Griesmeel of semolina is die naam van grofgemaalde durumkoring wat hoofsaaklik gebruik word om koeskoes, pasta en soetpoedings te berei. Die term semolina word ook gebruik om growwe maalsels van ander variëteite van koring aan te dui, en soms ook ander korrels (soos rys of mielies).
Die moderne maal van koring tot meel is 'n proses wat gegroefde staalrollers gebruik. Die rollers is so verstel dat die spasie tussen hulle effens smaller is as die breedte van die koringpitte. Soos die koring in die meule ingevoer word, skil die rollers die semels en kiem af terwyl die stysel (of endosperm) in die proses in growwe stukke gekraak word. Deur sifting word hierdie endospermdeeltjies, die semolina, van die semels geskei. Die semolina word dan tot meel gemaal. Dit vereenvoudig die proses om die endosperm van die semels en kiem te skei aansienlik, en maak dit ook moontlik om die endosperm in verskillende grade te skei omdat die binneste deel van die endosperm geneig is om in kleiner stukke as die buitenste deel af te breek. Verskillende grade meel kan dus geproduseer word.[1]
Griesmeel gemaak van harde durumkoring (Triticum turgidum subsp. durum) is bleekgeel van kleur.[2] Dit kan óf grof óf fyn gemaal word, en albei word gebruik in 'n wye verskeidenheid soet en sout geregte, insluitend baie soorte pasta.
Algemene name in ander tale sluit in:
Griesmeel gemaak van gewone koring (Triticum aestivum) is beige van kleur. In die Verenigde State word dit farina genoem (nie te verwar met Italiaanse farina nie, wat gewone koringmeel is), en dit word meer dikwels vir nageregte as vir hartige kosse gebruik. Op die Indiese subkontinent kan gewone koringsemolina óf grof óf fyn gemaal word, en albei word in 'n wye verskeidenheid soet- en soutgeregte gebruik.