Sidney Poitier | |
Sidney Poitier, KBE
| |
Geboorte | 20 Februarie 1927 Miami, Florida, Verenigde State |
---|---|
Sterfte | 06 Januarie 2022 (op 94) Los Angeles, Kalifornië, Verenigde State |
Nasionaliteit | Amerikaans, Bahamiaans |
Beroep(e) | Akteur, regisseur, skrywer, diplomaat |
Aktiewe jare | 1943–2001 (as akteur) |
Internet-rolprentdatabasis-profiel |
Sir Sidney Poitier, KBE[1] (20 Februarie 1927 - 6 Januarie 2022) was ’n Amerikaansgebore Bahamaanse akteur, regisseur, skrywer en diplomaat.
Hy was in 1964 die eerste swart persoon wat ’n Oscar as beste akteur gewen het,[2] vir sy rol in Lilies of the Field. Hy het dié eer in 1967 gestand gedoen deur in drie suksesvolle rolprente te speel: To Sir, with Love, In the Heat of the Night en Guess Who's Coming to Dinner – dit het hom die suksesvolste ster van die jaar by die loket gemaak. In 1999 het die American Film Institute hom aangewys as een van die grootste sterre van alle tye (no. 22 op die lys van die top-25).
Poitier het verskeie gewilde rolprente geregisseer, soos A Piece of the Action, Uptown Saturday Night, Let's Do It Again (saam met sy vriend Bill Cosby) en Stir Crazy (met Richard Pryor en Gene Wilder). In 2002, 38 jaar ná sy eerste Oscar, het hy ’n ereprys ontvang vir sy "merkwaardige prestasies as kunstenaar en mens".[3]
Hy was van 1997 tot 2007 die Bahamas se ambassadeur in Japan. Op 12 Augustus 2009 het die Amerikaanse president, Barack Obama, die Presidensiële Vryheidsmedalje, die VSA se hoogste burgerlike toekenning, aan Poitier toegeken.[4]
Poitier is in Miami gebore terwyl sy ouers, Reginald James en Evelyn Poitier,[5] op besoek aan Amerika was. Omdat hy in Amerika gebore is, het hy outomaties Amerikaanse burgerskap gekry.[6] Hy het op Cat Island in die Bahamas grootgeword en later na Miami verhuis, waar sy ouers tamaties en ander produkte van hul plaas op Cat Island verkoop het.
Op 17-jarige oudersom het hy in New York gaan woon, waar hy ’n skottelgoedwasser was. Hy het daarna by die Amerikaanse weermag aangesluit. Later hy ’n geslaagde oudisie afgelê by die American Negro Theater en in van hul produksies gespeel.[7][8]
Poitier was nie gewild by die American Negro Theater nie omdat hy toondoof was en nie kon sing nie.[9] In die volgende ses maande het hy hom daarop toegespits om sukses as akteur te behaal deur sy toneelspel te verbeter en van sy Bahamaanse aksent ontslae te raak. Hierna het hy ’n hoofrol in die Broadway-stuk Lysistrata gekry, waarvoor hy goeie resensies ontvang het. Teen einde 1949 moes hy kies tussen ’n hoofrol in ’n toneelstuk en ’n aanbod om saam met Darryl F. Zanuck te werk aan die prent No Way Out (1950). Hy die rolprent gekies en sy spel het hom verdere rolle besorg – interessanter en groter as die rolle wat in dié tyd vir ander swart akteurs beskikbaar was.
In 1959 was Poitier die eerste swart man wat vir ’n Oscar vir beste akteur benoem is, vir sy spel in The Defiant Ones (1958). In 1964 was hy die eerste swart akteur wat die Oscar in dié kategorie gewen het, vir Lilies of the Field (1963).
Hy het in 1959 in die eerste produksie van A Raisin in the Sun op Broadway gespeel en later dieselfde rol in die rolprentweergawe vertolk wat in 1961 uitgereik is. Hy het ook aandag getrek in The Bedford Incident (1965) en A Patch of Blue (1965). In 1967 het die kommersiële toppunt van sy loopbaan bereik met drie gewilde prente: Guess Who's Coming to Dinner, To Sir, with Love en In the Heat of the Night. In laasgenoemde prent het sy suksesvolste karakter vertolk: dié van Virgil Tibbs, ’n speurder van Philadelphia. Tibbs se latere loopbaan is uitgebeeld in twee opvolgprente, They Call Me MISTER Tibbs! (1970) en The Organization (1971).
Poitier het onder kritiek begin deurloop omdat hy dieselfde, geïdealiseerde swart karakters vertolk sonder enige persoonlikheids- of seksuele foute, soos sy karakter in Guess Who's Coming To Dinner. Poitier self wou meer uiteenlopende rolle hê, maar het ook verplig gevoel om ’n goeie voorbeeld te stel met sy karakters en vorige stereotipes uit die weg te ruim aangesien hy die enigste prominente swart akteur van dié tyd in die Amerikaanse rolprentbedryf was. Hy het juis om dié rede die naamrol in Othello van die hand gewys.[10] In 2002 het hy ’n ereprys op die 74ste Oscar-toekenningsaand gekry vir sy bydrae tot die rolprentbedryf.
