Shaivisme (van Sanskrit शैव Śaiva, "wat tot Shiva behoort") is een van die vier groot tradisies in Hindoeïsme; die ander is Vaishnavisme, Shaktisme en Smartisme. Dit word ook Shivaïsme of Sjiwaïsme genoem, en die volgelinge daarvan Shivaïste of Sjiwaïste; hulle beskou Shiva as die oppergod of sy bosinnelike konsep van brahman.[1][2]
Nes ander Hindoetradisies is daar baie subtradisies in Shaivisme, wat wissel van gewyde dualistiese teïsme soos Shaiva Siddhanta tot jogageoriënteerde monistiese nieteïsme soos Kashmiri Shaivisme.[3][4][5] Dit beskou beide die Veda- en die Agama-geskrifte as belangrike teologiese bronne.[6][7][8]
Shaivisme het ’n antieke oorsprong, waarskynlik uit die Vediese letterkunde van die 2de millennium, maar dit is in die vorm van die Vediese godheid Rudra.[9] Die antieke geskrif Shvetashvatara Upanishad, wat van die 1ste millennium dateer, gebruik terme soos Rudra, Shiva en Maheshwaram,[10][11] maar die vertolking daarvan as ’n teïstiese geskrif word in twyfel getrek.[12][13] Die eerste duidelike bewyse van Pāśupata Shaivisme kom in die vroeë eeue n.C. voor.[9] Beide gewyde en monistiese Shaivisme het in die 1ste millennium gewild geraak en vinnig die oorheersende godsdienstradisie van baie Hindoekoninkryke geword.[9] Dit het kort daarna in Suidoos-Asië gewild geraak en duisende Shaiva-tempels is op eilande van Indonesië sowel as Kambodja en Viëtnam opgerig. Dit het in hierdie streke saam met Boeddhisme ontwikkel.[14][15]
Shaivisme is die Hindoetradisie wat die asketiese leefwyse die meeste aanvaar en veral klem lê op joga.[3][4][16] Dit is een van die grootste tradisies van Hindoeïsme.[17][18]
↑[a] Paul Deussen, Sixty Upanishads of the Veda, Volume 1, Motilal Banarsidass, ISBN 978-8120814684, pages 301-304; [b] R G Bhandarkar (2001), Vaisnavism, Saivism and Minor Religious Systems, Routledge, ISBN 978-8121509992, pages 106-111
↑Robert Hume (1921), Shvetashvatara Upanishad, The Thirteen Principal Upanishads, Oxford University Press, pages 400-406 with footnotes
↑A Kunst, Some notes on the interpretation of the Ṥvetāṥvatara Upaniṣad, Bulletin of the School of Oriental and African Studies, Vol. 31, uitg. 2, Junie 1968, ble. 309-314; doi:10.1017/S0041977X00146531
↑D Srinivasan (1997), Many Heads, Arms, and Eyes, Brill, ISBN 978-9004107588, ble. 96-97 en hfst. 9