Die Senone, Senones of Senonii (Gallies: "Die ou mense") was 'n antieke Galliese stam wat rondom die Seine-rivierkom gewoon het (in hedendaagse Sens, in Frankryk) gedurende die La Tène-tydperk van die Europese ystertydperk en die Romeinse tydperk.
'n Deel van die Senone het hulle in die Italiaanse Skiereiland gevestig, waar hulle die Umbriërs tussen Ariminum (hedendaagse Rimini) en Ancona verdryf het. Hulle word in klassieke bronne beskryf as die leiers van die Galliese oorlogsbende wat Rome tydens die Slag van die Allia in 390 v.C. verower het. Hulle het 'n konstante bedreiging gebly totdat Rome hulle uiteindelik in 283 v.C. onderwerp het, waarna hulle uit die geskiedenisboeke verdwyn het.[1]
Polubios (2de eeu v.C.) noem die stam Sḗnōnes (Σήνωνες) en Sḗnōnas (Σήνωνας).[2] Caesar (middel-1ste eeu v.C.) noem hulle die Senonii,[3] en Diodorus Siculus (1ste eeu v.C.) noem die stam Sénnōnes (Σέννωνες),[4] terwyl Strabo (vroeë 1ste eeu n.C.) hulle Sénōnes (Σένωνες) noem[5] en Plinius (Iste eeu n.C.) hulle aangee as Senones.[6] Ptolemeus (2de eeu n.C.) noem die stam Sénones (Σένονες)[7] en Ammianus (4de eeu n.C.) gee hulle aan as Senones.[8][9]
Die Galliese etnoniem Senones word oor die algemeen geïnterpreteer as 'die oues', deur die naam af te lei van die Proto-Keltiese wortel *sen - ('oud'; vgl. Oudiers sen; Middel -Wallies hen 'oud') uitgebrei deur die agtervoegsel -on-es.[10][11] Pierre-Yves Lambert het 'n etomologie voorgestel uit die wortel *sen(H)-, wat 'verower, onderwerp, vernietig, verpletter' beteken.[12] In antieke tye het Servius die naam vergelyk met die Griekse ξενός ('gas-vriend, gasheer, vreemdeling').[13]
Die stad Sens, in die 4de eeu n.C. aangehaal as Senonas oppidum ('oppidum van die Senone'), is vernoem na die Galliese stam.[14]
Die Senone van Gallië het rondom hulle hoofstad Agedincum (hedendaagse Sens, in Frankryk) gewoon.[14]
Die Senone het by Bellovesus se migrasie na Italië aangesluit in omstreeks 600 v.C., saam met die Aeduii, Ambarri, Arverni, Aulerci en Carnute.[15]
In 400 v.C. het hulle die Alpe oorgesteek en Italië binnegeval tot by Rome, wat hulle toe geplunder het. Hulle het teruggetrek en die Umbriërs verdryf en hulle aan die ooskus van Italië gevestig. Hulle gebied het gestrek van Forlì tot Ancona en Terni, in Picenum of wat later die Ager Gallicus was. Hulle het Senigallia gestig, wat hul hoofstad geword het, en noordelike Picenum beset. In 391 v.C., onder die hoofman, Brennus, het hulle Etrurië binnegeval en Clusium beleër. Die Clusine het 'n beroep op Rome gedoen om hulp. Die Romeine het ondersteuning verleen, wat 'n oortreding van die nasieswet was. Die daaropvolgende oorlog het gelei tot die nederlaag van die Romeine tydens die Slag van die Allia (390 v.C.) en die plundering van Rome.
Vir meer as 100 jaar was die Senone gewikkel in Romeins-Galliese oorloë, totdat die Galliërs in 284 v.C. Arretium beleër het, die Etruskiese stad wat in 294 v.C. 'n wapenstilstand van 40 jaar met die Romeine aangegaan het. Die Romeine het die dorp te hulp gesnel en is tydens 'n veldslag onder die stadsmure verslaan. Rome het ambassadeurs na die Galliërs gestuur, maar hulle is vermoor. Die praetor Caecilius is saam met 'n leër gestuur om hulle moord te wreek, maar hy is deur die Etruskers en Galliërs vermoor, saam met 7 soldate en baie adellikes.[16][17] Uiteindelik het P. Cornelius Dolabella die Senone in 283 v.C. uit hul gebied verdryf.[18]
Dit is moontlik dat die Senone by Galliese stamme aangesluit het en sodoende versprei het rondom die Donau, Masedonië en Anatolië. Sena Gallica (tans Senigallia) het 'n Romeinse kolonie geword, om dit te onderskei van Sena Julia (Siëna) in Etrurië.
'n Tak van die Senone (of 'n ander stam met dieselfde naam) wat hul vanaf 53-51 v.C. gevestig het in die distrik (wat vandag die departemente Seine-et-Marne, Loiret en Yonne insluit) was in vyandelikhede gewikkel met Julius Caesar, wat veroorsaak is deur hulle uitsetting van Cavarius, wat hy as koning oor hulle aangestel het. In 51 v.C. het 'n Senoniër genaamd Drappes die Provincia gedreig, maar is gevange geneem en dood as gevolg van 'n hongerstaking. Vanaf hierdie tyd verdwyn die Galliese Senone uit die geskiedenisboeke. In latere tye is hulle opgeneem in Gallia Lugdunensis. Hulle hoofdorpe was Agedincum (later Senones, waarvan Sens afgelei is), Metiosedum (Melun; volgens A. Holder, Meudon) en Vellaunodunum (ligging onseker).
Hulle kontak met die Italiese bevolkings en sterk Etruskiese invloede het 'n tweerigting-kulturele osmose geskep wat 'n mate van integrasie met die inheemse bevolkings aandui, soms deur gemengde huwelike, soos byvoorbeeld die progressiewe Hellenisering van die Senone met die aanvaarding van tipiese gebruike van die Italiërs soos die verbruik van wyn en die ritueel van die simposium, en die verskyning van tipiese Keltiese artefakte soos swaarde en skedes van die La Tène-tipe in die Picene-nekropole van Numana, Arcevia, Camerano en San Filippo di Osimo. Hul teenwoordigheid in die Piceno-gebied, insluitend die vroeë tydperk onmiddellik na die nederlaag van die Senone en hul bondgenote, word gestaaf deur die inhoud van die grafte, veral begrafniskostuums. Die nedersettings is egter nie opgegrawe nie.
{{cite web}}
: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)