Poitier was die regisseur van verskeie rolprente, waarvan die suksesvolste die komedie Stir Crazy met Richard Pryor en Gene Wilder was. Dit was jare lank die kommersieel suksesvolste prent wat deur ’n swart persoon geregisseer is.[11] In die western Buck and the Preacher het hy ook gespeel, saam met Harry Belafonte. Poitier, Bill Cosby en Belafonte het saamgewerk aan Uptown Saturday Night met Poitier as regisseur. Hy het Cosby ook in Let's Do It Again, A Piece of the Action en Ghost Dad geregisseer.
Van 1995 tot 2003 het hy gedien in die direkteursraad van die Walt Disney Company.[12]
Hy was van 1997 tot 2007 die Bahamas se ambassadeur in Japan. Hy was ook die Bahamas se ambassadeur in Unesco.
Jaar | Titel | Rol | Notas |
---|---|---|---|
1947 | Sepia Cinderella | Ekstra | Nie op naamrol |
1949 | From Whence Cometh My Help | Homself | Dokumentêr |
1950 | No Way Out | Dr. Luther Brooks | |
1951 | Cry, the Beloved Country | Eerw. Msimangu | |
1952 | Red Ball Express | Kpl. Andrew Robertson | |
1954 | Go, Man, Go! | Inman Jackson | |
1955 | Blackboard Jungle | Gregory W. Miller | |
1956 | Good-bye, My Lady | Gates Watson | |
1957 | Edge of the City | Tommy Tyler | Bafta-benoeming vir beste akteur in ’n hoofrol |
1957 | Something of Value | Kimani Wa Karanja | |
1957 | Band of Angels | Rau-Ru Ponce de Leon | |
1957 | The Mark of the Hawk | Obam | |
1958 | Virgin Island | Marcus | |
1958 | The Defiant Ones | Noah Cullen | Bafta vir beste akteur in ’n hoofrol Silver Bear vir beste akteur[13] Oscar-benoeming vir beste akteur Golden Globe-benoeming vir beste akteur in ’n drama |
1959 | Porgy and Bess | Porgy | Golden Globe-benoeming vir beste akteur – musiekprent of komedie |
1960 | All the Young Men | Sers. Eddie Towler | |
1961 | A Raisin in the Sun | Walter Lee Younger | Bafta-benoeming vir beste akteur in ’n hoofrol Golden Globe-benoeming vir beste akteur in ’n drama |
1961 | Paris Blues | Eddie Cook | |
1962 | Pressure Point | Dokter | |
1963 | The Long Ships | Aly Mansuh | |
1963 | Lilies of the Field | Homer Smith | Oscar vir beste akteur Golden Globe-benoeming vir beste akteur in ’n drama Bafta-benoeming vir ’n hoofrol Silver Bear vir beste akteur[14] |
1965 | The Bedford Incident | Ben Munceford | |
1965 | The Greatest Story Ever Told | Simon van Sirene | |
1965 | A Patch of Blue | Gordon Ralfe | Bafta-benoeming vir beste hoofrol Golden Globe-benoeming vir beste akteur in ’n drama |
1965 | The Slender Thread | Alan Newell | |
1966 | Duel at Diablo | Toller | |
1967 | To Sir, with Love | Mark Thackeray | |
1967 | In the Heat of the Night | Virgil Tibbs | Bafta-benoeming vir ’n hoofrol, Golden Globe-benoeming vir beste akteur in ’n drama |
1967 | Guess Who's Coming to Dinner | Dr. John Wade Prentice | |
1968 | For Love of Ivy | Jack Parks | |
1969 | The Lost Man | Jason Higgs | |
1970 | King: A Filmed Record... Montgomery to Memphis | Verteller | Dokumentêr |
1970 | They Call Me MISTER Tibbs! | Virgil Tibbs | |
1971 | Brother John | John Kane | |
1971 | The Organization | Virgil Tibbs | |
1972 | Buck and the Preacher | Buck | |
1974 | A Warm December | Matt Younger | |
1974 | Uptown Saturday Night | Steve Jackson | |
1975 | The Wilby Conspiracy | Shack Twala | |
1975 | Let's Do It Again | Clyde Williams | |
1977 | A Piece of the Action | Manny Durrell | |
1979 | Paul Robeson: Tribute to an Artist | Verteller | Kortprent |
1988 | Shoot to Kill | Warren Stantin | |
1988 | Little Nikita | Roy Parmenter | |
1992 | Sneakers | Donald Crease | |
1994 | A Century of Cinema | Homself | Dokumentêr |
1996 | Wild Bill: Hollywood Maverick | Homself | Dokumentêr |
1996 | To Sir, with Love II | Mark Thackeray | |
1997 | The Jackal | Carter Preston | |
2001 | Ralph Bunche: An American Odyssey | Verteller | Dokumentêr |
2004 | Tell Them Who You Are | Homself | Dokumentêr |
2008 | Mr. Warmth: The Don Rickles Project | Homself | Dokumentêr |
Jaar | Titel |
---|---|
1972 | Buck and the Preacher |
1973 | A Warm December |
1974 | Uptown Saturday Night |
1975 | Let's Do It Again |
1977 | A Piece of the Action |
1980 | Stir Crazy |
1982 | Hanky Panky |
1985 | Fast Forward |
1990 | Ghost Dad |