Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
Die skryf, stuur en lees van teksboodskappe, trouens enige selfoongebruik tydens bestuur word deur baie mense, insluitend owerhede, as uiters gevaarlik beskou, en is op sekere plekke óf verbied óf onwettig verklaar. (Voortaan sal "selfoongebruik" gebruik word, in plaas van die meer omslagtige "stuur en ontvang van teksboodskappe".)
Die wetenskaplike literatuur oor die gevare van selfoongebruik tydens motorbestuur is beperk, maar besig om toe te neem. Volgens 'n simulasiestudie aan die Monash University se Ongeluknavorsingsentrum is daar sterk bewyse dat die ontvang en veral stuur van teksboodskappe 'n nadelige uitwerking op 'n aantal veiligheidskritiese bestuurmaatreëls het.[1] Die negatiewe uitwerking was veral duidelik by bestuurders se waarneming van en reaksie op padtekens, die bespeuring van gevare, tyd wat oë nie op die pad is nie en (slegs vir die stuur van boodskappe) 'n laterale posisie.[2] 'n Ander simulasiestudie aan die University of Utah het bevind dat daar 'n sesvoudige toename in aandaggebrek-verwante ongelukke tydens selfoongebruik is.[3]
Volgens 89% van Amerikaanse volwassenes is selfoongebruik tydens bestuur "steurend, gevaarlik en moet dit onwettig verklaar word".[4] Die AAA Foundation for Traffic Safety het data vrygestel waarvolgens 87% mense selfoongebruik tydens bestuur as 'n "baie ernstige" gevaar beskou, byna gelykstaande aan die 90% ondervraagdes wat dronkbestuur as 'n bedreiging beskou. Ondanks hulle erkenning van die gevare van selfoongebruik agter die stuur, sê ongeveer helfte van die bestuurders egter dat hulle daaraan skuldig is.[5] Die Will Smith-rolprent Seven Pounds (2008) handel oor Will se karakter wat selfmoord pleeg sodat sy organe geskenk kan word om sewe mense se lewens te red in 'n poging om te vergoed vir die sewe mense wat dood is omdat hy 'n teksboodskap ontvang het terwyl hy bestuur het. Selfoongebruik het veral aandag getrek ná verskeie hoogsgepubliseerde padongelukke wat deur bestuurders veroorsaak is wat op hulle selfone besig was, insluitend 'n ongeluk in Mei 2009 waar 'n Boston-trembusbestuurder 'n botsing veroorsaak het terwyl hy vir sy meisie 'n boodskap gestuur het.[6] Die Chatsworth-treinbotsing waar 25 passasiers dood is, is ook aan selfoongebruik toegeskryf. Ondersoeke het aan die lig gebring dat die masjinis 45 teksboodskappe gestuur het terwyl hy die trein bestuur het. Ten spyte van hierdie voorvalle het selfoonmisbruik steeds gestyg. In 'n 2010-peiling aan die Fairleigh Dickinson University het 25% deelnemers erken dat hulle teksboodskappe stuur terwyl hulle bestuur, 10% hoër as die 15% wat in 2008 aangeteken is.[7]
Verskeie studies het gepoog om die gevare van selfoongebruik tydens motorbestuur met dronkbestuur te vergelyk. Een so 'n studie is in Junie 2009 deur die tydskrif Car and Driver onderneem.[8] Die studie het die reaksietye en remafstande van die subjekte vergelyk terwyl hulle 'n teksboodskap gelees het en daarop reageer het. Die remafstande het soos volg vergelyk:
In Maart 2012 het die VK se Instituut vir Gevorderde Motoriste 'n studie gepubliseer waarvolgens die gebruik van slimfone vir sosiale netwerk-aktiwiteite tydens motorbestuur gevaarliker is as om onder die invloed van alkohol of dagga te bestuur.[9]
Navorsing deur die Transport Research Laboratory het hierdie bevindings bevestig. Bestuurders se reaksietye tydens 'n selfoongesprek het met 46% afgeneem, tydens die skryf van teksboodskappe met 37%, en tydens loshand-oproepe met 27%. Diegene wat teen die limiet van 80 mg alkohol per 100 ml bloed bestuur het, se reaksietyd was 13% stadiger, en persone onder die invloed van dagga, 21% stadiger.[10][11]
