekertoernooi deelgeneem, met uitsondering van die Rugbywêreldbeker 1987 in Australië en Nieu-Seeland. Hul beste prestasie tot dusver was hul vordering tot die kwarteindrondte in 1991 en 1995.
Jaar | Uitslag |
---|---|
1987 | Nie genooi nie |
1991 | Kwarteindrondte |
1995 | Kwarteindrondte |
1999 | Uitspeelrondte |
2003 | Groepfase |
2007 | Groepfase |
2011 | Groepfase |
2015 | Groepfase |
2019 | Groepfase |
2023 | Groepfase |
2027 | N.v.t. |
2031 | N.v.t. |
Die Stille Oseaan-drienasies was van 1982 tot 2005 die tradisionele jaarlikse toernooi tussen die drie Stille Oseaan-rugbylande Fidji, Samoa en Tonga. Hulle het die toernooi tien keer gewen.
Samoa se enigste jaarlikse toernooi sedert 2006 is die Stille Oseaan-nasiesbeker, waartydens hulle teen Fidji en Tonga speel (soms word ook ander nasionale span genooi). Hulle het die toernooi vier keer gewen.
Samoa het drie keer aan die Stille Oseaanrand Rugbykampioenskap deelgeneem en die toernooi eenkeer gewen.
Samoa het vyf keer aan die Suid-Stille Oseaan-spele se rugbytoernooi deelgeneem en twee keer gewen.
Gedurende die amateurtydperk het Samoa maandelange oorsese toere onderneem, waartydens hulle teen ander nasionale spanne, plaaslike saamgestelde spanne en klubspanne gespeel het. Eweneens het oorsese spanne na Samoa getoer. Teen die jaar 2000 het die oorsese toere volgens die ou tradisie tot ’n einde gekom, aangesien die professionalisering van die rugbyspel te min tyd vir toere oorlaat. Deesdae is toetswedstryde teen die spanne van die Noordelike Halfrond tweekeer per jaar moontlik. Gedurende Juniemaand se midjaarrugbytoetsreeks vertrek Europese spanne na Samoa en gedurende Novembermaand se eindjaarrugbytoetsreeks reis Samoa na Europa. In teenstelling met die meeste ander rugbylande speel Samoa nie vir enige trofee teen sy opponente nie.
Die volgende spelers het die Samoaanse span gevorm tydens die Stille Oseaan-nasiesbeker 2024:[70]
Twee voormalige Samoaanse spelers is vir hul uitstekende prestasie in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem:[71]
Speler | Posisie | Inskrywing |
---|---|---|
Brian Lima | Vleuel, Senter | 2011 |
Peter Fatialofa | Stut | 2019 |
Vervolgens die belangrikste statistieke van Samoa se spelers. Die spelers wat met * gekenmerk is, is nog aktief en kan hul statistieke verbeter.
(Korrek teen September 2024)
|
| ||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
Samoa het in 1988 met Peter Schuster sy eerste afrigter benoem. Sedert 2024 dien die Samoaan Mahonri Schwalger as Samoaanse hoofafrigter.
Naam | Tydperk |
---|---|
Peter Schuster | 1988–1995 |
Bryan Williams | 1996–1999 |
John Boe | 2000–2003 |
Michael Jones | 2004–2007 |
Niko Palamo | 2008–2009 |
Titimaea Tafua | 2009–2011 |
Scott Wisemantel | 2011 |
Stephen Betham | 2012–2015 |
Alama Ieremia | 2016–2017 |
Titimaea Tafua | 2017–2018 |
Steve Jackson | 2018–2020 |
Seilala Mapusua | 2020–2023 |
Mahonri Schwalger | sedert 2024 |
{{cite book}}
: |work=
ignored (hulp)
{{cite book}}
: |work=
ignored (hulp)
{{cite book}}
: |work=
ignored (hulp)
{{cite book}}
: |work=
ignored (hulp)
{{cite book}}
: |work=
ignored (hulp)Wikimedia Commons bevat media in verband met Samoaanse nasionale rugbyspan. |