Sangha (Pali: सङ्घ, saṅgha; Sanskrit: संघ, saṃgha) is ’n woord in Boeddhisme wat "gemeenskap" beteken of soms verwys na die inwoners van ’n klooster. The sangha kan ook oningewydes (leke) insluit.[1][2][3]
Volgens ’n opsomming van Boeddhistiese terme deur Robinson en ander[4] het sangha twee betekenisse: dit kan alle Boeddhistiese volgelinge beteken, ingewy óf oningewy, wat minstens die vlak van srotapanna bereik het; of dit kan dui op monnike en nonne.
Sommige leke-volgelinge in die Weste gebruik die term vir alle Boeddhiste, terwyl die Pali-kanon die woord parisā gebruik vir die groter gemeenskap en sangha in ’n meer beperkte sin vir die kloostergemeenskap.[3][5][6]
Die sangha is die derde van die Drie Juwele in Boeddhisme. Weens die versoekings van die lewe word die kloosterlewe beskou as die veiligste en mees geskikte omgewing om die pad na verligting en bevryding te volg.
Die sangha van monnike en nonne is aanvanklik in die 5de eeu v.C. deur Gautama Boeddha gestig om ’n manier te skep vir diegene wat die dharma voltyds wou beoefen, vry van die beperkings en verantwoordelikhede van die alledaagse lewe.[7] Die sangha bewaar ook die Boeddha se leringe en verskaf spirituele steun vir die leke-gemeenskap. Die sleutelaspek van die Boeddhistiese kloosterlewe is die navolging van die vinaya, wat ’n stel gedragsreëls is wat dinge soos selibaat en eet voor twaalfuur die middag insluit. Tussen twaalfuur en die volgende dag word ’n streng lewe van studie, dreunsang, meditasie en ander pligte gehandhaaf. Monnike en nonne mag net die minimum besittings hê. Kloosterlinge sien af van gewone klere en dra kloostergewade, wat gewoonlik aanmekaargewerk is uit ou klere.
Die woorde wat gewoonlik as monnik vertaal word, is bhikkhu in Pali of bhikshu in Sanskrit. Die vroulike vorm is bhikkhuni or bhikshuni. Dit beteken letterlik "bedelaar", "leerder";[8] dit was gebruiklik vir hulle om te bedel vir kos.
Die idee dat alle kloosterlinge vegetariërs is, is ’n Westerse beskouing. In sommige Mahayana-soetras word die eet van vleis sterk ontmoedig. In die Pali-tradisie eet monnike egter vleis solank die dier nie spesifiek vir hulle doodgemaak is nie, dus solank die vleis deur leke geskenk is. ’n Individu kan egter ’n vegetariër wees as hy dit verkies.[9]
Sommige geleerdes meen die Weste gebruik die term "sangha" verkeerdelik om enige soort Boeddhistiese gemeenskap aan te dui.[10] Die terme parisa en gana is volgens hulle meer aanvaarbare woorde vir ’n gemeenskap van Boeddhiste. Parisa beteken "volgelinge" en verwys na die vier groepe volgelinge: monnike, nonne, manlike leke en vroulike leke.[11] Die Sanskrit-term gana het die betekenis van "gemeente", "stam", "menigte", "reeks" en "klas" en word gewoonlik in ’n meer wêreldse sin gebruik.