In 'n studie deur die University of Buffalo is daar bevind dat 'n soortgelyke gewoonte – die stuur en ontvang van teksboodskappe terwyl jy loop – meer beserings as selfoonhantering tydens motorbestuur veroorsaak.[12]
Op 27 Julie 2009, het die Virginia Tech Transportation Institute voorlopige bevindings van hulle studie oor bestuurder-afgetrokkenheid in kommersiële voertuie bekendgemaak.[13] In verskeie naturalistiese bestuurstudies van langafstandvragmotors sowel as ligter voertuie wat saam 'n som van ses miljoen myl afgelê het, is videokameras gebruik om die bestuurders en die pad dop te hou. Die stuur en ontvang van teksboodskappe het die hoogste relatiewe risiko ingehou. Die studie het bevind dat bestuurders hulle oë vir normaalweg ses sekondes van die pad afneem, en dat gemiddeld 4,6 uit daardie ses sekondes gedurende veiligheidskritieke oomblikke was. Verder, wanneer daar teen 89 km/h gery word, en die bestuurder vir ses sekondes 'n boodskap stuur, kyk hy vir 4,6 sekondes van daardie tyd na sy foon terwyl hy 'n afstand van 'n voetbalveld aflê sonder dat sy oë op die pad is. Van die gevolgtrekkings van hierdie studie het ingesluit dat "die stuur en ontvang van teksboodskappe in bewegende voertuie vir alle bestuurders verbied behoort te word," en dat "enige selfoongebruik vir nuutgelisensieerde tienerbestuurders verbied moet word". Die resultate van die studie word hieronder gelys:
Selfoontaak | Risiko van 'n ongeluk |
---|---|
Ligte voertuig: Skakel | 2,8 keer hoër as onaangetaste bestuur |
Ligte voertuig: Praat/Luister | 1,3 keer hoër as onaangetaste bestuur |
Ligte Voertuig: Reik na elektroniese toestel | 1,4 keer hoër as onaangetaste bestuur |
Swaar Voertuie/Vragmotors: Skakel | 5,9 keer hoër as onaangetaste bestuur |
Swaar Voertuie/Vragmotors: Praat/Luister | 1,0 keer hoër as onaangetaste bestuur |
Swaar Voertuie/Vragmotors: Gebruik/Reik na elektroniese toestel | 6,7 keer hoër as onaangetaste bestuur |
Swaar Voertuie/Vragmotors: skryf/stuur teksboodskappe | 23,2 hoër as onaangetaste bestuur |
Die gewildheid van mobiele toestelle hou verskeie onopsetlike en selfs gevaarlike gevolge in. Die gebruik van mobiele toestelle word gekoppel aan 'n aansienlike toename in afgetrokke motorbestuur wat tot beserings en selfs sterftes lei.
In 2009 is daar berig dat sommige maatskappye, insluitend iZUP, ZoomSafer en Aegis Mobility stelsels gebruik wat deur middel van 'n selfoon se GPS-sein, data van die motor self of van nabygeleë selfoontorings, beperkings op selfoongebruik plaas.[19] Verder bied maatskappye soos TextNoMore 'n "opt-in"-oplossing wat gebruikers vir aktivering beloon.
In 2013 is die gebruik van liggingsgebaseerde tegnologie om potensiële selfoongebruik tydens bestuursituasies op te spoor, aangekondig.[20] Hierdie benadering maak gebruik van die GPS- en netwerkliggingsdienste van Android-selfone om die spoed te beraam waarteen die selfoon beweeg wanneer 'n teksboodskap gestuur word.
Die afgelope paar maande het verskeie staatspolisiemagte in Australië kameras begin toets wat die vermoë het om bestuurders wat hulle selfone gebruik, op 'n afstand van meer as 500 meter te identifiseer.[21] Die polisie in Wes-Australië maak gebruik van ongemerkte motorfietse om 'n oog op ander motoriste te hou; enige oortreding sal deur die motorfietsbeampte se helmkamera afgeneem word[22]
{{cite web}}
: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)