Short Sunderland | |
---|---|
Tipe | Vliegboot en bomwerper |
Vervaardiger | Short Brothers |
Nooiensvlug | 16 Oktober 1937 |
Vrygestel | 3 September 1939 |
Status | Uit diens gestel |
Hoofgebruiker | Britse Lugmag |
Aantal gebou | 777 |
Ontwikkel van | Empire vliegboot |
Die Short Sunderland is 'n viermotorige Britse vliegboot en bomwerper wat tydens die Tweede Wêreldoorlog diens gedoen het en ook gebruik is tydens die Berlynse Lugbrug. Hierdie vliegtuig is die langsdienende vliegtuig ooit in die Britse Lugmag. Sy ontwerp is gebaseer op die C-klas Empire-vliegbote van Imperial Airways.
Die eerste prototipe (K 4774), ontwikkel na aanleiding van spesifikasie R.2/33, het op 16 Oktober 1937 sy nooiensvlug onderneem. Die vliegtuig was toegerus met 950 perdekrag Pegasus X motors.
Die Sunderland Mk I is in 1938 begin vervaardig en was toegerus met Pegasus XXII motors, herontwerpte neus en masjiengewere in die stert. Op 3 September 1939 was veertig reeds in diens van Britse Lugmageskaders. Negentig Mk I's is uiteindelik vervaardig waarvan 15 deur Blackburn vervaardig is. Hulle het ook 43 Mk II's gebou vanaf die einde van 1941.
Die Mk II was toegerus met Pegasus XVIII motors wat oor tweefase-turboaanjaers beskik het, met 'n tweegeweer Botha-tipe dorsale skiettoring wat die geweerpoorte aan die kante vervang het, 'n verbeterde skiettoring in die stert en ASV radar. Omrede die operasionele gewig van die vliegboot begin toeneem het, is die bodem verbeter wat gelei het tot die Mk III model.
Die eerste Mk III het op 15 Desember 1941 die eerste keer gevlieg. Short Brothers het eindelik 280 Mk III's gebou en Blackburn 170. Die Koninklike Australiese Lugmag het geëksperimenteer met vier masjiengewere in die neus om duikbote en ander vliegtuie aan te val. Die eksperiment was so suksesvol dat die meerderheid Mk III's so toegerus was. Dit het aanleiding gegee dat die Duitsers die vliegtuig die Stachelschwein (ystervark) gedoop het.
Die Mk IV was 'n groter, swaarder model toegerus met 1,700 perdekrag Bristol Hercules motors, agt .50 masjiengewere en twee 20 mm kanonne. Slegs twee prototipes en agt produksiemodelle is vervaardig en het bekend gestaan as die Short Seaford. Hulle is later omgeskakel na passasiers vliegtuie vir BOAC.
Die laaste militêre variant was die Mk V waarvan 100 deur Short Brothers en 50 deur Blackburn vervaardig is. Hulle was toegerus met 1,200 perdekrag Pratt & Whitney R-1830 Twin Wasp motors. Die ASV radar was ook verbeter. Hierdie model het in Februarie 1945 begin diens doen. Die Britse Lugmag het hulle in 1958 aan diens onttrek.
Na die Tweede Wêreldoorlog is 19 vliegtuie aan Aéronavale in Frankryk en 16 aan die Nieu-Seelandse Lugmag verskaf. Hulle het tot 1960 en 1966 onderskeidelik diens gedoen.
Hier is die besonderhede van die Mk I:
Item | Statistiek |
---|---|
Aantal motors | 4 |
Tipe motor | Skroef |
Vervaardiger | Britse Pegasus XXII stermotor |
Kraglewering per motor | 1010 perdekrag |
Vlerkspan | 34,34 m |
Lengte | 26,11 m |
Hoogte | 10,02 m |
Normale opstygmassa | 20 230 kg |
Maks. snelheid | 338 km/h op 1 981 m |
Operasionele hoogte | |
Togafstand met maksimum vrag | 2 865km |
Bewapening | Vier 0.303 Browing masjiengewere in stert, een 0.303 Vickers K of Lewis masjiengeweer in neus |
Bomvrag | 907 kg |