Scott Joplin (24 November1868 – 1 April1917) was 'n Amerikaansekomponis en pianis. Hy is die "King of Ragtime" genoem,[1] en het meer as 40 "ragtime" stukke,[2] 'n "ragtime" ballet en twee operastukke gekomponeer. Een van sy mees geliefde stukke, die "Maple Leaf Rag", het die genre se eerste en mees gewilde treffer geword. Dit is later erken as dié essensiële "rag"stuk.[3] Joplin het "ragtime" beskou as 'n vorm van klassieke musiek wat bedoel was om in konsertsale gehoor te word, en het die uitvoering van ragtime in veral kroeë as sogenaamde "honky tonk" musiek verag.
Joplin het grootgeword in 'n musikale gesin van spoorwegarbeiders in Texarkana, Arkansas, en het sy eie musikale kennis ontwikkel met die hulp van plaaslike onderwysers. Terwyl hy in Texarkana was, het hy 'n kwartet vir stemme gestig en mandolien en kitaar geleer. Gedurende die laat 1880's het hy sy werk as spoorwegarbeider verlaat en deur die Amerikaanse Suide gereis as 'n rondreisende musikant. Hy is na Chicago vir die Wêreldtentoonstelling van 1893, wat gehelp het om teen 1897 van "ragtime" 'n nasionale gier te maak.
Joplin verhuis in 1894 na Sedalia, Missouri, en maak 'n bestaan as 'n klavieronderwyser. Daar het hy aan toekomstige ragtime-komponiste soos Arthur Marshall, Scott Hayden en Brun Campbell "ragtime" geleer. Hy het in 1895 musiek begin publiseer. Die publikasie van sy "Maple Leaf Rag" in 1899 het aan hom bekendheid besorg. Hierdie stuk het 'n diepgaande invloed op komponiste van "ragtime" gehad. Dit het ook vir Joplin 'n bestendige inkomste gebring. In 1901 het Joplin na St. Louis verhuis, waar hy voortgegaan het om te komponeer en te publiseer en gereeld opgetree het. In 1903 is die partituur van sy eerste opera, A Guest of Honor, gekonfiskeer —saam met sy besittings— vir nie-betaling van rekeninge (waarskynlik as gevolg daarvan dat hy beroof is). Dit word nou as verlore beskou.[4]
In 1907 het Joplin na New York verhuis om 'n vervaardiger vir 'n nuwe opera te vind. Hy het probeer om verder te gaan as die beperkings van die musikale vorm wat hom beroemd gemaak het, maar sonder veel geldelike sukses. Sy tweede opera, Treemonisha, is nooit volledig tydens sy lewe opgevoer nie. In 1916 het Joplin in demensie verval as gevolg van neurosifilis. In die middel van Januarie 1917 is hy opgeneem in 'n instituut vir kranksinniges, waar hy minder as drie maande later op die ouderdom van agt-en-veertig oorlede is. Joplin se dood het ook die einde van "ragtime" as 'n hoofstroommusiekgenre beteken; oor die volgende paar jaar het dit saam met ander style saamgesmelt in die musiekgenres "stride", jazz, en uiteindelik "swing".
Joplin se musiek is herontdek in die vroeë 1970's met die vrystelling van 'n opname waarvan miljoene eksemplare verkoop is; dit is opgeneem deur Joshua Rifkin.[5] Dit is gevolg deur die 1973-rolprent "The Sting" wat met 'n Oscar bekroon is. Verskeie van Joplin se komposisies word gebruik in die rolprent, met veral sy "The Entertainer" wat uitstaan. Treemonisha is uiteindelik in 1972 in volledige vorm opgevoer.
Jasen, David A. (1981). "Discography of 78 rpm Records of Joplin Works". In Lawrence, Vera Brodsky (red.). Scott Joplin Complete Piano Works. New York Public Library. ISBN0-87104-272-X.
Philip, Robert (1998). Rowland, David (red.). The Cambridge Companion to the Piano. Cambridge Companions to Music (Illustrated, reprint uitg.). Cambridge University Press. ISBN0-521-47986-X. Besoek op 17 April 2009.
Ryerson, Bill; Joplin, Scott (1973). Best of Scott Joplin: a Collection of Original Ragtime Piano Compositions. C. Hansen Music and Books. ISBN0-8494-0581-5.
Berlin, Edward A. (1998). "A Biography of Scott Joplin". The Scott Joplin International Ragtime Foundation. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Februarie 2007. Besoek op 14 November 2009.