'n Sintetiese klavier of sintetiseerder is 'n elektroniese toestel wat 'n verskeidenheid klanke kan produseer deur seine van verskillende frekwensies te genereer en te kombineer. Sintetiseerders skep elektriese seine eerder as direkte akoestiese klanke, wat dan deur 'n luidspreker of stel kopfone gespeel word.
Sintetiseerders word gewoonlik (maar nie eksklusief nie) deur 'n musikale toetsbord in die styl van die klavier beheer. Sintetiese klaviere kan 'n wye reeks klanke produseer wat ander instrumente kan naboots (soos dwarsfluite, kitare en selfs tromme), of dit kan heeltemal nuwe klankkleure ((en) "timbres") genereer.
Die eerste elektriese sintetiseerder is in 1876 deur Elisha Gray uitgevind (hy is bekend vir sy rol in die ontwikkeling van 'n telefoonprototipe).[1][2] Robert Moog het 'n rewolusionêre sintetiseerder geskep wat op Wendy Carlos se Switched-On Bach (1968), 'n gewilde opname wat vele musici aan die klank van sintetiseerders voorgestel het, gebruik is. In die 1970's het die ontwikkeling van verkleinde vastetoestand komponente toegelaat dat sintetiseerders vrystaande, beweeglike instrumente kon word, wat dit makliker gemaak het om hulle in musiekkonserte te gebruik. Teen die vroeë 1980's het maatskappye soos Yamaha kompakte, redelik geprysde sintetiseerders soos die DX7 begin verkoop, en MIDI (musikale-instrument-digitale-koppelvlak) is ontwikkel, wat dit vereenvoudig het om sintetiseerders met ander elektroniese instrumente te integreer en te sinchroniseer. In die 1990's het ingewikkelde sintetiseerders nie meer spesialishardeware geverg nie en het hulle as sagteware vir die persoonlike rekenaar (PR) begin verskyn, gewoonlik as hardeware-emuleerders met aan-skerm knoppies en panele.