Sirin (Russies: Си́рин) is ’n figuur in die Russiese mitologie met die lyf van ’n voël (gewoonlik ’n uil) en die gesig en bors van ’n vrou. Volgens legende het die Sirins "in Indiese lande" naby die paradys gewoon of rondom die Eufraatrivier.[1][2]
Die legende van die Sirins het Kiëf-Roes moontlik in die 8ste – 9de eeu bereik deur Persiese handelaars. In die stede Tsjersonesos en Kiëf is hulle dikwels gevind op potte, goue hangertjies en in boeke.[3]
Hierdie halfvroue is regstreeks geskoei op die sirenes van die Griekse mitologie.[4][2][5]
Sirins word gewoonlik uitgebeeld met ’n kroon of stralekrans.[3] Hulle het pragtige liedere vir die heiliges gesing waarin hulle van toekomstige vreugdes vertel het. Vir gewone mense was die voëls egter gevaarlik. Mans wat hulle hoor sing het, sou alles op aarde vergeet, hulle volg en uiteindelik sterf. Mense sou hulleself probeer red van die Sirins deur kanonne af te vuur, klokke te lui of ander harde geluide te maak om die voëls te verjaag.[4]
Later (van die 17de tot 18de eeu) het die beeld van die Sirins verander en het hulle wêredharmonie begin simboliseer. Mense in dié tyd het geglo net waarlik gelukkige mense kon die Sirins hoor, terwyl bitter min hulle kon sien aangesien hulle so vinnig en moeilik was om in die hande te kry soos menslike geluk.
Hulle het ewige vreugde en hemelse geluk gesimboliseer.[6]
Soms word Sirins beskou as ’n metafoor vir God se woord wat die siel van ’n mens binnegaan of selfs as ’n metafoor vir ketters wat swakkelinge probeer verlei. Hulle word ook soms beskou as die eweknieë van die Poolse feetjies Wili.
![]() |
Wikimedia Commons bevat media in verband met Sirin. |