Wanneer dit na ’n gemengde drankie verwys, kan skemerkelkie enige drankie beteken met een of meer bestanddele, waarvan minstens een alkohol bevat.
Die eerste aangetekende gebruik van die Engelse woord cocktail was op 20 Maart 1798 in The Morning Post and Gazetteer in London, England.[1] Die eerste definisie van die woord as ’n alkoholiese drankie kom voor in die uitgawe van 13 Mei 1806 van The Balance and Columbian Repository, ’n publikasie in Hudson, New York. In Afrikaans het die neologisme "skemerkelkie" ingeburger geraak om die Engelse term, wat internasionaal gebruiklik is (so onder meer in Nederlands en Duits), te vermy, net soos skemerkroeg (cocktail bar).[2]
Daar is onduidelikheid oor die oorsprong van die skemerkelkie.[3] Dit was tradisioneel ’n mengsel van spiritualieë, suiker, water en bitters.[4] Teen die 1860's het dit egter dikwels ’n likeur bevat.[5][6]
Die eerste kroeggids wat skemerkelkies ingesluit het, was in 1862: How to Mix Drinks; or, The Bon Vivant's Companion, deur Jerry Thomas. Onder die baie soorte drankies was daar 10 resepte vir "skemerkelkies". ’n Sleutelbestanddeel wat dié drankies van ander onderskei het, was bitters.
Tydens die Amerikaanse drankverbod (1919–1933), toe alkoholiese drankies verbode was, is skemerkelkies steeds onwettig gedrink.[7] Jenewer is gedrink in plaas van whisky omdat dit nie hoef te verouder nie en dus makliker was om onwettig te vervaardig.[8] Heuning, vrugtesap en ander smaakmiddels is bygevoeg om die smaak van die swakker soorte drank te verdoesel. Soet skemerkelkies was makliker om vinnig te drink, en dit was belangrik omdat niemand geweet het wanneer die volgende klopjag sou plaasvind nie.
Skemerkelkies het in die 1960's en 1970's minder gewild geraak, totdat dit in die 1980's ’n heropbloei beleef het met ander drankies in die plek van jenewer. Tradisionele skemerkelkies het in die 2000's weer ’n terugkeer beleef.[9]