Seelikkewaan | |
---|---|
Wetenskaplike klassifikasie | |
Koninkryk: | |
Filum: | |
Klas: | |
Orde: | |
Suborde: | |
Familie: | |
Genus: | Amblyrhynchus
|
Spesie: | A. cristatus
|
Binomiale naam | |
Amblyrhynchus cristatus |
Die Seelikkewaan (Amblyrhynchus cristatus) is 'n likkewaan wat die unieke eienskap onder moderne likkewane besit om onder water te kan oorleef en kos te soek. Die likkewane word slegs in die Galapagos-eilande gevind, maar het na al die eilande in die eilandgroep versprei. Hulle woon hoofsaaklik op die rotsagtige strande van Galapagos, maar kan soms ook in die moerasse en manglietstrande gevind word.
Tydens sy besoek aan die eilande, het Charles Darwin die likkewane se voorkoms walglik gevind, en die volgende oor hulle geskryf:
Seelikkewane is egter nie altyd swart nie: die jonger likkewane het 'n ligter dorsale streep en sommige van die volwassenes is grys, eerder as swart. Die rede vir die donker kleure is die spesie se behoefte om hitte so spoedig moontlik te absorbeer, ten einde die periode van letargie ná 'n tydperk in die water te verkort. Hulle eet amper uitsluitlik seewier, maar dit bevat egter meer sout as wat die reptiele nodig het. Seelikkewane het dus spesiale neuskliere waarmee hulle die oortollige sout kan uitnies terwyl hulle in die son lê en bak; gevolglik lyk hulle gesigte ook soms wit. Volwasse mannetjies se kleur verskil van seisoen tot seisoen. Tydens die paarseisoen is die mannetjies op die suidelike eilande die kleurvolste, met rooi en blougroen kleure. Die mannetjies op die eiland Santa Cruz is in hierdie seisoen baksteenrooi en swart, terwyl die mannetjies op Fernandina-eiland baksteenrooi en 'n dowwe groen is.
'n Ander verskil tussen die likkewane is hulle grootte, wat verskil van eiland tot eiland. Die likkewane op Fernandina- en Isabela-eilande is die grootste likkewane wat in die Galapagos aangetref word. Die kleinste likkewane word op die Genovesa-eiland aangetref.
Volwasse mannetjies is omtrent 1,3 m, terwyl die wyfies aansienlik kleiner is, met 'n gemiddelde lengte van 0,6 m. Die mannetjies kan tot 1,5 kg weeg.
Seelikkewane is koudbloedig en kan dus slegs 'n beperkte tyd onder water spandeer, waar hulle hulle kos vandaan kry. Hoe dieper hulle duik, hoe kouer is die water en hoe korter is die tyd wat hulle onder die oppervlak kan spandeer (wanneer hulle al hulle liggaamshitte verloor, verstyf hulle spiere en kan hulle nie meer beweeg nie). Deur in die vlak water (tot 15 m diep) om die eiland te swem, kan hulle afsonderlike duike van tot 'n halfuur onderneem. Die meeste duike duur egter slegs 'n paar minute en dan in besonder vlak water (tot 5 m diep).[3] Na die duike keer hulle terug na hulle gebied om in die son te bak en weer warm te word. Wanneer hulle koud is, kan die seelikkewaan nie effektief beweeg nie en is hy 'n maklike teiken vir hulle natuurlike vyande. Hulle word dus uiters aggressief vóór hulle opwarm: siende dat hulle nie in die periode kan weghardloop nie, sal hulle probeer om hulle aanvallers te byt. Die mannetjies word ook hoogs verdedigend tydens die broeiseisoen. Die mannetjies versamel groot groepe wyfies waarmee hulle sal paar, en beskerm die wyfies teen ander mannetjie-likkewane.