Shtetl (Jiddisj שטעטל, soms ook sjtetl,[1] uitgespreek sjtetl; meervoudsvorm שטעטלעך, shtetls; vergelyk die Duitse diminutief Städtlein, "stadjie") is 'n term wat voor die Tweede Wêreldoorlog gebruik is om na nedersettings (dikwels markdorpe) in Oos-Europa met 'n groot Joodse Jiddisjsprekende bevolkingsaandeel te verwys.[2]
Joodse shtetls was gewoonlik dorpe of klein stede, soms ook stadsdele, met 'n Joodse bevolking van tussen 1 000 en 20 000. Groter stede met beduidende Joodse gemeenskappe soos Lemberg (Lvov) of Czernowitz is daarenteen sjtot (שטאָט) - vergelyk Duits Stadt - genoem. In geografiese opsig was shtetlech in Oos-Pole, veral Galisië, maar ook in Oekraïne, Wit-Rusland en Litaue gekonsentreer.
Anders as in die groot stede van Oos-Europa is Joodse bewoners in die shtetls nie net geduld nie, maar ongeag die pogroms wat soms plaasgevind het, in 'n groot mate aanvaar. Hulle kon hulle hier tuis voel "soos in die heilige stad Jerusalem",[3] aangesien hierdie stadjies nie as ghetto's beskou is nie.