Hierdie voorwerpe lê anderkant ’n oënskynlik amper leë gaping in die Sonnestelsel wat by sowat 50 AE begin en het geen noemenswaardige wisselwerking met die planete nie. Sommige sterrekundiges soos Scott Sheppard[4] beskou sednoïdes as binneste Oortwolkvoorwerpe (OWV's), hoewel die binneste Oortwolk, of Hillswolk, oorspronklik geraam is op ’n afstand van verder as 2 000 AE, anderkant die afeliums van die drie bekende sednoïdes.
Die sednoïdes se wentelbane kan nie verduidelik word aan die hand van versteurings deur die groot planete[5] of wisselwerkings met die galaktiese getye nie.[1] As hulle in hul huidige posisies gevorm het, sou hul wentelbane aanvanklik rond gewees het; anders sou akkresie (die samesmelting van klein liggame in groter liggame) nie moontlik gewees het nie omdat die groot relatiewe snelhede tussen planetesimale te steurend sou gewees het.[6] Hul huidige elliptiese wentelbane kan deur verskeie hipoteses verduidelik word:
Die voorwerpe se wentelbane en periheliums kon "gelig" gewees het deur ’n verbybewegende, nabygeleë ster toe die Son nog in sy skeppingsterreswerm was.[7][8]
Hul wentelbane kon versteur gewees het deur ’n nog onbekende planeet anderkant die Kuipergordel, soos die hipotetiese Planeet Nege.[9][10]
Hulle kon aangetrek gewees het vanaf verbybewegende sterre, heel waarskynlik in die Son se skeppingsterreswerm.[5][11]
Op 10 November 2015 is aangekondig V774104 is ’n derde kandidaatsenoïde. Hy is egter net twee weke lank waargeneem, wat te kort is om selfs te weet of sy perihelium buite Neptunus se invloed is.[15] Op 1 Oktober 2018 is aangekondig 2015 TG387 het ’n halwe lengteas van 1 094 AE. Met ’n afelium van 2 123 AE is die voorwerp verder as Sedna.
Voorgestelde meganismes vir Sedna se ongewone wentelbaan sal ook betrekking hê op die struktuur en dinamika van enige groter populasie. As ’n planeet anderkant Neptunus verantwoordelik is, sal alle soortgelyke voorwerpe rofweg dieselfde perihelium (≈80 AE) hê. As Sedna uit ’n ander planeetstelsel aangetrek is wat in dieselfde rigting as die Sonnestelsel draai, sal die hele populasie wentelbane met ’n relatief klein helling en ’n halwe lengteas van tussen 100 en 500 AE hê. As dit in die teenoorgestelde rigting draai, sal twee populasies vorm, een met ’n klein en een met ’n groot helling. Die versteurings van verbybewegende sterre sal ’n groot verskeidenheid periheliums en hellings veroorsaak, elk afhangende van die aantal en hoek van sulke wisselwerkings.[16]
As nog sulke voorwerpe gevind word, sal dit help bepaal watter scenario die waarskynlikste is.[17] "Ek noem Sedna ’n fossielrekord van die vroegste Sonnestelsel," het Brown in 2006 gesê. "Eindelik, wanneer ander fossielrekords gevind word, sal Sedna help om ons te vertel hoe die Son gevorm het en die aantal sterre wat naby die Son was toe dit gevorm het."[18] In ’n opname in 2007-2008 deur Brown, Rabinowitz en Schwamb is probeer om nog lede van Sedna se hipotetiese populasie op te spoor. Hoewel die opname sensitief was vir beweging tot by 1 000 AE en die moontlike dwergplaneet2007 OR10 ontdek is, is geen nuwe sednoïdes opgespoor nie.[17] Daaropvolgende simulasies wat die nuwe data gebruik het, het daarop gedui dat sowat 40 Sedna-grootte-voorwerpe waarskynlik in dié gebied voorkom, met die helderste een wat dieselfde magnitude as die dwergplaneet Eris het: −1.[17]
Ná die ontdekking van 2015 TG387 het Sheppard et al. afgelei dit beteken daar is sowat 2 miljoen binneste Oortwolkvoorwerpe groter as 40 km breed, met ’n totale massa van 1×1022 kg (verskeie kere die massa van die Asteroïdegordel).[19]
↑Sheppard, Scott S.; Jewitt, David (2005). "Small Bodies in the Outer Solar System"(PDF). Frank N. Bash Symposium. University of Texas at Austin. Besoek op 25 Maart 2008.
↑Gomes, Rodney S.; Matese, John J.; Lissauer, Jack J. (2006). "A distant planetary-mass solar companion may have produced distant detached objects". Icarus. 184 (2): 589–601. Bibcode:2006Icar..184..589G. doi:10.1016/j.icarus.2006.05.026.