Sandra Prinsloo | |
Geboorte | 15 September 1947 |
---|---|
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Beroep(e) | Aktrise |
Internet-rolprentdatabasis-profiel |
Sandra Prinsloo OIS (gebore op 15 September 1947) is 'n Suid-Afrikaanse aktrise.[1][2] Sy het bekendheid verwerf met haar rol as Kate Thomson in die 1980-film The Gods Must Be Crazy. Sy het ook in verskeie televisie- en teaterproduksies opgetree.[1][2]
In 1999 ontvang Prinsloo saam met Patrick Mynhardt die Erepenning vir Toneelkuns van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Prinsloo het al genoem dat sy nooit gedink het dat sy 'n aktrise sou word nie:
"Ek was 'n balletdanser van kleins af en ek onthou dat ek met geleenthede gewerk het by die Breytenbach Teater in Pretoria toe ek in die hoërskool was. Dit was die eerste keer wat ek in aanraking gekom het met professionele toneelspel, maar nooit het ek gedink dat ek 'n aktrise sou word nie. Ek dink ek was te skaam in daardie tyd om 'n aktrise te kon wees. Dit was nie dat ek 'n brandende passie gehad het om 'n aktrise te word nie, glad nie. Ek het 'n akademiese lewe verkies. Toe ek universiteit toe is, het ek gedink dat dit is wat ek gaan doen."
Prinsloo het matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool en het haar B.A. honeurs in Drama aan die Universiteit van Pretoria behaal. Kort daarna het sy 'n lid van die PACT-groep geword (Performing Arts Council Transvaal).
"Een aand tydens 'n opvoering was dit of iets betowerend gebeur het. Dit was asof 'n goue doek neergesak het. Alles was toweragtig omtrent die aand en almal in die toneelgroep kon dit voel...daar was 'n wonderlike energie tussen die gehoor en die akteurs."
Prinsloo het gesê dat sy na daardie aand besef het dat toneel haar roeping is.
Na die welbekende rol in die rolprent, The Gods Must Be Crazy, het Prinsloo ook rolle vertolk in Target of an Assassin (1979), Quest for Love (1988), Die Prins van Pretoria (1992), Soweto Green (1995), 'n Paw Paw Vir My Darling (2015) en Twee Grade van Moord (2016)
Van die rolprente waarin sy gespeel het sluit in:
Prinsloo was in die oorspronklike groep van die M-Net televisiereeks, Egoli: Plek van Goud, Suid-Afrika se eerste sepie. Vir baie jare het sy die geselsprogram, RaakPraat met Sandra, aangebied. Sy was ook die aanbieder van Sandra Op 'n Drafstap, 'n reeks wat fokus op bekende persoonlikhede se doen en late. Prinsloo was in 'n hele aantal televisiereekse en films, insluitende: Erfsondes (2012), Hartland (2011), Known Gods (2005), Saints, Sinners and Settlers (1999) en Konings (1991), om 'n paar uit te lig.
Prinsloo het in meer as 100 verhoogproduksies opgetree, waarin sy in meeste gevalle die hoofrol vertolk het, in tekste geskryf deur Suid-Afrikaners en internasionale dramaturge. In 1985 het Prinsloo en haar mede-akteur, John Kani, in die toneelstuk Miss Julie, geskryf deur August Strindberg, die gehoor laat uitstap en warm onder die kraag gelaat. Prinsloo het die rol van 'n wit vrou vertolk wat 'n swart man verlei het. Die toneelstuk is geken as die eerste soentoneel tussen 'n swart man en 'n wit vrou in die Apartheidsera.
Die produksie se vervaardiger, Bobby Heany, het verwag dat die gehoor opstandig sou reageer. Kani en Prinsloo moes daardie aand begelei word na hul motors aan die einde van die vertoning van Miss Julie om die ontstoke gehoor vry te spring. Prinsloo het na die vertoning verskeie dreigemente ontvang. Toe sy in 'n onderhoud in 2014 vir die 21 Icons-Projek, 'n reeks van kortfilms van Suid-Afrikaners wat hul omgewing beïnvloed het, gesels het, het sy genoem dat sy gedink het dat die Miss Julie-produksie reaksie sou ontlok, maar dat sy nie gedink het dat dit in 'n mini-rewolusie sou ontaard nie.
Die akteurs het later die verhoogstuk weer by die Edinburgh Fees opgevoer. In 1986 het Heany die regie van 'n televisiefilm gedoen, gebasseer op die verhoogproduksie Miss Julie, vir 'n Sweedse en Finlandse televisiekanaal, met Prinsloo en Kani as akteurs. Prinsloo het teruggekeer na die Edinburgh Fees in 2012 met The Sewing Machine, 'n Engelse weergawe van die oorspronklike Afrikaanse produksie, Die Naaimasjien. In die 2000's het Prinsloo haar verskyning gemaak in produskies soos Oskar en die Pienk Tannie, Janneman, Nag, Ma en Liefde, Anna. In Oktober 2015 het Prinsloo die Suid-Afrikaanse joernalis, Jani Allan, in die produksie Jani, uitgebeeld by die Aardklop Kunstefees in Potchefstroom.