Die Sentinelese (ook genoem die Sentineli of Noord-Sentineleilanders) is die inheemse volk van Noord-Sentineleiland in die Andaman-eilande van Indië. Hulle beveg enige kontak met die buitewêreld en is ’n geïsoleerde volk, hoewel daar al beperkte kontak met hulle was.[3]
Die bevolking word geraam op 15 tot 500. In 2001 het amptenare van die Sensus van Indië[4] 21 mans en 18 vroue aangeteken. Dié opname is van ’n afstand gedoen en is dalk nie ’n akkurate weergawe van die eiland van 59,67 km2 se bevolking nie.[5] In die 2011-sensus is 12 mans en drie vroue getel.[1] Die gevolge van die aardbewing en daaropvolgende tsoenami in 2004 in die Indiese Oseaan is onbekend, behalwe bevestiging dat hulle die onmiddellike gevolge oorleef het.[6]
Die Oostenrykse skrywer Heinrich Harrer het een man beskryf as sowat 1,6 m lank en oënskynlik linkshandig.[7]
Die Sentinelese is ’n jagter-versamelaarvolk wat leef van jag, hengel en die bymekaarmaak van wilde plante. Daar is geen getuienis van landbou of die maak van vuur nie.[8] Hul taal, wat Sentinelees genoem word, is ongeklassifiseer en kan nie deur hul Jarawasprekende naaste bure verstaan word nie.[4]
Dit lyk of gevorderde metaalwerk onbekend is. Daar is egter al gesien dat hulle gebruik maak van metaalvoorwerpe wat op hul eiland uitgespoel of daar gelaat is.[9] Hulle kan yster skerpmaak en dit in hul wapens en ander voorwerpe gebruik.
↑Burman, B. K. Roy, red. (1990). Cartography for development of outlying states and islands of India: short papers submitted at NATMO Seminar, Calcutta, 3-6 Desember 1990. National Atlas and Thematic Mapping Organisation, Ministry of Science and Technology, Government of India. p. 203. OCLC26542161.
↑Master Plan 1991–2021 for Welfare of Primitive Tribes of Andaman and Nicobar Islands, Sec. II Ch. 21. Dept. of Tribal Welfare, Andaman and Nicobar Islands Administration; as reproduced in Andaman Book